Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Amerika se ondemokratiese kapitalisme verkeer in 'n ernstige oorlewingskrisis


Sampie Terreblanche - 2011-09-08

Die kapitalisme kan nie in ’n politieke (of staatkundige) vakuum bestaan nie. Die kapitalisme is te alle tye ’n deel van ’n tweeledige politiek-ekonomiese stelsel waar ’n ondemokraties-verkose of ’n demokraties-verkose staat die politieke “sy” van die tweeledige politiek-ekonomiese stelsel vorm en waar kapitalisme die ekonomiese “sy” van die tweeledige stelsel vorm.

Die kapitalisme het te alle tye ’n staat nodig wat die wetlike raamwerk moet skep en/of die bemagtigingsvoorwaardes vir kapitalisme moet voorsien.

Die wieg van die kapitalisme staan in die Italiaanse staatstate van die 15de en 16de eeue. In die 17de eeu het kapitalisme in Nederland (1648) en in Engeland (1688) ontwikkel.

Die hoogaangeskrewe historikus Fernand Braudel (1977:64–5) definieer kapitalisme soos volg:

Capitalism only triumphs when it becomes identified with the State, when it is the state. In its first great phase, that of the Italian city-states of Venice, Genoa and Florence, power lay in the hands of the moneyed elite. In the seventeenth century Holland, the aristocracy of the Regents governed for the benefit and even according to the directive of the businessmen, merchants and money lenders. Likewise, in England the Glorious Revolution of 1688 marked the occasion of business similar to that in Holland. (Beklemtoning in die oorspronklike.)

Giovanni Arrighi (2007:332–3) stem saam met Braudel se definisie van kapitalisme:

Add as many capitalists as you like to a market economy, but unless the State has been subordinated to their class [the capitalist class] interest, the market economy remains non-capitalist. Within China, large business organizations control extensive networks of commercial intermediaries … [but] capitalists remain a subordinate social group with no capacity to subject the general interest to their own class interest … [Consequently] China remains non-capitalist.

Vir die 300 jaar wat van sê 1650 tot 1950 strek, was die politieke mag in alle Westerse lande in die hande van die kapitalistiese en/of  bourgeoisie elite en is al hierdie lande op so ’n wyse regeer dat die eng klassebelang van die kapitalistiese klas te alle tye voorrang geniet het bo die bevordering van die algemene belang. Die politiek-ekonomiese stelsel wat van 1650 tot 1950 bestaan het in alle Westerse lande, was dus ’n stelsel van ondemokratiese kapitalisme. In hierdie 300 jaar het kapitaliste-gedrewe Westerse empires lande in die Suide meedoënloos uitgebuit.

Gedurende hierdie 300 jaar het politieke mag in die hande van absolute konings of in die hande van ondemokraties-verkose parlemente gesetel. Brittanje het in 1688 ’n parlementêre stelsel gekry, maar slegs twee persent van die bevolking kon stem Stemreg is geleidelik uitgebrei, maar Brittanje – en die ander Westerse lande – het eers verteenwoordigende demokrasie in die tiende jaar ná die Eerste Wêreldoorlog gekry. Vanweë die Groot Depressie en die Tweede Wêreldoorlog het demokraties-verkose regerings eers in omstreeks 1950 operasioneel geword. Toe was die politiek-ekonomiese stelsel van Westerse lande vir die eerste keer ooit ’n stelsel van demokratiese kapitalisme.

Gedurende die 300 jaar toe ondemokratiese kapitalisme bestaan het, het die binnelandse verdeling in alle Westerse lande al hoe ongelyker geraak (met die moontlike uitsondering van enkele Skandinawiese lande).

Oor die afgelope 60 jaar (1950 tot 2010) het ’n merkwaardige patroon in alle Westerse lande ontplooi. Van 1950 tot 1980 het alle Westerse lande se binnelandse inkomste merkwaardig gelyker verdeel geraak, maar van 1980 tot 2010 het die binnelandse verdelings van alle Westerse lande skerp ongelyk verdeel geraak en was die verdeling in 2010 ongelyker as dié in 1950.

Die gelyker en ongelyker verdelings in twee opeenvolgende tydperke van 30 jaar was nie toevallig nie. Die twee tydperke verteenwoordig twee ideologiese regimes: die sosiaal-demokratiese regime van 1950 tot 1980 en die neoliberale regime van 1980 tot 2010.

Van 1950 tot 1980 het die energieke kapitalistiese perd ’n demokraties-verkose ruiter gehad wat sterk genoeg was om die kapitalistiese perd so sterk in die bek te ruk dat hy die rytuig van die volkshuishouding in die rigting van die algemene belang getrek het. Dit was die Goue Era van sosiaal-demokratiese kapitalisme.

In hierdie 30 jaar het Westerse lande hulle sosiaal-ekonomiese doelstellings merkwaardig verwesenlik: volle indiensneming, prys- en wisselkoersstabiliteit, ’n gelyker verdeling van inkomste, terwyl armoede grootliks opgehef is.

Die VSA het egter ’n rampspoedige 1970’s beleef. Hy het die Viëtnamese en die Israel-Egiptiese oorloë verloor; OPUL het die olieprys laat styg; stagflasie het ingetree; Watergate het die VSA se aansien geknou; terwyl die Irannese krisis tot ’n tweede olieskok gelei het.

Vanaf Roosevelt se New Deal (1933) en vanaf die sosiaal-demokratiese konsensus wat Westerse lande in die eerste vyf jaar na die Tweede Wêreldoorlog bereik het, was die groot transnasionale korporasies (TNK’s) aan streng regulasies onderworpe en was dit moontlik vir die demokraties-verkose regerings in die Westerse wêreld om die TNK’s na wense tot verantwoording te roep vir hulle wandade en hulle negatiewe eksternaliteite. In 1970 was daar nog minder as 10 000 TNK’s. Dit het intussen vermeerder tot meer as 50 000, waarvan ’n driekwart in die VSA gedomisilieer is of multinasionale korporasies geword het.

In die vroeë 1980’s het die Amerikaanse TNK’s Reagan oortuig om die sosiaal-demokratiese regime met ’n neoliberale regime te vervang. Reagan het met sy regse neoliberale kontrarevolusie die regulatiewe raamwerke afgeskaf en vir die TNK’s die vryheid, die mag en die “ruimte” gegee om wêreldwyd (in die globale ekonomie) te maak en breek soos hulle wil om vir die VSA inkomste te akkumuleer sodat Amerika uit sy verknorsing gelig kon word.

Terwyl demokraties-verkose ruiters (regerings) van 1950 tot 1980 die kapitalisties-georiënteerde perde (TNK’s) na wense kon dissiplineer, sodat hulle die waens van die volkshuishoudings in die rigting van die algemene belang getrek het, galop daar sedert die vroeë 1980’s duisende wildeperde (TNK’s) wêreldwyd rond – veral in suidelike lande – waar hulle waens trek, maar ook sosiaal-ekonomiese en ekologiese verwoesting saai. Die per kapita-inkomste van die Suide as ’n persentasie van die per kapita-inkomste van die Weste daal steeds, terwyl besoedeling in die Suide die hoogte inskiet.

Die wildeperde word nie meer deur hulle eie regerings tot verantwoordbaarheid gedissiplineer nie (en kán ook nie). Die regerings van die suidelike lande – waar die wildeperde die meeste skade berokken – is nog minder in staat om die “buitelandse” wildeperde tot verantwoordbaarheid te dissiplineer.

Soos wat die TNK’s voor 1950 nie deur die kapitalisties-vriendelike en ondemokraties-verkose regerings tot verantwoordbaarheid gedissiplineer is nie, so word die TNK’s sedert die vroeë 1980’s ook nie deur die regerings wat “formeel” demokraties verkies is, maar in werklikheid  soos  ondemokraties-verkose regerings optree, gedissiplineer nie.

Reagan se neoliberale kontrarevolusie het ’n Amerikaans-geleide neoliberale, globale en postkoloniale empire geskep wat deur die magtige Amerikaanse weermag op alle lande in die wêreld afgedwing is.

Sedert die regulatiewe raamwerke afgeskaf is, en sedert Westerse regerings hulle nie meer oor die gedrag van hulle TNK’s verantwoord nie, het Westerse TNK’s die “mag” en die “vryheid” om “industriële vennootskappe” met instansies (of korporasies) in suidelike lande te sluit. Sedertdien het die TNK’s hoofsaaklik industriële vennootskappe gesluit met suidelike lande wat nie met groot skuldlaste opgesaal is nie, maar wat oor redelik geskoolde, redelik goedkoop en goed-gedissiplineerde arbeid beskik. Die Westerse TNK’s voorsien aan hierdie vennootskappe ’n deel van die kapitaal en hoogs ontwikkelde Westerse tegnologie (wat deur die reëls van die WHO verskans word). Hierdie “industriële vennootskappe” in suidelike lande produseer kwaliteit-verbruiksgoedere wat spotgoedkoop na Westerse lande uitgevoer word.

Die “kombinasie” van Westerse tegnologie en veral Oosterse goedkoop arbeid het ’n “wenresep” geblyk te wees, solank Westerse lande (wat hoog opgee oor menseregte) hulle oë dig geslote hou vir die verkragting van menseregte wat in die “industriële vennootskappe” in die suide gepleeg word.

Die industrialisasie van sommige suidelike lande (in Asië en in sommige Latyns-Amerikaanse lande) het tot die gedeeltelike de-industrialisasie van die VSA en ander Westerse lande gelei. Dit het industriële werkloosheid in Westerse lande veroorsaak en dit is die vernaamste rede waarom hulle inkomste sedert 1980 weer skerp ongelyk verdeel geraak het.

Vanaf 1974 tot 2007 het arbeidsproduktiwiteit in die VSA van ’n indeks van 100 tot 200 gestyg, terwyl lone van 100 tot slegs 120 gestyg het. Die inkomste van die rykste 1 persent in die VSA het van 1976 tot 2007 gestyg van 9 persent tot 23,5 persent van totale inkomste, terwyl die inkomste van die armste 50 persent gedaal het van 15,6 persent tot slegs 12,6 persent van totale inkome. Werkloosheid is tans rondom 10 persent.

Die eiendom van die rykste 1 persent in die VSA het van 40 persent in 1930 tot 20 persent in 1970 gedaal, maar weer tot 40 persent gestyg in 1995. Tans is dit nog hoër.

Met die opkoms van die Amerikaans-geleide neoliberale empire het die TNK’s in alle Westerse lande so sterk (en so vernuftig) geword dat alle Westerse regerings (en ook die regerings van suidelike lande) aan ’n proses van dedemokratisering onderworpe is. Die politiek-ekonomiese stelsel van demokratiese kapitalisme van 1950 tot 1980 is sedertdien omvorm tot ’n  stelsel van ondemokratiese kapitalisme waarin die groot korporasies die septer swaai.

Joseph Stiglitz (2002:21–2) stel dit so:

Unfortunately we have no world government, accountable to the people of every country, to oversee the globalization process … Instead we have a system that might be called global governance without global government, one in which a few institutions – the World Bank, the IMF, the WTO – and a few players – the finance, commerce and trade ministries, closely linked to certain financial and commerce interest – dominate the scene, but in which many of those [in the Southern world] affected by their decisions are left almost voiceless. (Beklemtoning in die oorspronklike.)

Jorge Nef en Berndt Reiter (2009:138, 168) beweer kategories dat die groot oligopolitiese konglomerate wat kwansuis “te groot is om bankrot te raak”, multinasionale kapitalistiese instellings is wat demokraties-verkose regerings “ontmagtig”:

A potentially antidemocratic trend throughout the globe is the effort by socio-economic elites and their institutional intellectuals to circumvent established democratic traditions and make politics “governable”. The trend of creating “limited” democracies, responsive to market (that is elite) forces, constitutes an attempt to reduce participation and depoliticize politics … [The crisis of democracy’s] contemporary dimensions [in the United States] are unequivocally connected to the encroachment of the National Security state and the alienation of popular sovereignty to the plutocratic and oligarchy practices of unrestricted markets.

Noam Chomsky (Irish Times, 10 October 2008) beweer dat die gedereguleerde finansiële markte op ’n berekende wyse risiko te laag “prys” omdat hulle weet dat die staat nie hierdie markte sal toelaat om te misluk nie. Gevolglik is hierdie markte “sistemies ondoeltreffend” en het hulle (en die te groot korporasies) “virtuele parlemente” geword wat demokratiese regerings intimideer om die belange van die “geld-elite” bo die algemene belang te bevorder.

Dit staan soos ’n paal bo water: die stelsel van ondemokratiese kapitalisme wat van 1650 tot 1950 in die Weste bestaan het, is sedert 1980 weer in ere herstel – of is dit ’n geval dat dit tot skande ’n tweede lewe gegun word?

Om die oorlewingskrisis van ondemokratiesekapitalisme in die VSA volledig te verduidelik, is dit nodig dat ek die “metamorfose” wat veral die Amerikaanse kapitalisme in die 20ste eeu deurloop het, ook aan die orde sal stel.

In die 1920’s het Amerikaanse produktiwiteit en hul BNP so vinnig gestyg dat die Amerikaners begin vrees het dat hulle kronies met oorproduksie en oorkapasiteit opgeskeep sou sit. Dit Groot Depressie het hierdie vrees tot ’n obsessie laat ontwikkel. As “oplossing” vir die oorproduksie-“angs” het die Amerikaners hulle toevlug tot “consumerism” en/of “consumptionism” geneem. Na die Tweede Wêreldoorlog het Europa veramerikaans geraak en na 1980 het die globale suide ook veramerikaans geraak. Na 1950 is Amerikaanse “consumptionism” aan Europa verkoop en na 1980 is dit ook aan die arm globale suide verkoop!

Vanaf die vroeë 1980’s het twee kragtige Amerikaanse tendense in botsing met mekaar gekom. Aan die een kant sorg “consumptionism” dat die Amerikaners (en die veramerikaanste wêreld) honger na meer en nóg meer verbruiksgoedere en deur die reklamewese en die massamedia voortgedryf word om steeds meer onbevredig en onbehaag te wees.

Aan die ander kant het die neoliberale globalisering en die industrialisasie in die suide die inkomste van die armste 70 persent in die VSA aansienlik laat daal. Om die botsing tussen die twee tendense te probeer besweer, volg die Amerikaners sedert die 1990’s die volgende beleidsmaatreëls. Eerstens is die verbruikers met ’n goedkoop geldbeleid (lae rentekoerse) uitgelok om al hoe meer verbruikerskuld te maak. Tweedens word groot hoeveelhede goedkoop-vervaardigde verbruiksgoedere uit Asië ingevoer wat deur Asiese lande gefinansier word wanneer hulle Amerikaanse effekte koop. Gevolglik het Amerika sedert 1980 “gevorder” (of teruggesak) van die grootste kredietland ter wêreld tot die grootste debietland (skuldland) wat die wêreld nog ooit gesien het. Derdens probeer die VSA-regering (en veral president Obama) om die “verarmde” verbruikers tevrede te hou met groter maatskaplike dienste (veral gesondheidsdienste). Intussen moes die Bush- en Obama-administrasies triljoene bestee om die reusagtige TNK’s (wat “te groot is om bankrot te raak”) van bankrotskap te red.

Terwyl die Amerikaanse verbruikerskuld, federale skuld en nasionale skuld op rekordvlakke staan, weier die kapitalisties-gesinde Republikeinse Party botweg om meer belasting te betaal.

Hoe gaan die Amerikaners uit die gemors kom waarin die Amerikaans-geleide neoliberale empire, die Amerikaanse “consumptionism” en die Amerikaanse ondemokratiese politieke stelsel hulle gedompel het? Ek twyfel of hulle uit die gemors sal kan kom.

Kom ons oorweeg drie moontlikhede.

Eerste moontlikheid: Die miljoene Amerikaners wat aan “consumptionism” verslaaf geraak het, moet nou van hulle verwenning ontwen word om weer so Puriteins en so spaarsaam te word soos wat hulle voorheen was. Dit sal hulle in staat stel om met eie krag uit die “skuldgate” wat hulle vir hulself gegrawe het, te klim.

Tweede moontlikheid: Hulle moet die proses van dedemokratisering so omdraai dat egte demokratiese ruiters weer die wilde TNK-veldperde na wense in die bek sal kan ruk om hulle tot verantwoordbaarheid te dissiplineer. Die kanse dat die VSA hiermee sal slaag, is egter bitter skraal. Maar ás hulle daarin slaag, sal dit die “verrotting” (of die “Enronisering”) wat oor die afgelope 30 jaar in die geledere van die ongebreidelde korporasies ingetree het, blootlê. En dan?

Derde moontlikheid: Die Amerikaners moet die neoliberale, die postkoloniale en die kapitalisties-gedrewe “empire” wat  hulle sedert 1980 met soveel korporatiewe vindingrykheid en militêre mag opgebou het, prysgee. Indien hulle dit kan doen, sal hulle die “imperiale bonus” wat hulle van die suidelike lande en van die ekologiese omgewing geplunder het, ook moet prysgee. Dan sal hulle hul te hoë lewenstandaarde tot “realistiese” vlakke kan afbring. Die Republikeine sal egter tog nie hiertoe instem nie.

“What is to be done?”

Die voorblad van Time op 22 Augustus 2011 lees soos volg:

THE DECLINE AND FALL OF EUROPE (and maybe the West)

Ek wonder of die voorblad nie soos volg moes gelees het nie:

THE DECLINE AND FALL OF THE UNITED STATES (and maybe Europe).

Europa verkeer ook in ’n oorlewingskrisis. Die aard van sy krisis is egter ietwat anders.

 

<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<