Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Die einde van kapitalisme? Maar het dit ooit begin?


Hans Pienaar - 2011-09-08

Die term kapitalisme was nog altyd onbevredigend, want dit verwys nie na ’n ideologie, of ’n doktrine, dissipline, of selfs ’n stelsel nie (daarvoor is daar te veel ongestruktureerde areas). Aan die een kant is daar wat ’n mens hiperkapitalisme kan noem, met Adam Smith se “invisible hand” van die mark as die sentrale meganisme, en laissez faire die algemene opdrag. Weens die finansiële ineenstortings wat deur natuurlike ekonomiese siklusse geskep is, is Adam Smith vandag net ’n historiese figuur.

Maar die vraag is: Het sy soort kapitalisme ooit regtig ’n kans gekry?

En is die soort liberale opset wat hy voorstaan, nie dalk ’n utopie nie? Een waarin goed-ingeligte verbruikers hul eiebelang najaag en na wins strewe en nie na mag nie?

Aan die ander kant is daar die “versteekte hand van die geskiedenis”, nagespeur deur Karl Marx en sy vele voor- en nalopers. Dat historiese prosesse ekonomiese verskynsels onderlê, is duidelik ná die mees oppervlakkige waarneming, maar wat presies daardie prosesse is en hoe hulle werk, is nie moontlik om te bepaal nie, omdat ekonomiese besluite afhang van biljoene individue wie se denkprosesse ons nooit ten volle kan monitor nie, nie as enkelinge nie en ook nie as kollektiewe nie.

Die doktrine dat dit wel moontlik is, en dat Marx die instrumente vir ’n avant-garde verskaf wat die leiding kan neem met sentrale beplanning, het tot die bevelsekonomieë van die kommunisme gelei. ’n Hiperkommunisme is die ander ekonomiese pool, en die moorddadige mislukking van die Kulturele Revolusie in China, saam met die val van die Berlynse Muur, het die doodsklok daarvoor gelui.

Iewers tussen hierdie pole lê ons huidige konstellasie ekonomiese stelsels. Wat die kapitalisme wel gewig gee, iets om programmaties te bevorder of teen te staan, is die verhouding wat dit met die staat in ’n bepaalde land, of groep lande, het, ’n verhouding wat globale en deesdae selfs ook planetêre dimensies het.

Die staat en die geldmakers het nog altyd ’n simbiotiese verhouding gehad, wat ons vandag die politieke ekonomie noem. In Romeinse tye het ryk families mekaar se rykdomme gekonfiskeer in konflikte met private leërs, en die Ryk het dieselfde gedoen in die provinsies met die kapitalistiese elites wat dit daar geskep het.

In Asië het Tjseng He, die wêreld se grootste ontdekkingsreisiger, met sy reusagtige vloot en ’n vroeë vorm van “gunboat diplomacy” en kulturele imperialisme, ’n reeks kapitalistiese nodes in die 14de eeu oral langs die kom van die Suid-Chinese See tot stand gebring wat sedert die laat 20ste eeu die kapitalistiese revolusie in kommunistiese China sou finansier.

Die staat het nog altyd reggestaan om kapitalistiese ondernemings met mag en mening te onderskraag en te red. Halsstarrige verskaffers op primitiewe vastelande is met kanonvuur tot besinning gebring; die diamantbedryf (’n vorm van hiperkapitalisme) is gebou op die twee Boere-oorloë. In 2008-9 is die wêreldekonomie deur die drastiese ingryping van verskeie state van ’n depressie gered.

Die staat se rol is vir baie kapitaliste eenvoudig: om die vele kontradiksies van die kapitalisme, of die kompleks van ekonomiese verskynsels wat so genoem kan word, met mekaar te versoen. Die drang van kapitaliste om marges te verbeter deur werkers al minder te betaal, lei byvoorbeeld daartoe dat al meer geld uit die ekonomie geneem word totdat daar nie meer genoeg is om die kapitaliste se produkte te koop nie. Vakbondregte en werkersregulasies wat deur die staat onderhou word, skep die fondamente vir ’n werkende balans.

Die staat se bestuur van die geldvoorraad is vandag ’n saak van roetine in die soort opset wat Francis Fukuyama so kontroversieel die “einde van die geskiedenis” genoem het, omdat die liberale demokrasie syns insiens die toereikende model vir die politieke ekonomie verskaf het.

Die gevoel dat ons die einde van die kapitalisme aanskou, het baie te doen daarmee dat die huidige modelle vir die verhouding tussen staat en ekonomie, wat in universiteite en allerlei institute gedoseer en nagevors word, skielik lyk of hulle tegelyk tot stilstand geknars het. Baie van die voorskrifte vir bepaalde situasies, soos uitgewerk deur die Man van die 20ste eeu, John Maynard Keynes, is teenintuïtief, soos byvoorbeeld dat die staat in ’n resessie meer moet bestee. In demokrasieë soos die Weste s’n, waar populistiese politici weens mediaversadiging die botoon voer, is die kieserskorps eenvoudig nie wys genoeg om die regte besluite te neem nie.

In Amerika word ooglopende stappe, soos dat die rykes meer belas moet word, belemmer deur die Tea Party-beweging, wat selfs konserwatiewe Amerikaners as ’n dwaalspoor beskou. In Europa word die hervormings en besnoeiings wat noodsaaklik is om die euro te red, in die wiele gery deur vakbonde en siviele oproer.

China veroorsaak wanbalanse in die wêreldekonomie deur die renminbi kunsmatig laag te hou, gerugsteun deur reusagtige reserwes versamel deur die bloedsweet van sy eie mense wat weens hul werksetiek sukkel om ’n verbruikerskultuur te vestig wat die binnelandse vraag genoegsaam kan stimuleer.

Maar beteken dit die einde van die kapitalisme? Die eenvoudige toets is om te kyk na die prestasie van diegene wat suiwer kapitalistiese loopbane het. Amerika se korporasies het tydens die Groot Resessie reusagtige “war chests” opgebou (soos Sanlam in Suid-Afrika). Geen enkele Wall Street-magnaat is vervolg nie, ten spyte van wel-bewese misdade. Sommige “bail-out”-firmas het binne ’n ommesientjie die staat terugbetaal. Bonusse vir uitvoerende beamptes is groter as ooit. Die gaping tussen ryk en arm het dwarsoor die wêreld gerek.

Oorlog is nog steeds die groot katalisator, die Moeder van Alle Dinge.

State is in ’n swakker posisie as ooit teenoor multinasionale maatskappye en die reausagtige effektebedryf, wat die Europese krisis aandryf met naakte spekulasie. Die beste wat ’n mens kan sê, is dat ons in ’n soort interregnum verkeer waarin al meer staat gemaak sal word op internasionale liggame soos die Groep van Twintig-lande om die rol van die staat in die liberaal-kapitalisties model te speel. Al hierdie liggame neig om utopies te dink, en strewe na die instelling van ’n benevolente ekonomiese wêreldorde gebou op simplistiese beginsels van vraag en aanbod, onbelemmerde markte en regverdige mededinging as die basis van regulering.

Gaan ons dan die begin van ’n stelsel van globale vrye handel hê wat gereguleer en bestuur word deur etlike ad hoc internasionale institusies en vry is van anneksasie deur magsformasies? Gaan die kapitalisme dan éintlik begin? Of gaan sodanige magsformasies moet terugval op oorlogsekonomieë om die botoon te voer?

Net die geskiedenis sal ons leer.

  • Hans Pienaar is ’n joernalis verbonde aan Business Day en skrywer van die blog Continental Drift. Hy is ook ’n skrywer, met die digbundel Notas uit die Empire as sy jongste publikasie. Sy eerste roman word eersdaags uitgegee.

 

<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<