Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Nuwe boeke | New books > Afrikaans

Om jouself in jou storie in te skryf: Die bekendstelling van Skool


Bibi Slippers - 2011-09-08

Tussen Stellenbosch en Wellington eet Bibi Slippers ’n hele pakkie Boudoir-beskuitjies agter die stuurwiel van haar middelklas motor op. Sy vloek verskeie ander padgebruikers wat die basiese beginsels van motorbestuur vergeet sodra ’n ligte reënbui uitsak. Dis lentedag, maar wie ook al die weer moes opkommandeer, het duidelik nie die omsendbrief gekry nie (... seker agter in die oudste en enigste se huiswerkboek bly lê).

Bibi is uitgestres, want sy moet foto’s gaan neem van Theo Kemp se boekbekendstelling. Sy het nie genoeg geslaap nie, hou nie van groot groepe mense nie en is ook nie seker hoe die kamera werk nie. Sy besef wel dit kon erger gewees het – sy kon byvoorbeeld die minister van onderwys gewees het, maar gelukkig het die dice nie dié maal so geval nie.

Theo Kemp se debuut, Skool, is Donderdag 1 September by die Breytenbach Sentrum in Wellington bekendgestel.

Sy het haar huiswerk gedoen oor Theo Kemp. Hy is blykbaar in die jaar van televisie (1976) in Humansdorp gebore en het hom aan die Universiteit van Stellenbosch in die letterkunde bekwaam. (Sy het die biblioteek se roepnommer vir sy MA-verhandeling oor voyeurisme in die poësie neergeskryf. Laataand-leesstof vir later.) Sy boek Skool gaan oor die stand van sake in Suid-Afrika se skole, en hy het homself in die storie ingeskryf. Slim. Seker op sy dag eerste gestaan, of ten minste al die pryse vir opstelskryf gewen. Maar dis versinsel ...

Hier volg die feite: Daar was baie mense by die bekendstelling.

Die Bôrdienghuis was volgepak, ten spyte van die reënweer. Almal wou hoor wat Theo Kemp (skrywer, navorser en karakter) oor die boek te sê het.

Die outeur het senuweeagtig gelyk voordat hy die verhoog saam met uitgewer Riana Barnard bestyg het.

"Ek wou hom aspris ’n drol maak, maar ek is nie een nie." So sê Theo Kemp (skrywer) oor Theo Kemp (karakter). Theo Kemp (navorser) het hom eerder uit die geveg uitgehou, maar wel die gesprek op band vasgelê vir latere verwysing.

Riana Barnard, uitgewer by Tafelberg, het probeer om al drie die Theos te ondervra oor hulle onderskeie bydraes tot die boek. Seg Theo Skrywer: “Iewers vind mens die genot van jok.”

Die gesprek was regtig insiggewend en het wye draaie deur die boek en die skryfproses geloop: van die komplekse verhouding tussen fiksie en niefiksie, die ontwerp op die omslag wat die hele hartseer storie in een oogopslag vertel, die oorskryf en herskryf en weer skryf totdat hy die storie aan die hart van die storie gevind het wat die leser sal aangryp. En die storie ís aangrypend. Theo het ’n gedeelte daaruit voorgelees, en Bibi Slippers was meegevoer. Sy het selfs van die gesukkel met die kamera vergeet. Die res van die gehoor het vergeet om aan hulle Leopard’s Leap te teug.

“Party van die avonture was minder avontuurlik.” Die gehoor het aandagtig geluister hoe Theo Navorser vertel van sy omswerwinge. Hy het die land deurkruis en bandopnames gemaak tydens onderhoude met leerlinge, onderwysers en ander rolspelers in die Suid-Afrikaanse skoolstelsel.

Ampie Coetzee, een van die manuskrip se keurders, het Theo uitgevra oor Theo-die-karakter: “Die hoofkarakter is ’n drol. Was jy regtig so ’n drol?” Die gehoor het senuweeagtig gegiggel. Wat as hy wel ’n drol is? Maar nee. Die karakter is geskep, aangedik, verander. Die Theo op die verhoog is ’n gawe kêrel wat hard oor die onderwerp van sy boek gedink het. Oor die karakter sê hy: “Dit het begin by my, maar ek het dit so 90 grade anders gedraai.”

“Woede was ’n groot dryfkrag.” Riana het Theo gepols oor die impuls agter die skryf van die boek, en die komplekse verhouding tussen fiksie en niefiksie in die werk.

“Ek wou gelei word. Ek wou soort van verdwaal.” Theo het die modus operandi agter sy reisplanne tydens die navorsingsfase van die boek met die gehoor gedeel.

Daar was hope kos om die geleentheid te vier. Die aarbeie en miniatuur-sjokoladekoekies het die lekkerste gelyk. Bibi Slippers het niks geëet nie (sien verwysing na Boudoir-beskuitjies bo). Sy het by die voordeur uitgevlug om die groot groep mense om die kostafels te ontduik. Stadig deur die reën huis toe gery en niemand gevloek nie, die foto’s met bewende hande op haar rekenaar afgelaai. ’n Paar is bruikbaar.

Theo het vir die gehoor voorgelees uit Skool, soos in die ou dae. Hy vra: “Wat het geword van die dae toe die juffrou gesê het: ‘Ons gaan nou ’n storie lees,’ en dan lê jy op jou arms en sien die prentjies in jou kop?”

“Skryf is nie terapie nie. Dis nie esoteries nie. Jy gaan teen jou grein in van alles wat normaal is.” Theo Kemp (Skrywer) het die laaste woord oor Skool.

Sy is verlig en kan semirustig slaap: haar werk is afgehandel en sy hoef haar (nog) nie oor kinders in skoolbanke te bekommer nie.