Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose Liefde''-kompetisie: Londen, 2012


Louwrens Selzer - 2011-09-06

My Castle Lager-radio-alarm gaan af. Dis Toto se “Africa” wat my vir ’n oomblik aan die raai gehad het oor waar ek tans is. Toe hoor ek die stem van Big Ben ... Take-away tee en ’n lekker chocolate doughnut (amper nes my ouma dit kan maak in Graaff-Reinet).  Anyway. Die lang donkerkop Kiwi. Hoe weet ek sy is van Nieu-Seeland? Daar’s ’n All Black sticker op haar rugsak. Sy eet ook ’n doughnut, maar dié een het aarbeie op. Twee suiker, swart. Dis hoe sy haar koffie drink voor sy die 08:15-trein na Guildford toe neem. 

Ek dink sy weet ek hou haar dop. Maar hoe dan nou anders, sê ek vir die sekuriteitswag een oggend by die stasie. Ek voel ek wil soos Tom Hanks op ’n bankie sit en saam met haar gaan wag vir ’n trein wat hopelik bitter vertraag is. Sien sy my ooit raak? Miskien hou sy nie van Suid-Afrikaners nie. Maar hoe sal sy ook nou weet waarvandaan ek kom ...? Mmm ... Mr Price-jeans, BKB-vellies en ’n lekker Karoo-aksent. Is dit tyd vir ’n “makeover”?

Haar trein is vertraag. Maar myne nie ... Die versoeking is groot om oor te stap en myself voor te stel. “Can I buy you a coffee?” probeer ek nou vir jou ’n “grand” Engels voorhou.

“Twee suiker, swart,” antwoord sy my asof ek nou moes geweet het.

Maar ek hét mos, so chill ou, praat ek met myself. “Jy’s wragtie Afrikaans. Is jy een van daardie politieke All Black-ondersteuners? Of ondersteun jy goeie rugby?”

“Dis my huismaat se sak,” antwoord sy. “Myne is gesteel.” Sy is van die land met die lang wit wolk.

“Jou stem klink soos Celine Dion en jou oë is mooier as die Seychelles se water.” (Dit sê ek nou nie vir haar nie, maar miskien moes ek maar.)

Ons het nou beide ons treine gemis. “Wat van ek neem jou na ’n plek met die lekkerste koffie en ons deel ’n doughnut wat lekkerder proe as die beste Britse poeding?” 

Sy glimlag, staan op en sê: “Hoekom nie ...?”