Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose Liefde''-kompetisie: Simonstad, 1986


David Steyn - 2011-09-06

Dit is ’n bitter warm dag en die hawe is stil. Valsbaai is oop voor ons en die lug is skoon. Ek en Bertus dink ons gaan sommer iets gaan drink op die kaai terwyl ons nou af het vir die dag. Vlootopleiding in Gordonsbaai vir die offisiere is nie grappies nie. Ek is moeg en Bertus het gister met onse dril teen die berg op sy knie se nerf af geval. Ek en hy loop toe maar in by die eerste en beste restaurant wat ons kry.

Ons gaan sit by die kroeg en bestel elkeen ’n bier. Bertus gesels oor sy tuisdorp en hoe hy dit mis. Hy sê hy is nie meer lus vir die ellelange opleiding en diens nie. Hy is moeg vir die Kaap en sy hawens. Terwyl Bertus gesels, loer ek oor sy skouer voor ek my sigaret in die asbak dooddruk. Ek sien ’n jong vrou sit in die hoek van die restaurant voor die glasvenster. Die middagson skyn skerp in en ek kan nie haar gesig mooi sien nie, maar ek sien sy kyk vir my. Sy het pikswart hare en hou ’n lang glas vas en bring dit na haar mond toe om te proe.

Ek bestel nog ’n bier en Bertus gaan aan en aan oor hoe moeg hy is vir bang wees vir wat die regering sê en hoe die nageslag gaan moet betaal vir wat in ons tyd gebeur. Ek loer kort-kort oor sy skouer of die dame nog teenwoordig is. Later stel Bertus voor dat ons terugkeer na Gordons om te gaan rus voor môre se strawwe oefening. Ek sê toe dat ek nog wil bly en dat ek later sal opvang met hom by die kwartiere. Hy waggel toe uit.

Ek staan op, vat my bier en sigarette, en loop oor na die donker dame se tafel. “Gee u om?” vat ek aan die stoel oorkant haar.

“Nee, glad nie!” sê sy so asof sy dit verwag het.

Ek steek my hand uit oor die tafel. “Johan, aangenaam!”

“Ek is Celeste,” antwoord sy terwyl haar sagte hand aan myne vat. Die hele opset voel so bietjie cliché, maar ek was moeg en uitgehonger vir vroulike geselskap. “So jy en jou vriend … julle is in die vloot?” vra sy.

“Ja, ongelukkig!” antwoord ek. Sy glimlag en lyk skaam. Uiteindelik kan ek nou sien hoe sy lyk. Haar blougroen oë kyk reg in my vas en haar swart hare hang half oor haar gesig. Sy lyk pragtig. “So wat doen jy vir ’n lewe?” vra ek.

“Ag, ek is maar ’n sekretaresse vir ’n prokureur op die dorp,” antwoord sy. Ek kon dit geraai het, want sy is baie professioneel aangetrek, maar ek sê niks. Ons gesels oor alles en nog wat, en ek dink by myself sy is pragtig, ek wil haar hê.

“So wat maak jy vanaand?” vra ek.