Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Leeskring van Zuid-Afrikahuis: dupe van ZASM-besluit


Carina van der Walt - 2011-09-02

Die Leeskring van Zuid-Afrikahuis in Amsterdam bestaan al byna tien jaar onder leiding van Corine de Maijer. Die ongeveer vyf-en-twintig klublede kom die laaste Dinsdag van elke maand van regoor die land na Keizersgracht 141 om ’n boek te bespreek. Nou dreig ZASM om Zuid-Afrikahuis te verkoop. Hoë restourasiekoste word as hoofrede aangevoer, maar vir baie betrokkenes is dit nie oortuigend nie. ’n Ander suggestie doem op in ’n rubriek van die hoofredakteur van ZAM, Bart Luirink. Luirink vermoed die aktiwiteite by Zuid-Afrikahuis hou so tred met die huidige Suid-Afrika dat hulle vervreemd raak van hulle bejaarde eienaar - Stichting ZASM uit 1908. Watter rol speel die Leeskring in ZASM se besluit, indien enige?

In Zuid-Afrikahuis word agt keer per jaar gesels oor Suid-Afrikaanse romans. Die Leeskring se vertrekpunt is altyd tematies. Hulle leeslys, ontmoetingsdatums en sprekers word ’n halfjaar vooruit vasgestel.

Dikwels is dit van die leeskring se lede self wat die boekbesprekings hanteer. Hier kan die name van Ingrid Glorie, Rob van der Veer, Ena Jansen en Corine de Maijer as gespreksleiers in die laaste jare nie misgekyk word nie. Die leeskring het ook mans as lede en wyk dus af van die stereotiepe damesklub. Op ’n leeskringaand is gemiddeld tussen tien en twaalf lesers teenwoordig.

Soms behandel ’n besoekende skrywer sy eie boek met die klub. Mariël le Roux bespreek byvoorbeeld op 27 September haar eie Wilhelmina: kampkind op Java (2008). Op 4 Junie 2010 het Carel van der Merwe sy roman Nasleep (April 2010) bespreek. Ongeveer een maal per jaar besoek ’n skrywer die kring.

Die besoekende skrywers word gewoonlik op ’n tipies Nederlandse manier bedank, met ’n boeket blomme wat gekoop word uit die koffie- en teegeld van die leekskringaande. Die Leeskring funksioneer selfstandig, maar is wel van Zuid-Afrikahuis afhanklik vir hulle ontmoetingsruimte. Dit is dus vir die klub besonder slegte nuus dat Zuid-Afrikahuis dalk verkoop gaan word.

Dit is die inhoud van die leeslys wat hierdie leesklub van ander klubs onderskei. Die boeke wissel in Afrikaans van baie bekende pryswenners, bekende en minder bekende romans, Nederlandse romans oor Suid-Afrika of Nederlandse vertalings van Engelstalige Suid-Afrikaanse romans tot Engelstalige romans van swart Suid-Afrikaanse skrywers. Met bogenoemde kriteria word die besonder hoë gehalte van die leeslys duidelik.

Die tweede helfte van Elsa Joubert se outobiografie Reisiger (2010) is op 25 Januarie bespreek. Biografieë is nie baie gewild by leeskringlede nie. Dit is die aande wat die swakste besoek word.

’n Engelstalige roman wat ook vroeg in die jaar, op 22 Februarie, bespreek is, is Damon Galgut se Man Booker-pryswenner, In a strange room (2010). EKM Dido se Emma en Nella (2010) oor tikverslawing is op 29 Maart bespreek. Op 26 April is Ingrid Winterbach se Benederyk (2010) bespreek. Hierdie roman ontvang twee maande later, op 20 Junie, die M-Net Literêre Prys in Kaapstad. ’n Ouer roman, Vos (1999) van Anna M Louw, is op 31 Mei behandel. ’n Nederlandse boek oor Suid-Afrika en tikverslawing aan die Weskus is Adriaan van Dis se Tikkop (2010). Tikkop het vanjaar die Libris Literatuur-prys gewen en sal op 25 Oktober bespreek word.

Enkele ander belangrike of opspraakwekkende Suid-Afrikaanse romans wat al vorige jare bespreek is, is onder andere Plaasmoord (2009) van Karin Brynard, Summertime (2009) van JM Coetzee, Thula-thula (2009) van Annelie Botes, 30 nagte in Amsterdam (2008) van Etienne van Heerden, The Whale Caller (2005) van Zakes Mda, Agaat (2004) van Marlene van Niekerk, Bidsprinkaan (2005) van André P Brink, Feniks (2007) van Deon Meyer en Die reuk van appels (1993) van Mark Behr.

Dit is duidelik dat hierdie klub in hulle leeslyste taal en ras gemaklik oorskry. Is dit deel van ZASM se probleem? Die Leeskring van Zuid-Afrikahuis bestaan eerstens vir sy lesers. Tweedens begelei die Leeskring sy lesers met die beste leesstof wat Suid-Afrika het om te bied. Hierdie Leeskring funksioneer soos ’n ekspert wat daarin kan slaag om uitstekende publikasies blitsig op te raap, te lees en te bespreek - selfs nog lank voordat dit pryse wen. Daarmee behoort die Leeskring eintlik ’n pouveer in die hoed van ZASM te wees!

ZASM voer restourasiekoste aan as die grootste rede vir hulle besluit, maar hou hulle boekhouding geheim. Totdat hierdie Stigting nie sy geldsake openbaar gemaak het nie, sal bespiegelinge oor moontlike ander redes vir so ’n ingrypende besluit voortduur.