Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Mooinooi, 2011


Monique Saier - 2011-09-02

"Onverwags betrap, hè-è-è?"

Verdwaas leun Felicity oor die petrolstasie se toonbank. "’Skúús?"

"Gedurig moet ek dié goed vir my meisie saambring! Ai, dié antie met die rooi Volksie," grinnik die kassier.

Met gloeiende wange gryp sy sprakeloos die pakkie en haar kleingeld en storm verleë uit.

“Wááátsit? Blóós jy?! Dis intussen 2011 – óók in Mooinooi!”

"Felicity!" roep skielik ‘n ander stem na haar. Haar hart bokspring toe sy omdraai. Frans. Wanneer gaan sy dit regkry om hom vir altyd uit haar hart uit te vee soos 'n uitveër 'n potloodstreep?

"Lekker opgedollie, nè, Mooinooi!" bemerk die  onwetende eienaar van haar hart.

Vinnig steek sy haar hande agter haar rug weg.

"Ek's op pad na 'n troue toe en beter nou my ry kry, ek's klaar laat," knip sy hom kort.

"Háái, my niggie trou ook," voeg hy nog by, maar al wat hy nog van haar sien, is 'n waaiende hand deur die karruit.

Gaan hy ooit so ver kom om haar hart weer terug te wen? Vandat Adrie weer ná al die tyd op die prentjie verskyn het en sy met hierdie Paul deurmekaar is, is sy soos 'n akkedis onder 'n klip sodra sy hom sien. Wóérts, wárts, wég! Hy wou tog net oop kaarte speel!

Felicity voel nou so selfbewus en is skoon woedend op Paul wat nie saam kon kom nie. Haar lewe is 'n deurmekaarspul deesdae. Sy doen skoon dinge wat sy nooit sou gedoen het nie. Om nie eers te praat van die tafeldoek wat sy vanoggend nog met koppies en al opgebondel het en eenvoudig so in die asblik ingesmyt het voordat sy Paul lughawe toe gevat het nie.

Sy sien haar drie kollegas voor die kerk staan. "Hállo!" probeer sy opgeruimd groet.

"O, hallo," word afsydig teruggegroet. Almal is skielik stil. Verbéél sy haar? Is hulle nou bietjie snaakserig oor sy die bachelorette-partytjie verpas het?

Iemand tik haar op die skouer. Frans staan weer voor haar toe sy omdraai.

"Wat maak jý hier?!" roep sy verbaas.

"Karien is my niggie."

"O!"

Hy trek haar weg. "Kan ek jou vir 'n oomblikkie ontvoer?"

Verlig om daar weg te kom, stap sy spontaan saam.

Hulle stap af tot by 'n fonteintjie en gaan sit al twee op die rand.

"Felicity ... ek mís jou so ..."

Verdedigend hou sy haar hand op om hom te stop. "Frans, kom ons los dit. Ek wil nie die tweede keuse wees nie."

"Hémel, ek het jou so ongelooflik lief!"

"Jy is die een wat gesê het dat Adrie nog iets vir jou beteken!"

"Tog nie soos jý nie!"

Felicity verstar. Sy kyk na hom en 'n traan loop oor sy wang. "Jy's liéf vir mý?"

"Já, hemel, já!"

"Hoekom het ek nooit 'n wóórd daaroor van jou gehoor nie?!"

"Ek dag jy sién dit!"

"As jy jou gevoelens vir ander vrouens staan en bieg? Jou timing darem!"

"Wat méén jy, jy voel niks meer vir my nie?! Mooinooientjie?!"

"Juis! Nóú, meer as óóit ..." prewel sy voordat hy haar innig omhels.