Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Potchefstroom, 1986


Elsie van de Venter - 2011-09-02

Die saal is groot en dof verlig. Sy is laat vir die koshuisaksie. Skreefoog om haar vriendinne in die skemer te vind. Sy voel ongemaklik in die temadrag: liggeel sweetpakbroek, swart lapskoene, geleende hemp met Sjinese letters. Geel plastiekoorbelle. Oë amandelvormig omlyn. Esther druk ’n polistireenglas in haar hand. Sy proe versigtig, ril. Lemoensap met baie onbekende alkohol. Sit dit onder haar stoel.

Hy staan skielik voor haar. “Ek wil met jou dans.” Alkohol op sy asem. Sy stem tog in.

Sy herken hom vaagweg as ’n historiese eerstejaar in die farmakol-klas. “They say it’s gonna rain” van Hazel Dean speel. Hy dans goed, sy voel veerlig in sy arms. Hy is effens onvas op sy voete, wil-wil soms struikel.

“Wat swot jy, eerstejaar?” vra hy teen haar oor.

“Farmasie.” Sy sukkel om haarself bo die musiek hoorbaar te maak.

“Jy moet hierdie oumeneer groet as jy hom weer in die farmakol-klas sien.”

Sy knik, gee haar oor aan sy struikel-ritme. Hy dans vinniger, wilder, druk haar vaster. Teen die einde van die song dans hy met haar tot reg voor haar stoel.

“Reginald het die skoot hoog deur met jou,” sê Esther. Tweedejaar, wysheid vanself. “Pasop vir hom.”

“Hy het die skoot hoog deur met die bierbottel,” sê sy, dan. “Hoekom?”

“Hy het ’n reputasie.”

Hulle dans weer. Hy neurie saam met “The whole of the moon”, hou haar terug as die musiek wegsterf; nog ’n dans, nog een, nog een. Sy voel lighoofdig, uitasem. Hy het blou-blou oë. Sy mond breed, sy lippe effe droog. Sy stem lag, hees. Sy volg die oerritme van sy lyf, nestel in die sirkel van sy arms. Gaan sit traag as hy haar uiteindelik vrylaat. Dans daarna met ’n lang maer student, wat haar ook terughou vir nog. “Krap ek in Reginald se slaai?” vra hy. “Ek ken nie vir Reginald nie,” sê sy.

Haar volgende dansmaat is vet, ruik na rook, sweet en alkohol. Hy het PUK-plakkies aan, trap haar tone. Halfpad deur die dans tik Reginald op haar skouer, verlos haar van die vet pateet. Hy praat nie, hou haar net styf vas, vryf liggies met sy duim oor hare. Dit stuur rilling langs haar ruggraat af.

Die musiek stop. Eerstejaars moet terug koshuis toe. “Jy dans fantasies,” sê hy, druk haar teen hom aan, sy lyf manlik en gespierd. Sy wil nie gaan nie.

“Reginald lyk mal oor jou,” sê Esther. “Surina beter hou wat sy het.”

“Wie is Surina?”

“BSc. Tweedejaar. Hulle is van skooldae af bymekaar.”

Maandagoggend sien sy uit na farmakol. Spuit White Linen aan haar polse.

Hy sit in die boonste ry tussen die herhalers as sy die klas binnestap. Die lang maere van die dansbaan langs hom. Sy het nooit voorheen opgelet hoe aantreklik hy is nie. Reginald. Sy naam draai in haar kop. Haar hart bons. Tydens die lesing kyk sy ’n paar maal skuins op, agtertoe. Hy luister aandagtig na prof Offermeyer, maak aantekeninge. Fluister vir die student langs hom. Hulle lag onderlangs. Sy hoor niks van die lesing nie.

Na die lesing maak sy haar boeke stadig bymekaar, luier ’n rukkie by haar sitplek. Laat val met opset haar pennesakkie toe hy uiteindelik in die paadjie verbystap.

“Hallo, Reginald,” sê sy. Hy kyk afwesig – gesteurd? – in haar rigting, sy oë koelblou, vreemd.

Dan kyk hy oor haar, verby haar.

“Ek wag buite, Sandra,” beduie hy glimlaggend vir die meisie wat ongeduldig agter haar staan en wag dat sy haar pennesakkie moet optel.