Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Parys, 2011


Celia Claase - 2011-09-02

“Wat dink jy, het Antoinette die regte besluit geneem?” Die bas-stem ruk haar terug na haar vliegtuigsitplek. Hy leun oor die paadjie en praat van die boek in haar hand.

Terwyl sy antwoord, som haar oë hom op. “In die ware lewe sou ek sê - ja, dit was goed dat sy toe besluit het om te doen wat reg is … Maar as ek die outeur was, sou ek wou hê dat Antoinette eerder saam met Francois wegloop.” Sy skrik vir haar antwoord.

Toe haar oorfone val, hou hy dit vir ’n oomblik langer vas voordat hy haar toelaat om dit terug te vat. Vir die res van die vlug moet sy voorgee dat sy verder lees.

Haar tas met die tartan-strik beweeg nader op die loopband. “Mag ek jou aan Parys voorstel?” glimlag hy.

“Dankie, maar ek sluit môreoggend by ’n toergroep aan en ek …”

Hy tel haar tas op en sit dit bo-op sy trollie neer. Eers frons en toe glimlag sy vir die besef dat hy presies weet watter tas hare is.

Dit is ’n vreemde land, ’n vreemde motor, ’n vreemde man. Hulle stop by haar hotel. Daar sien sy vir die eerste keer sy oë is grys.

“Baie dankie vir die geleentheid; ek sal van hier af alleen regkom.”

“Maar wat van my? Ek weet nie of ek na vandag ooit weer alleen sal regkom nie.”

Haar knieë knak. Sy hand lei haar agter hom aan deur die perfekte stad vir hierdie aand.

By die Montmartre deel hulle ’n sjokolade-druppende crêpe. Sit hulle saam op ’n stoel voor die kunstenaar wat haar profiel op papier natrek.

Dit het hulle onverhoeds oorval, net soos hierdie bui somerreën. Sy steek nie haar ringe weg nie. Hy vra nie uit oor haar lewe nie. Die straatmusikant se trekklavier begelei hulle vreeslose draf oor die L’Etiole.

 In die restaurant roep ’n glas Dom Perignon vir Dickens op en hy haal hom aan: “What is the odds so long as the spirit is expanded by means of rosy wine …” Sy voltooi: “… and the present moment is the least happiest of our existence.”

’n Sjiffon-gordyn vee teen die pers van irisse op die balkon. Hy wag geduldig dat sy moet wakker word. Sy skrik vir die son: “Hoe laat is dit al?”

Dan trek sy toe oë haar asem in en stol, as sy agterkom, hoe hy met moeite sy lippe in haar nek beheer: “Wat het jy besluit … Om dit wat reg is te doen of om jou eie verhaal te skryf?”

 

Dickens, Charles. 1841. The Old Curiosity Shop. http://www.lovers-poems.com/messages/message-english-quotes-charles-dickens.html. [2011, 1 September].