Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Amsterdam, 2011


Annalien Burger - 2011-09-02

Maak nie saak hoe groot ek my oë gerek het nie, ek kon nie jou gloeiende, intense teenwoordigheid met een oogopslag inneem nie.

Sonder inhibisies het jy jou intiemste skoonheid aan my starende blik ontbloot en jou dans met my gedans. Al was dit donker, het jy die nag gebruik om die oorweldiging van jou vuur ten toon te stel. Passievolle, brandende, bruisende en afsydige skoonheid, en ek was oorrompel, verdwaas en verdwaal. ’n Strompelende slaaf, hopeloos verlore en verdoem tot aanbidding. Jou betowering was oombliklik.

Ek sou jou volg, en hét jou gevolg – starend en slapeloos. Dolend deur stegies, dwalend oor brûe, hygend om hoeke, op kanale en op snelweë – ’n willose bewonderaar van die rou skouspel. ’n Verslaafde en onversadigbare toeskouer van jou selfingenome ekshibisionisme, jou uitlokkende selfvertoon en argelose sefversekering in die magiese onderwerping wat jou bestaan teweeg bring.

Jy bly my by, jy’s in my bloed ingebrand, op my hart getatoeëer. In my geestesoog sien ek jou skitter.

Ek bly jou slaaf vir ewig; ewig jeugdige, skone, polsende, rou, lewende Amsterdam!