Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Lewegewing aan ’n herrese SA Talewet?


Vic Webb - 2011-09-02

Dis duidelik dat daar etlike probleme is met die hersiene SA Talewet. Tydens ’n onlangse bespreking daarvan in Centurion het regsgeleerdes gewys op verskille tussen die 2003-voorstel en die huidige een, veral die weglating van belangrike definisies, beginsels en maatreëls. Hulle het gevra: Wat moet bygevoeg word? Wat moet weggelaat word? Wat moet verander word? Hoe moet dit gebeur?

Die vraag is egter: Gaan hul antwoorde enige verskil maak? Die Suid-Afrikaanse regering het ’n betreurenswaardige rekord rondom die taalkwessie (soos Theo du Plessis so duidelik aangedui het in twee LitNet Akademies-bydraes in 2009 en 2010 onderskeidelik). En soos ons almal in elk geval weet: die “werk” van die groot aantal Suid-Afrikaanse taalliggame, veral die nuttelose Pansat, is betekenisloos.

Taal in Suid-Afrika is op ’n slegte plek; in ’n swak ruimte.

Daar is waarskynlik etlike redes vir hierdie toestand, soos onder andere:

  • ’n totale onbegrip by die politieke en burokratiese leierskap van die fundamentele rol van taal in die ekonomiese, opvoedkundige, politieke en sosiale vooruitgang van die land
  • ’n gebrek aan begrip vir die werklike waarde van meertaligheid; en dalk selfs
  • ’n vrees dat die bevordering van die gemarginaliseerde tale in die land die elite se beskutte talige toegang (lees “deur Engels”) tot materiële voordele in die gedrang mag bring.

Soos almal weet, bewustelik óf onderbewustelik, en soos ons self so skaamteloos gedemonstreer het vanaf 1652: taal is ’n magsinstrument, ’n uitsluitingsmeganisme. Ons moet seker maak dat die aangepaste talewet nie ook dergelike probleme meebring nie, en dat dit eerder bydra tot die effektiewe hantering van die aansienlike aantalbestaande taalverwante probleme.

Vroeër, voor Saterdag se Centuriongesprek, het ek, effe naïef, gedink ’n taalwet is nodig, ja, maar nie noodwendig in die vorm van ’n gedetailleerde spesifikasie van doelwitte, voorskrifte oor staatsdepartemente se verantwoordelikhede en die wyse waarop hulle verantwoording moet doen, of strafmaatreëls vir die versuim om die wet na te kom nie. Ek dog ’n algemene wet, aangevul met ’n omvattende taalbeleid, ’n taalplan en ’n plan vir die monitering van beleidsimplementering is genoeg. Nou weet ek beter. Na Saterdag.

Dit is ook soos die Iere en die Walliesers die effektiewe voortbestaan van hul minderheidstale in die publieke ruimte gesien het. Die Iere het byvoorbeeld in 2003 ’n taalwet aanvaar, met regulasies wat voorskryf dat alle dokumente in Iers (naas Engels) gepubliseer móét word, en dat die gebruik van Iers verpligtend is in alle openbare advertensies, openbare tekens, amptelike briefhoofde, en mondelinge aankondigings. Daarby het die wet vaardigheid in Iers verpligtend gemaak vir die aanstelling van staatsamptenare en vir hul bevordering, en is bonuspunte toegeken vir amptenare wat albei die amptelike tale ken. ’n Onafhanklike kantoor vir taal is ook geskep, soortgelyk aan Suid-Afrika se Openbare Beskermer, wat die nakoming van die taalwet deur staatsinstellings moet moniteer, wat die nodige aksies moet onderneem om te verseker dat openbare liggame hulle verantwoordelikhede nakom wat taalgedrag betref, en wat klagtes van die publiek moet ondersoek. Die primêre oogmerk van die taalwet is om te verseker dat staatsdepartemente diens van ’n hoë gehalte aan die publiek lewer.

In ’n land wat nog sy voete vind in ’n poging om ’n ware konstitusionele demokrasie te word, met respek en waardering vir andershede en die vermoë om op sinvolle wyse saam te leef met “die ander”, is ’n taalwet noodsaaklik, en moet belangrike sake eenvoudig maar van bo na onder bestuur word. Maar op die ou end is meer nodig, moet die bo-na-onder-benadering aangevul word met ’n onder-na-bo-benadering in die vestiging van ’n betekenisvolle talebestel. Gemeenskapsaksies vir die ondersteuning van al die Suid-Afrikaanse tale is ononderhandelbaar: vir die reg van staatsburgers om in enige van die amptelike tale met staatsinstellings te mag kommunikeer, om staatsinligting in die amptelike taal van hul keuse te ontvang, om toegang te hê tot basiese regte soos gehalte-onderwys in die taal van hul keuse, en om erkenning en respek te ontvang vir eie talige identiteit.

As daar nie betekenisvolle druk “van onder af”, van die burgerlike samelewing, is nie, gaan die Suid-Afrikaanse openbare domein toenemend verengels, ten spyte van ’n aangepaste taalwet.

En ons kan nie bekostig om ’n kosbare besit soos ons diversiteit verlore te laat gaan nie.

Die vraag is natuurlik hoe die slapende sog, die openbare bewussyn, bewus gemaak kan word van hierdie hoorbare, maar ongehoorde, verantwoordelikheid.

Die naweek van die 13de Augustus was daar so ’n onder-na-bo-proses. Soos vroeër genoem, het verteenwoordigers van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die FAK, Solidariteit, en ander liggame wat die belange van Afrikaans, een van Suid-Afrika se “minderheidstale”, op die hart dra, gesprek gevoer oor die beskerming van die regte van Afrikaans, is daar gevra wat die taalwet moet bevat om die belange van tale anders as Engels te beskerm, en hoe te werk gegaan moet word om toe te sien dat die voorgestelde talewet op betekenisvolle wyse gewysig word voordat dit in die parlement gedebatteer word.

Aksies soos hierdie is essensieel, onontbeerlik. Maar steeds nie genoeg nie. Optredes deur ’n groepering van Afrikaansspesifieke (dalk moet ons selfs praat van “Afrikanerspesifieke”) organisasies gaan in die huidige Suid-Afrikaanse konteks nie genoeg impak hê nie. Dergelike aksies moet aangevul word deur strategieë soos die volgende:

  • Die aktivering van soortgelyke taalbeskermingsaksies in Afrikataalgemeenskappe. Die Afrikatale en, natuurlik, hul sprekers is in selfs groter “gevaar” as die Afrikaanssprekende gemeenskap. Die Afrikatale se sosiale aansien, hul kommunikatiewe kapasiteit, hul ontwikkeling as tale van openbare gebruik, hul aanvaarding as gepaste instrumente vir gebruik in hoëfunksie formele kontekste, die vaardigheidsvlakke van ’n aansienlike aantal leiersfigure in hierdie tale, en die werklike gebruik van hierdie tale in die openbare sektor steek sleg af teenoor Afrikaans. Die Afrikatale móét bevorder en ontwikkel word, en taalbewuste leiers in die Afrikaanse gemeenskap kan in hierdie verband ’n waardevolle bydrae lewer. Op hierdie manier word die pogings om Afrikaans se posisie te versterk, ook bevoordeel, omdat daar gesamentlik, oor die huidige taalgrense heen, eendragtig opgetree word.
  • In die verlede is pogings deur Afrikaanse organisasies om Afrikaans se posisie te beskerm dikwels deur lede van ander gemeenskappe ervaar as maar net nóg pogings om eie belang op selfgesentreerde wyse te bevoordeel, met min werklike belangstelling in wat met ander gemeenskappe gebeur. Dit sal dus moontlik ook tot Afrikaans se voordeel strek as leiers van die georganiseerde taal- en kultuurlewe meer betrokke raak by die bevordering, byvoorbeeld, van die onderwys in plattelandse en “township”-skole, en op hierdie manier ’n demonstrasie lewer dat hulle ook vir ander mense omgee.
  • Op die oomblik is die meerderheid mense wat hul vir die beskerming van Afrikaans beywer lede van die ouer garde. Maar dis nodig, waarskynlik broodnodig, dat jong Afrikaanssprekendes se steun ook verkry word. Die beskikbare statistiek oor jong Afrikaanssprekendes se taalsieninge en taalvoorkeure skep die indruk dat hulle nie werklik die ouer sprekers se kommer deel nie. Van 2008 tot 2009 het die aantal leerders wat onderrig in Afrikaans ontvang het, byvoorbeeld afgeneem met byna 50 000 (byna 4 persent); die persentasie leerders wat Afrikaans as huistaalvak geneem het in die grondslagfase het van 2008 tot 2009 gedaal van 11,4 tot 10,6 persent; en leerders wat Afrikaans as Eerste Addisionele Taal geneem het, het in dieselfde periode gedaal van 2 na 1,3 persent. (Bron: Departement Basiese Onderwys se verslag vir 2008 en 2009, 2011.) Dis duidelik: aandag moet gegee word aan die taalsieninge van jong Afrikaanssprekendes.
  • Ten slotte: skakeling met taalliggame in Asiese lande, Suid-Amerika, Europa (maar nie net met Vlaamse en Nederlandse liggame nie) en Kanada, met die EU en met Unesco, kan ook van waarde wees. Op hierdie manier word internasionale steun verkry, wat pro-Afrikaanse aksies kan versterk, en kan ook baat gevind word by die kennis en ervaring, die “goeie en effektiewe praktyke”, wat elders opgedoen is in die geval van tale in soortgelyke situasies.

Wette, en veral taalwette, gaan oor mense. Ál die mense. Daarvoor moet ons sorg.

Hopelik het ons op 13 Augustus 2011 goed gedink, soos daar op een dag minder as 136 jaar gelede, gedink is.

<< Terug na indeksblad