Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Kennisgewings | Notices

Versindaba roer vanjaar die hartsnare!


2011-09-02

Die US Woordfees se Versindaba word vanjaar op 23 en 24 September op Stellenbosch aangebied. Van Suid-Afrika se voorste digterstemme klink op saam met dié van vars, jong talent.

Die tema van vanjaar se Versindaba is “Roer die snare”. Hiermee word die musikale en liriese sy van Afrikaanse poësie uitgelig en poësieliefhebbers se harte aangeraak met ’n opwindende programaanbod.

Hulde word gebring aan drie belangrike digterfigure: D.J. Opperman, Adam Small en Floris Brown.

Op Vrydag 23 September word die dertiende D.J. Opperman-gedenklesing deur die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands aangebied. Lina Spies, wie se digterskap onder die leiding van Opperman gedy het, lewer die lesing getiteld “God, die magtige magneet: die religieuse motief in die poësie van D.J. Opperman” om 19:00 in die J.S. Gericke-biblioteek se ouditorium. Die geleentheid is gratis en mense wat dit bywoon, is welkom om agterna by Spies en lede van die Departement aan te sluit vir ’n glasie wyn en ’n ligte versnapering.

Op Saterdag 24 September volg ’n interessante program in die Ou Hoofgebou op die Matie-kampus. Ongeveer twintig digters het verse spesiaal vir die geleentheid geskryf ter huldiging van een van Afrikaans se grootste woordkunstenaars, Adam Small. Gevestigde en jong digters lees hul verse voor by dié geleentheid wat in samewerking met RSG aangebied word. Iris Bester sal vir Lina Spies, Zandra Bezuidenhout, Johann Lodewyk Marais, Floris Brown, Martjie Bosman, Willem Fransman Jnr., Toast Coetzer, Andre Trantraal, Bibi Slippers, Marius Absalom, Pieter Odendaal, Izak de Vries, Elsibe Loubser, Anneleigh Jacobsen en Cas Vos by die geleentheid verwelkom. Ander digters wat self nie teenwoordig kan wees nie, se verse word voorgelees. 

Nog ’n digter wat by Versindaba vereer word vir sy bydrae tot die letterkunde, is die gewilde “troebadoer van Worcester”, Floris Brown. Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans bied ’n profiel aan oor Brown, wat ’n besondere groot aanhang in Nederland geniet. Charles Beukes en Michael le Cordeur gesels oor die woordkunstenaar se lewe en loopbaan, waarna die digter geleentheid kry om repliek te lewer.

Chris Chameleon is die gas van Rapport se ROF-fonds by vanjaar se Versindaba. Hy word om 14:00 in die Ou Hoofgebou deur prof. Louise Viljoen ondervra oor sy toonsetting van Ingrid Jonker-gedigte. Chameleon se tweede CD met Jonker-toonsettings, As jy weer skryf, is onlangs met groot entoesiasme deur die Suid-Afrikaanse publiek begroet.

Die literêre historikus, J.C. Kannemeyer, praat saam met medewerkers oor ’n tweede versameling briewe gewissel tussen die digter-broers, W.E.G. en N.P. van Wyk Louw. Dié publikasie, wat briewe bevat wat na 1940 verskyn het, werp lig op sensitiewe sake uit die Louws se persoonlike en literêre geskiedenis. Briewe van die Louw-broers word by Versindaba bekend gestel deur Hemel en see-Uitgewers.

Prof. Ronel Foster, digter en dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, lewer vanjaar die Dana Mouton-gedenklesing. Sy verskaf ’n boeiende blik op ouer en jonger literatore en digters in Suid-Afrika en Nederland, soos T.T. Cloete, Merwe Scholtz, K. Michel en Alfred Schaffer, se uiteenlopende reaksies op Marthinus Nijhoff se bekende gedig “Impasse”.

Digters wat die afgelope jaar in Afrikaans gedebuteer het, maak hul buiging by die Versindaba. Media24 se nasionale boekeredakteur, Elmari Rautenbach, stel vir Fourie Botha, Jasper van Zyl, Anne-Ghrett Erasmus, Andries Samuel en Nini Bennett voor aan poësie-liefhebbers.

’n Opwindende veeltalige, genre-oorskrydende sessie, aangebied deur die Stellenbosch Literêre Projek (SLiP) beloof om groot byval te vind by poësieliefhebbers. Jong podiumdigters uit die Kaapse townships en Stellenbosch-omgewing span kragte saam om die Versindaba-verhoog aan die brand te steek met hul verse. Adrian Different, Khanyisile Mbongwa, Pieter Odendaal en Mambesi Goje tree op.

Die US Woordfees se Woorde Open Wêrelde (WOW)-projek bied weer twee werkswinkels aan vir jong leerders van skole in die Wes-Kaap, naamlik die WOW Woelige werkswinkels en die WOW Verf- en Vers-werkswinkel. By dié sessies, moontlik gemaak deur die ATKV, word jongmense geleer hoe om prettig met poësie om te gaan.

Jong, ongepubliseerde digters wat hul slag met die woord wil wys, kry die kans om verse voor te lees by Verras! wat op 24 September om 21:00 in die Lanzerac Hotel se Kelder-konferensiesentrum plaasvind. Voornemende deelnemers is welkom om voor 20 September ’n e-pos te stuur aan woord@sun.ac.za om plek te bespreek.

’n Hoogtepunt by die jaarlikse Versindaba is die Digtersgala wat om 18:30 by die Lanzerac Hotel aangebied word. Digters wat optree by dié spoggeleentheid is Lina Spies, Martjie Bosman, Marlise Joubert, Cas Vos, Bernard Odendaal, Johann Lodewyk Marais en Alfred Schaffer. Valiant Swart, wie se Toorwoorde roep my vroeër vanjaar verskyn het, sorg vir die musiek. Akteurs Joanie Combrinck en Marlo Minnaar lees verse van gevestigde digters voor. By dié geleentheid, moontlik gemaak deur Politika-Uitgewers en mev. Caro Wiese, word die Ingrid Jonker- en Protea Poësiepryse oorhandig.

Die volledige Versindaba-program is hier digitaal beskikbaar. Kaartjies kan gekoop word by Protea Boekwinkel op Stellenbosch of by die Woordfeeskantoor (kamer 615, Lettere-gebou). Telefoniese besprekings kan gedoen word by 021-808 3513.