Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Skoolgrond, MX 2000


Amandel Ross - 2011-09-01

Hy is ’n alleenwolf. Sy is almal se pel. Hy weet wie is André P Brink. Sy maak asof sy nie weet nie. Hy hou haar dop. Sy hou haar besig met enigiets behalwe met dit wat saak maak. Sy wens hoërskool wil eindig. Hy weet hoërskool eindig nooit. Sy soek na meer. Hy wens hy kan kry wat hy soek. Aande as sy alleen is, verlang sy na mense wat sy nie ken nie. Hy is ’n niemand en sy verlang na ’n iemand.

’n Jaar en ’n half laas het ek ’n blazer gedra. Styf gespan om die skouers. Na vyf jaar het ek hom ontgroei. Ek gaan terug in die verlede as ek my baadjiesakke uitpak. Kopseerpil vir hangovers, geskeurde klasrooster, en R5 vir twee pakkies Frito’s.

Met herinneringe aan my skouers stap ek ’n eens welbekende paadjie op die sportgronde. Ek besluit om jou te gaan groet. Goeie maniere soos julle my vir vyf jaar probeer leer het. Ek sien jou van ver. ’n Gevoel wat ek gedink het was al aan die slaap, wakker weer op as ek jou ’n drukkie gee en ons begin gesels. Iets wat jy vertel, laat my besef dat jy ook aan my gedink het, dalk verlang. Daarvan het ek seker gemaak met my tiener-houding in matriek.

Ek hang die blazer terug in die kas en besef ek sal teruggaan skool toe vir daardie gevoel.