Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Crazy, Stupid, Love. veel beter as die som van sy dele


André Crous - 2011-09-01

Regisseurs: Glenn Ficarra & John Requa
Kamerawerk: Andrew Dunn
Rolverdeling: Steve Carrell, Ryan Gosling, Julianne Moore, Jonah Bobo, Emma Stone
Looptyd: 135 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 12 Augustus 2011


Ek moes eintlik 3½ sterre gee, want Crazy, Stupid, Love. het sy swak punte, maar die film as ’n geheel is so verleidelik en die effek op die kyker so verrassend dat die herinnering aan die film (die produk) veel beter is as die som van sy dele.

Soos jy uit die titel kan aflei, gaan die film oor liefde, maar hoewel liefde uiteraard "crazy" en "stupid" is, is dit eerder die karakters wat aan liefde ly en op hierdie manier begin optree. En dit sorg vir ’n baie vermaaklike wipplankrit wat ons laat opstyg met die komiese sy en weer vinnig terugbring grond toe met die treurige, onbeantwoorde sy daarvan.

Want selfs al wil boeke en flieks ons laat verstaan dat liefde genoeg is om enige situasie te oorkom, is dinge natuurlik nie so eenvoudig nie. ’n Verhouding kan nie werk as net een persoon lief is vir die ander een nie. En ten spyte van sy of haar onblusbare passie en worsteling om ’n verhouding te hê met hierdie objek van begeerte, kan dit nie gebeur tensy die ander persoon daartoe instem of dieselfde voel nie. Hierdie waarheid bring natuurlik hartseer, hoe verblydend dit ook al is om iemand so hard te sien veg vir die liefde.

Crazy, Stupid, Love. kyk na die paadjie wat geloop word deur ’n hele aantal karakters en is slim genoeg om seker te maak dat almal verskillend uitwerk, en hoewel ons die beste vir ons karakters wil hê, word goeie redes verskaf waarom hulle nie altyd kan kry wat hulle (of ons) wil hê nie.

Die verhaal begin met ’n droë ete in ’n restaurant, waar Cal Weaver (Steve Carell) en sy vrou, Emily (Julianne Moore), duidelik nie meer dieselfde soort romantiese paartjie as die ander mense in die eetplek is nie. Terwyl Cal na die spyskaart kyk en sy vrou vra wat sy wil hê, sê sy sy wil skei en dat sy nie getrou aan hom was nie. Hierdie bekentenis vang Cal onkant, en hy gaan verdrink sy sorge by ’n kuierplek, waar hy aan elke gewillige (maar meestal ongewillige) oor sy storie vertel. Die aantreklike jong Jacob (Ryan Gosling) patrolleer elke aand die kroeg en as hedendaagse Don Juan skop hy elke meisie se voete onder haar uit. Hy sien Cal se wroeging en besluit om die man op die regte pad te plaas. Eerste op die lys: raak ontslae van daai New Balance-skoene!

En so begin ’n hele rits verhoudings, of pogings tot verhoudings, op talle fronte: Cal raak betrokke by ’n baie desperate vrou (Marisa Tomei, wat my hart altyd warm laat lag), terwyl hy duidelik nog verlief is op sy eie vrou. Cal se tienerseun, Robbie, raak verlief op sy babasitter, ’n meisie wat vier jaar ouer as hy is, maar hierdie babasitter is verlief op Cal. Cal se vrou, Emily, probeer om uit te sorteer hoe sy regtig voel oor die man wat saam met haar werk. Dit begin selfs lyk of Jacob dalk ’n hart het. En dan is daar ’n jong meisie, Hannah (Emma Stone), wat pas die balie-eksamen geslaag het, en wie se rol in die film eers teen die einde duidelik word.

Crazy, Stupid, Love. begin effens lank voel teen die einde en dit word nie gedryf deur dieselfde energie wat Date Night so ’n plesier gemaak het nie. Aan die ander kant is dit natuurlik ’n perd van ’n ander kleur, en die gebeure van Crazy, Stupid, Love. het ’n veel meer realistiese gevoel; daar is wel oomblikke van heerlik oordrewe komedie, en ook ’n toespraak by die skool wat ’n mens eers skaam laat kry voordat jy werklik geraak word deur die eerlike gevoel wat deurskyn en die herinneringe wat daardeur opgeroep word.

Crazy, Stupid, Love. dra ’n bietjie swaar aan die hoeveelheid stories wat vertel word en teen die einde is daar ’n groot frustrasie met Cal, wie se karakter kan doen met meer eksplisiete selfbegrip. Nogtans is die film absoluut die moeite werd, of jy dit nou gaan kyk vir Steve Carell se komedie, die talle paaie wat die liefde kan loop, om deur Ryan Gosling geleer te word hoe om meisies (letterlik en figuurlik) op te tel, of vir ’n hele klomp ander plesiere. As jy ongeduldig begin raak, weet dat alles teen die einde min of meer netjies saamgesnoer word op maniere wat jy nie heeltemal sou verwag nie.

Naskrif: Crazy, Stupid, Love. is ’n uitsonderlike titel wat eindig met ’n punt. Die rede hiervoor is nie onmiddellik duidelik nie, hoewel dit sekerlik oop is vir interpretasie. Adaptation., sowel as Good Night, and Good Luck. en die Coen-broers se Blood Simple. is drie ander voorbeelde hiervan.