Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Nuwe talewet: ’n Holderstebolder dokument?


Jacques van der Elst - 2011-09-01

Die konsep-talewet (2011) moet oorgeskryf word en opnuut gemeet word aan die konsep wat in 2003 opgestel is, maar wat jare lank as konsep lê en stof vergaar het en nooit deur die parlement geloods is nie. Dit was die mening van ’n aantal regslui en ander akademici wat verlede week in Pretoria onder die vaandel van die Afrikaanse Taalraad en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vergader het.

Die 2011-weergawe  wat die talebestel in Suid-Afrika moet bereël, verskaf eintlik ’n blanko tjek aan die regering om byna onbelemmerd met die daaglikse praktyk van die bevordering van eentaligheid (wat maar eintlik Engelstaligheid impliseer) in die staatshuishouding voort te gaan. Dis duidelik dat die wet nie eintlik versoenende elemente bevat nie. Kenners is dit selfs daaroor eens dat subtiele wysigings en weglatings uit die ou voorgestelde wet eerder polarisering in die talebestel sal meebring.

Die gidsbeginsels van die 2003-konsep (die ou artikel 3) wat dus uiters belangrike riglyne, gebaseer op die Grondwet van Suid-Afrika, bevat, ontbreek in die nuwe voorgestelde wet. Sou hulle opsetlik weggelaat word, kan ’n mens jou afvra: Waarom kan die volgende eksplisiete en baie gesonde beginsels en voornemens maar nie eksplisiet in die nuwe wet gehandhaaf word nie?

  • Die bevordering en handhawing van die talediversiteit van die land.
  • Die bevordering en gebruik van alle inheemse tale, ook gebaretaal.
  • Die verskansing van taalgelykheid en taalregte met die oog op die verstewiging van nasionale eenheid en demokrasie.
  • Die aanleer van Suid-Afrikaanse tale moet aangemoedig word.
  • Maatreëls vir die toepassing van veeltaligheid moet die belange, behoeftes en aspirasies van alle taalsprekers in ag neem.
  • Tussendepartementele koördinasie en harmonisering van beleid, wetgewing en taalaksies is nodig om veeltaligheid te verskans.

Met hierdie sterk beginsels behoort geen Suid-Afrikaner ’n probleem te hê nie. Hulle sou vir seker enige nasionale en internasionale toets van regsgeldigheid kon deurstaan. Nogmaals, waarom dus die verdoeseling in die 2011-weergawe? Die beginsels sou eintlik soos hulle in die 2003-weergawe opgeneem is, ook rigtinggewend en van toepassing kon wees vir die hele Suid-Afrikaanse samelewing, insluitende private instellings, hoewel die talewet natuurlik, in watter vorm ook al, nie bindend vir sulke instellings is nie. Trouens, die talewet is slegs van toepassing op nasionale departemente, openbare eenhede en openbare ondernemings. Alle aanduidings is daar dat universiteite hulle nie aan die bepalings van die talewet hoef te steur nie. Dis die diskresie van die minister van hoër onderwys wat hier geld.

Die nuwe wet maak voorsiening vir ’n afgewaterde klagteprosedure (artikel 4). Daar word melding gemaak van ’n “klagtemeganisme” vir die publiek. Hoe die klagtemeganisme werk, word nie verduidelik nie. Daar behoort darem in die regulasies van die wet minstens beskryf te word hoe klagtes oor taal aanhangig gemaak kan word. Cerneels Lourens, die regsman van Brits wat hom in die nuwe talewet verdiep het, het by bogenoemde vergadering gesê dat daar minstens voorsiening gemaak moet word vir ’n nasionale taalombudsman en ’n onafhanklike  taaltribunaal wat taalklagtes kan hanteer.   

Die nuwe wet maak voorsiening vir die vestiging van ’n oorkoepelende nasionale taaleenheid binne die Departement van Kuns en Kultuur. Wat die eenheid moet doen anders as die bestaande Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, word nie uitgestippel nie en die beeld is baie verwarrend. Nasionale departemente moet ook afsonderlike taaleenhede skep en onderhou. Onrusbarend is die geïmpliseerde diskresie van ’n betrokke minister ten opsigte van taalsake in sy departement en die betrokke departement se kommunikasie na die publiek toe. Daar is verder onduidelikheid oor die toesig oor die taalbeleide van provinsies en munisipaliteite.

Die Afrikaanse Taalraad in oorleg met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kan nie anders nie as om tot die gevolgtrekking te kom dat die 2011- weergawe van die talewet ernstige gebreke bevat en dat dit ’n holderstebolder legalistiese eerbiediging is van die hofbevel wat die Staat nog maar tot 15 Maart 2012 kans gee om sy taalsake in orde te kry. Volgens regskenners voldoen die nuwe wet nog glad nie aan die bepalings van die hofbevel nie. Dis nodig dat die regering uitdruklik gewys word op die nuwe wet se gebreke en dat daar op die dag wanneer die portefeuljekomitee die wet bespreek, ’n behoorlik begronde dokument (’n nuwe konsepwet?) voorgelê word wat nie net vir Afrikaans in die bresse tree nie, maar die ideaal van veeltaligheid en gelykheid van tale (die sogenaamde “parity of esteem”) vooropstel. ’n Werkkomitee van die Afrikaanse Taalraad is aangewys om so ’n dokument op te stel.

 

  • Jacques van der Elst is hoof uitvoerende beampte van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en dien in dieselfde hoedanigheid in die Afrikaanse Taalraad. Hy was vroeër hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands by die PU vir CHO (nou Noordwes-Universiteit) en Dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte by dié universiteit.

<< Terug na indeksblad