Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Planeet Ons, 2011


Reinette Davis - 2011-09-01

Jy was maar altyd daar. Van my vroegste gewaarwordinge toe ek skreeuend protesteer het omdat my wiegie nou nie meer in die hoofslaapkamer geduld gaan word nie, was ek bewus van jou teenwoordigheid. Empaties, nuuskierig, geamuseerd.
 
Met my eerste skooldag, toe die Brenkman-boelies my splinternuwe tassie in die deurloop gooi, poskantoorboekie en al, het jy my snot en trane afgevee, rooi sand in hulle oë gestrooi, en breëbors vir Pa gaan wys waar die kolkende water die tassie meegesleur het.

Met grasie het jy my verliefdheid op die skool-stud verduur. Bakhand my stukkies opgetel toe dié my nie raaksien nie. Minder simpatiek gegryns oor die volgende Adonis se manewales, en oor die vele ná hom.

Dikwels het jy ook vir my die leviete voorgelees. Soos wanneer ek toegelaat het dat iemand met my mors. Dan weer meewarig gelag wanneer ek gefrustreerd was met myself en my tekortkominge. En altyd ‘n soen op my voorkop gedruk wanneer ek die knoop deurgehaak het.

Maar toe Ma en Pa dood is, was jy die muur waarteen my rug gestaan het. Net jy het my waaragtig geken – wis wat ek verloor het.

My oog vang die spieël en soos altyd is jy daar – kyk jy direk terug na my ...