Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Houtbaai, 2011


Lettie Beare - 2011-09-01

Melanie voel allesbehalwe perdgerus. Haar hart klop onbeheerst in haar keel. Dit maak spronge en steier tegelyk en dit voel asof sy enige oomblik van ’n perd gaan afval. Vandag is die dag. Sy sal vir Kloppies die waarheid moet vertel.

Hulle loop al ’n lang pad saam. Albei pas vyf jaar oud toe hulle mekaar die eerste keer ontmoet het. Eers was hulle skaam en bang vir mekaar. Later was hulle beste maats en onafskeidbaar. Vyftien jaar later was hy steeds haar ridder.

Deesdae kyk sy met nuwe oë na die aantreklike manstudente op die kampus. Snaaks dat sy hulle nie vroeër raakgesien het nie. Dit is Kloppies se skuld. Hy is ’n selfsugtige kêrel en neem al haar tyd in beslag. Vir ander seuns is daar nooit tyd nie.

Tog voel sy skuldig. Sy dink aan sy groot bruin oë, sy glimlag, altyd breed, sy perfekte tande in gelid soos soldate in ’n ry, sy gespierde borskas en dik bruin hare wat soos ’n pels blink. Sy kon nooit ophou om haar hande in sy hare te steek of dit onophoudelik te streel nie. Dit het haar kalm gemaak.

Die gedagte daaraan maak haar nou kwaad. Sy moet van hom afskeid neem, al is dit hoe moeilik. Sy koop lekkers by die universiteit se kafee. Sy het hom elke dag met ’n lekkertjie bederf. Vandag kry hy ’n handvol. Dit sal die laaste soetigheid van Melanie wees.

Melanie parkeer haar motor by die perdryskool waar Kloppies werk. Sy hoor harde klopgeluide. Is dit haar hart wat so bons of is dit Kloppies wat opgewonde aangehardloop kom?

Sy gee vir hom die lekkertjies een vir een. Kloppies bly kalm wanneer sy vir hom die waarheid in sy oor fluister. Haar trane is ’n stortvloed. Sy hardloop na die parkeerterrein, kyk ’n laaste keer om na Kloppies en sien nie die motor wat ingeswaai kom nie.

Kloppies hoor die slag. Hy loop stadig na waar Melanie ’n oomblik gelede nog gestaan het. Hy sien haar hand, wat nog lekkertjies vasklou, onder die motor uitsteek. Hy snuffel ’n lekkertjie uit haar hand, draai om en loop soos ’n ou man stadig weg. Dis net haar parfuum wat nog aan hom kleef.

Sedert sy twintigste verjaarsdag het sy sig verswak saam met sy spiere, maar sy reuksin het dieselfde gebly. In perdejare is Kloppies oud en moet op ’n plaas afgetree word. Die boer is reeds daar om hom te kom haal.