Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Malvern, 1967


Amanda Claassens - 2011-09-01

Die dubbeldekker kom aangeskommel met Julesstraat langs, te stadig na Barbara se smaak. Die wind sny deur haar ligte baadjie en mors met haar kapsel.
                   
“Môre Dametjie, vol bo,” groet die kondukteur vriendelik. Nog 'n minus vir hierdie dag. Sy gewaar 'n oop staanplek of twee en wriemel verby die lywe wat die gang volstaan. Sy vat die naaste beskikbare leerhandvatsel stewig vas, kry haar staan vir ’n wankelrige rit Johannesburg middestad toe.
                   
“Mag ek hier langs jou kom hang?” Die stem vlak langs haar gesig behoort aan die aantreklike man wat sy so ’n week gelede opgemerk het. Hy sit sedertdien elke oggend op dieselfde plek, naby die trappe.  
                   
By gebrek aan ’n gepaste kwinkslag glimlag sy maar net, hiperbewus van haar koorsige wange. Dalk van die stap in die koue wind, maar sy vermoed dit het meer te make met die vreemdeling se nabyheid. Hoe lyk haar hare? Sit haar baadjie reg as sy so arm omhoog staan?
                  
Barbara is verlig dat hy klaarblyklik nie spraaksaam is nie, want sy kan nie aan ’n enkele intelligente ding dink om te sê nie. Hoekom ontsenu die man haar so?

’n Paar haltes verder waag sy dit om terloops in sy rigting te kyk.

“Totsiens,” stamel sy verleë en beweeg weg in die rigting van die uitgang. Sy besef dat hy agternakom, op die trap bly staan toe sy afklim.

“Sien jou vanaand, Bobbie!” roep die man net voordat die bus in beweging kom.

Barbara staar die bus agterna. Net een mens het haar nog ooit Bobbie genoem. Haar eerste speelmaat, haar eerste kleintydliefde. Henk Visagie. Henk, wie se ma met hom vort is toe hulle in standerd vier was. Henk, wat sy nooit daarna weer gesien het nie.

Henk, by wie se pa hulle vanaand gaan braai …