Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Brief aan my broer Wilhelm na die publikasie van die versamelbundel


Deon Knobel - 2011-09-01

Liewe Wilhelm

Ja! Ja! Ek weet ek het jou vir maande afgeskeep. Jy sal my vergewe as ek jou vertel dat die werk aan die publikasie van jou versamelbundel As die woorde begin droom ’n volle agt maande geduur het. Ek het in detail geskryf daaroor in my laaste brief aan jou, tot my skande so lank gelede as vyf maande, op 22 Februarie 2011.

Ek het dalk wel vertel dat die seleksie van gedigte vir insluiting in die versamelbundel gedoen is deur Johann de Lange, die jonger digter aan wie so pas die Hertzogprys vir poësie toegeken is vir sy bundel Die algebra van nood.

Ons twee het maar versigtig en voel-voel begin met die taak, maar binne weke het ons mekaar gevind en wonderlik saamgewerk. Die keerpunt het gekom ná so ’n paar weke van seleksie en heen en weer se kommunikasie toe ek ’n wonderlike SMS-boodskap van hom ontvang het: “Deon, die kritiek het Wilhelm heeltemal verkeerd geskat. Maar hoe dan anders met ’n dissipline wat so gebonde is aan tyd en mode?”

Hierdie uitspraak van hom het my week – as dit aanvaarbare Afrikaans is vir “weak” – in die spiere gelaat en my antwoord aan hom was taamlik emosioneel, maar eerlik en opreg bedoel: “Johann, jy sal nooit regtig weet hoeveel hierdie uitspraak van jou vir my beteken nie. En jy verwoord feitlik volledig wat Uys Krige ná Wilhelm se skielike dood op 4 Januarie 1974 aan ons moeder en my geskryf het:
Beste mevrou Knobel en Deon, ek het nie geweet dat Wilhelm weer siek was nie. Maar ek wil u graag iets vertel. Twee dae voor sy dood het ek skielik aan hom begin dink. Ek het toe sy Mure van mos gaan uitneem by die Hermanus Biblioteek. En nadat ek begin lees het, sê ek vir my dogter: ‘Maar Eulalia, hier is pragtige gedigte. Het ons kritici en opstellers van bloemlesings hom dan vergeet? Maar dit sal nog kom.’

Toe het Uys voortgegaan om talle gedigte in besonder te noem en dat ‘Elegie vir M Cuenod’ ‘seker een van die mooiste treurliedere in ons Afrikaanse taal is’.”

Ná hierdie boodskap van my aan Johann de Lange gaan hy voort: “Wilhelm het ’n feillose oor gehad vir melodie en die musiek van woorde. Hy het ook baie dieper gevoel as ons meer siniese generasie. En hy was nie bang om te voel nie, hoe gevaarlik dit vir hom ook was. Want hy het geweet dit was die bron wat sy gedigte voed.”

Nou ja, sonder verskille in opinie tussen ons het dit ook nie gegaan nie. So het hy die “Tweede brief aan die muse” geselekteer, maar nie die “Eerste brief” nie. Hy het dit nie goed genoeg geag nie, terwyl ek nog seeds voel dit sê baie van die muse wat die digter ’n paar dae besoek en dan verlaat om ander digters te inspireer. Want jy kom dan tot die gevolgtrekking “jy’s ’n hoer!”. Vir my was dit wel aanvaarbaar dat jy deeglik laat verstaan hoe kortstondig die muse se inspirasie is voordat dit vertrek om iemand anders te besoek en te inspireer.

Ek plaas ter inligting hier tog albei die briewe aan die Muse, dan kan jy my dalk, miskien een nag in ’n droom, laat weet hoe jy daaroor voel.

Brief aan die Muse

Jy het my huis ’n dag of tien besoek,
en steeds in die nabyheid gedraai daarn
– ek kon jou magtige vlerkslag hoor
Toe het ek, moeg van in woorde
die eensaamheid langer te ontvlug,
my huis aan ’n ander gebied
… Mens word ook van hartstog sat,
en waar bly jy nou
Jy’s weg op besoek
Jy’s ’n hoer  
 
(Bloemfontein 28/4/63; hersien 18/2/72)


Tweede brief aan die Muse


“Die prys wat jy vra is te hoog,”
so het ek vir myself gesê
as ek snags jou geselskap geniet
en bedags net van ver
met jaloerse oë na ander mag kyk
– nou weet ek opnuut
net die onsuiwer blik
verjaag die strenge gees
As ek weer, soos nou,
met eerbied in my oë die ander beskou
kom jy rustig
en heilig my liefde met ’n sagte gebaar
in woorde wat die hartseer nie spaar nie
maar sonder verwyt.    
      
(Bloemfontein 30/4/63; hersien 18/2/72)

In my nederige opinie sou die ongepubliseerde brief aan die Muse wel goeie sin gemaak het.

Dan is daar die enigste gedig wat jy ooit fisies in Stikland geskryf het en waaroor jy sekerlik die detail sal onthou. Dit is geskryf enkele dae nadat ek jou psigiater, Johan Bruwer, gekonfronteer het omdat jy vir twee weke lank nooit met my, jou broer, ’n woord gepraat het nie, maar my net met so ’n verleë, skaapagtige glimlag op jou gesig aangekyk het. Die enigste paar keer wat jy wel sou reageer, was as jy van my ’n sigaret wou hê.

Hierdie gedig het jy toe op 19 Augustus 1972 geskryf. Enkele dae ná die minikonferensie van ons drie. Dit is later op 28 Julie 1973 hersien. En verstommend het jy elke detail van die bespreking onthou en in jou gedig weergegee. Dit sluit in my vrae aan jou om ons te “vertel hoe jy voel, anders kan ons jou nie help nie”. En “is jou nagmerries nie dalk so intens dat jy glo dit het werklik gebeur nie?”.

Vir Filippa

Soms
as die mis lig
sien hy teen die horison die silhoeët van die berg
Anders
voel hy alleen hier soos op ’n berg
Maak hy nog kontak?
Kan hy nog kommunikeer?
“Dis nie ’n Spaanse Inkwisisie nie,”
sê sy broer
“Maar hoe voel jy
probeer dit beskryf
ons kan jou slegs help as ons weet hoe jy voel”
“Tel van honderd in sewes terug sonder om die
opdrag te herhaal”
sê die dokter
drie en negentig
ses en tagtig
vyf en sewentig
drie en sestig …
sy stem droog op
gaan hulle hom nou in desperaatheid oor die brug stuur
dis die vrees van almal hier:
om oor die brug gestuur te word
– daar’s so min wat ooit weer terugkeer oor die brug …
Maar dis soveel rustiger daar
daar tussen die Onskuldiges        les Innocents
al is daar nadele
soos dat daar geen telefoon is nie
watter nodigheid is daar per slot van rekening
aan kontak met die buitewêreld …
“Dis tog ’n veilige hawe daar”
dink sy moeder
“Dáár kan hulle jou soveel beter versorg …”
Hiér
as die deur toegaan
is sy tuiste
hiér verstaan hulle mekaar
en die dokters is soveel makliker bereikbaar
soms
dís waar
gaan ’n verpleër hom aan ’n moeilike geval te buite
maar nou ja
dis soms tog die enigste uitweg
“Is jou nagmerries nie dalk só intens
dat jy glo dit het werklik gebeur nie …
Ek kan skaars glo
dat ’n verpleër hom so te buite kan gaan”
Wat kan ’n mens antwoord
selfs ’n verpleër het reg op ’n humeur …
die mis is weer dig vandag
ook die naaste berg is onsigbaar
hoe kry ’n mot op ’n dag die krag
om ’n gat deur die wande te vreet
in hierdie kokon word elke geluid
genadig       geduldig
verdoof …  
       
(Stikland 18/8/72; hersien 28/7/73)

Een van die mees absurde “toetse” om te bepaal of jy geestelik “normaal” was, was die volgende instruksie van die psigiater: “Tel van honderd in sewes terug sonder om die opdrag te herhaal.” Nou daag ek enige van die lesers van hierdie brief uit om hulleself te evalueer deur hierdie toets op hulleself uit te voer.

En nou, Wilhelm, kom die groot vangplek. Dit het my dekades geneem voordat ek die “toets” in jou gedig self uitge-“toets” het en tot my verbasing het jy die “aftrek”-som met opset verkeerd weergegee – so asof jy jou eie navorsing wou doen oor die lesers van jou gedig se vermoë om hierdie uitdaging geslaagd te voltooi.

Hierdie gedig is jare gelede deur Georg Weideman in ’n program oor die radio in detail bespreek en ek het dit as ’n intens aangrypende gedig ervaar. Veral die vrees om “oor die brug gestuur te word” het hom aangegryp. Die gedig is opgedra aan ’n medepasiënt, Filippa, wat jou emosioneel ondersteun het tydens daardie toelating tot Stikland.

Dan is daar ook ’n ander “fout” in een van jou gedigte, en ná bespreking met Johann en ander, soos jou vriendin Aggie van Schoor, het ons besluit om dit so te laat deurgaan, omdat ons glo jy het dit weer met opset as toets in jou gedig geplaas. In die gedig “Ons sal vanaand nie praat van doodsbeendere ...”, wat ek jou “Hooglied” noem, praat jy van alles wat so groen is, “o so groen soos in 1936 laas, ’n jaar voor my geboorte”. Ek het eers gewonder of ons die jaartal na 1934 moes verander, of dit wel 1936 moes hou en die “voor my geboorte” moes verander na “na my geboorte”. Wel, ek vermoed steeds dat jy dit dalk met opset so geskryf het.

Nou kom ons weer by Uys Krige se uitspraak oor “Elegie vir M Cuenod” as een van die mooiste treurliedere in ons taal. Dit is inderdaad so en is saam met drie ander elegiese gedigte en die depressie-onttrekte en verlate landskapsgedig “Geen skip strand ooit teen hierdie kus nie” deur ons groot Suid-Afrikaanse komponis Hendrik Hofmeyr saamgevoeg in sy elegiese sangsiklus, “En skielik is dit aand”, gekomponeer ter herdenking van jou 70e geboortedag op 26 Oktober 2005. Daar is ’n pragopname op CD (kompakskyf) met die komponis voor die klavier en die uitmuntende bariton André Howard as bariton-solis.

Wat betref “Elegie” is ek weereens dekades ná die publikasie daarvan deur ’n oplettende leser daarop gewys dat daar in die koue Atlantiese Oseaan geen tropiese vissies en nog minder koraalriwwe voorkom nie. Nou ja, soos my vriendin Martha van Tucson, Arizona, skouerophalend sou sê: “Whatever!” Dit bly ’n wonderlike gedig en komposisie.

Ek gaan vandag hier afsluit deur kortliks te noem van gedigte wat ons in ’n volgende brief gaan bespreek: oor ons probleem met die ses gedigte wat jy as “Eine Kleine Nachtmusik”, vir Ineke, saamgegroepeer het en hoekom ons dit nie so as groep kon plaas nie.

Dan is daar drie verdere pragtige gedigte, wat onder die titel “Bak met visse” verskyn het in ’n uitgawe van New Nation, en wat ek op my versoek ontvang het van Dennis Worrall, die destydse redakteur, as uittreksel uit die betrokke uitgawe van die tydskrif. Daar was weer ’n probleem omdat een van die gedigte in ’n ander vorm reeds tevore as losstaande gedig verskyn het.

Daar is ook ’n interessante gedig, “Bergklimmer” – met ’n aangehegte brief in jou handskrif met die aanhef: “Dear Mr Gilham” – wat nooit tevore gepubliseer is nie, en wat ek ook eers ná die voltooiing van die seleksie vir die versamelbundel ontdek het. Dalk kan een van ons lesers ons help om vas te stel wie Mr Gilham is of was. Ek dink hy was dalk betrokke by een of ander Departement van Engels.

Net so is daar vier liefdesgedigte in Engels, opgedra aan ene DJP, wat ongelooflik mooi is en terselfdertyd uitdagend direk en onverbloemd gay in aanslag. Ek het DJP opgespoor as Donald Prosser, destyds parlementêre korrespondent in Kaapstad vir een van die Engelse dagblaaie. ’n Paar maande gelede ek met hom oor die gedigte en die oorsprong daarvan gesels. Hy het bevestig dat hy inderdaad die DJP is en dat daar ’n kortstondige verhouding tussen hom en Wilhelm was. ’n Week of twee gelede lees ek dat sy lewensmaat van iets in die 50 jaar, Terry Herbst, oorlede is. Ek het hom weer geskakel om medelye uit te spreek en het toe vir hom die gedigte gestuur. Hy is nou hoogs bejaard en het laat deurskemer dat hy nie goed is met die rekenaar nie. Ek hoop hy het die gedigte en my brief wel teen hierdie tyd ontvang.

So daar! Nou’s dit genoeg vir een aand en daar lê nog heelwat vrae om te vra en inligting wat ek met jou wil deel, en waarmee jy dalk kan help.

Liefde en mooi loop, soos altyd, of sweef mens daar maar net altyd in ’n wasige toestand van welbehae rond?

Deon