Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Veeltaligheid en die weg vorentoe


Christo van der Rheede - 2011-08-31

Suid-Afrika is ’n land van vele tale. Daarom vereis ons nasionale Grondwet van die staat om praktiese en daadwerklike maatreëls te tref om ons amptelike tale te ontwikkel en die gebruik daarvan te bevorder. In die uitvoering van hierdie opdrag moet die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings ag slaan op die taalgebruike en -voorkeure van die inwoners en wetgewing en maatreëls implementeer om die status van alle amptelike tale uit te bou en te bevorder en dít te monitor.

Hierdie droom om ’n veeltalige omgewing te skep en te handhaaf waarin elke landsburger ’n funksionele bestaan in sy of haar taal kan voer, is egter besig om vinnig te vervaag. Nie net faal die staat daarin om uitvoering te gee aan die grondwetlike aspek oor taalregte nie, maar ondermyn dit die opvoedkundige en ekonomiese waardes inherent aan veeltaligheid en die menswaardigheid wat dit meebring.

Burgers wat gehalte-onderrig in hul moedertaal ontvang en oor goeie tweedetaalvaardighede beskik, vaar akademies goed. Goeie prestasie op skool skep geleenthede tot verdere studie, die verwerwing van kundigheid en die voorsiening van opgeleide personeel aan die nywerheidsektor. Verder dra die vooruitsigte wat ’n werksgeleentheid meebring en die erkenning wat daarmee gepaard gaan, weer by tot selftrots en verhoogde produktiwiteit.

In die afwesigheid van gepaste stappe deur die staat is daar egter talle burgerlike inisiatiewe wat daarop gemik is om veeltaligheid te bevorder en die staat te dwing om uitvoering te gee aan die taalklousules in die Grondwet. In dié verband sonder ek graag uit: Neville Alexander van die Projek vir die Studie van Alternatiewe Onderwys in Suid-Afrika (Praesa); Kwesi Prah van die Sentrum vir Gevorderde Studies van Afrika Gemeenskappe (CASAS); Pitika Ntuli, bekende akademikus en inheemse kenner; Gerrit Brand van die Meertalige Aksiegroep (IMAG); en André van der Walt, afgetrede akademikus aan UWK en sakeman.

Neville Alexander

Die magdom referate, navorsing en aanbevelings deur hulle en baie ander is tekenend van ’n besonderse begrip vir die kompleksiteite van ons samelewing en ’n passie om ’n geïntegreerde Suid-Afrikaanse samelewing te skep waarin veeltaligheid en menswaardigheid ’n stewige vastrapplek het. Dus was en is die post-’94-nasiebouprojek vir hulle nié bloot ’n voortsetting van die status quo met ’n paar kosmetiese veranderinge nie, maar gaan dit vir hulle om die skep van ’n demokratiese en oop samelewing wat gegrondves is op veeltaligheid, gelyke geleenthede en hoogs effektiewe regering.

Suid-Afrika word egter vandag gekenmerk deur ’n groeiende gaping tussen ryk en arm, oneffektiewe dienslewering, werkloosheid, korrupsie en magstryde. Eentaligheid en aandrang op Engels in die staatsdiens en die private sektor is aan die orde van die dag. Verder lê aan die hegemonie van Engels volgens Neville Alexander ten grondslag ’n elitisme wat as niks anders as neo-apartheid beskryf kan word nie. Skeiding op grond van velkleur is vervang met ekonomiese rangorde en nepotisme. Geen wonder onrus, stakings, misdaad en wrywing tussen gemeenskappe is aan die orde van die dag nie. Dit het sekerlik min te doen met die stand van ons tale-bestel in Suid-Afrika, maar dit kan sekerlik daarheen teruggevoer word. Taal bemagtig óf ontmagtig immers en lê die grondslag vir ’n sinvolle óf uitsiglose bestaan.

In dié verband help die staat se patetiese herverpakking van die konsep-talewet ook nie veel nie. Hierdie wet, wat sedert 2002 lê en stof vergader, word tans in opdrag van die Grondwetlike Hof deur die staat hersien, maar laat veel te wense oor. Die eerste weergawe beklemtoon die rol van taal as ’n instaatstellende instrument wat die bevordering van wedersydse respek, sosiale geregtigheid, gelyke toegang tot openbare dienste en programme en erkenning van diversiteit vooropstel. Daarteenoor is die hersiene weergawe wat eersdaags deur die parlement goedgekeur moet word, afgewater tot ’n regulatoriese instrument wat slegs monitering ten doel het.

Wéér is ’n goue geleentheid om wetgewing daar te stel wat die staat kan help om effektief uitvoering te gee aan al die taalklousules soos vervat in die nasionale Grondwet, besig om deur die vingers te glip. Die burgerlike samelewing moet dus bedag wees en met deurdagte aktivisme die staat dwing om hul plig omvattend na te kom. Dis ’n noodsaaklike voorvereiste vir sosiale geregtigheid – weldeurdagte wetgewing wat die waardes en ideale soos vervat ons Nasionale Grondwet vooropstel.

’n Praktiese illustrasie van deurdagte aktivisme is die nuutgestigte XhosAfrika-netwerk wat ’n tuiste bied vir samewerking tussen Afrikaanse en Xhosa-taalpraktisyns, -organisasies en -belanghebbendes. Hierdie samewerking behels die beskikbaarstelling van kundigheid, die deel van hulpbronne en gesamentlike beplanning aan konferensies en allerlei ander veeltaligheidsaksies. Op Saterdag 27 Augustus is die eerste konferensie te Kunstekaap in Kaapstad gehou en is deur 400 mense bygewoon. Daar is gefokus op die opvoedkundige, ekonomiese, sosiale en kulturele waarde van Xhosa. ’n Ambisieuse poging voorwaar, maar ons hoop dat ons ook op dié wyse nié net veeltaligheid bevorder nie, maar ook die vooroordele, wantroue en verwyte besweer wat so kenmerkend is van die huidige openbare diskoers.

Verteenwoordigers uit die Xhosa en Afrikaanse gemeenskap by die konferensie.

Ons as burgerlike samelewing kan nie onbetrokke staan en toekyk hoe die post-’94-nasiebouprojek en die droom van veeltaligheid vou nie. Betrokkenheid oor grense heen en konstruktiewe aktivisme is nou meer as ooit nodig - ons ís dit immers verskuldig aan ons kinders en hul nageslagte.

 

Prof Sandile Gxilishe