Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

My land, my lied ’n aangename verrassing


Leon-Ben Lamprecht - 2011-08-31

My land, my lied
Ollie Viljoen en Blues & Susters
Maatskappy: Rhtyhm Records
Prys: R102.95

Klik hier en koop My land, my lied nou van Kalahari.net!




Wat ’n aangename verrassing was dié album nie.

Ek probeer altyd om op hoogte te bly van wat in die plaaslike musiektoneel aangaan – dit sou immers simpel wees om albums onder die loep te neem en woefully ignorant te bly van die onderstrominge in Suid-Afrikaanse musiek.

Natuurlik is daar deesdae so baie dinge daar buite, dis moeilik om op hoogte van alles te bly wat daar is, wat daar gaan wees en wat daar was.

Ek moet dus hier erken dat ek geen idee gehad het van dié projek, deur van die beste musici in ons land (meer hieroor later), tot die album op my lessenaar beland het nie.

Wat my terugbring by die openingsalvo: wat ’n aangename verrassing.

Op My land, my lied tref jy die volgende liedjies aan: bekende Suid-Afrikaanse liedjies soos “Waterblommetjies”, “Ver in die ou Kalahari”, “Groen koringlande”, “Oom Bossie van die Bosveld” en “Sarie Marais”.

Jy tref ook ’n versameling van ontsaglik begaafde kunstenaars aan. Soos die naam aandui, is daar die legendariese oom Ollie Viljoen.

Voeg dan by, in geen bepaalde volgorde nie, Anna Davel se stem, Schalk Joubert se basklanke, Lou-Ann Stone se saksofoon en Kevin Gibson op perkussie.

Nou’t jy mos die fondasie van ’n wenresep.

Die album is 15 snitte lank en elke tweede snit is instrumenteel – met Stone se saksofoon en oom Ollie se onderskeie instrumente wat oorneem by Davel se stem.

Dit moet gesê word dat die album dalk nie in almal se smaak gaan val nie: dis baie jazzy (meer so as bluesy, dalk selfs), wat seker nie almal se braaimarinade is nie.
Hel, ek self is nie ’n groot aanhanger van jazz nie. Maar op dié album word dit stylvol en baie luisterbaar verpak.

Dis ook so dat covers van baie bekende liedjies maklik, wel, kan verval in ’n been-there-done-that. Immers: dit help dadels jy doen dit nes die oorspronklike. Maak dit jou eie. En hiermee slaag die span op die album mooi. Hulle trek die liedjies mooi nuwe rokkies en tuxedo’s aan (maar stylvol), sit make-up aan en doen die hare en gee hulle ’n lekker kar om mee op te daag by die soirée.

“Ek verlang na jou” en “Oukraalliedjie” staan veral vir my uit onder die sangnommers. Onder die sans sang is “Sarie Marais” (luister veral die intro deur Joubert) en “Suikerbossie” nie te versmaai nie, hoor.

Jy kry sommer lus vir dans. En sigare rook en whisky drink in ’n donker hoekie van ’n klub êrens waar sangeresse in rooi rokke nog op die klavier lê as hulle optree.

My enigste (pedantiese?) kritiek is dat, as ek nou moet raai, dit net soveel beter gaan wees as jy ’n lewende optrede bywoon in genoemde donker hoekie van ’n klub, al probeer hulle baie hard om ’n live gevoel te skep. Maar dan, die meeste mense sukkel om dit werklik reg te kry.