Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

toets


2011-08-31

Thomas@rock-ster.net
Carina Diedericks-Hugo
Uitgewer:
LAPA
ISBN: 9780799350807
Prys: R80.00

“Experience has taught us that we have only one enduring weapon in our struggle against mental illness: the emotional discovery and emotional acceptance of the truth in the individual and unique history of our childhood.” – Alice Miller in The drama of the gifted child (1979:3).

I

By die lees van Carina Diedericks-Hugo se bekende én suksesvolle Thomas@-reeks word die volwasse leser gekonfronteer met die kind in jouself. Waarom lees ek byvoorbeeld elke jaar ’n Saartjie Baumann of ’n Trompie? Dit is gemene goed dat die kind in ons nooit weggaan of verdwyn nie, en kinder- en jeugboekskrywers skryf waarskynlik self oor hul eie kindwees ten einde iets hiervan te projekteer of herstel in ’n jeugboek.

Die werk van die psigoanalis Alice Miller aktiveer komplekse prosesse rondom die verwerking van jeugindrukke en -trauma. Veral haar studie The drama of being a child kan die leser nuttig aanwend om nostalgies-idilliese tekste soos die klassieke Saartjie Baumann-reeks van Bettie Naudé te benader. In Saartjie (Perskor 1993) is Saartjie haar pa, dokter Baumann, se oogappel. Sy is in standerd vyf in Lynnekom, ’n omgewing waar almal mekaar ken en goed oor die weg kom. Sy het ’n broer Kris in matriek en ’n agtjarige boetie Apie, en die huishulp heet Lizzie. Die tuinier se naam is Jonas. Dit is dus duidelik ’n idilliese bestaan.

Saartjie is ’n figuur van liminaliteit: op die grens tussen laerskool en hoërskool. Sy kan ander naboots en almal laat lag. (Wanneer sy sing, boep-boep sy soos Bing Crosby.) Haar bekendste eienskap is haar blokspringery en haar eie reël dat die toon nie aan ’n gleuf maak raak nie, kom sy streng na. Juffrou Minnaar, haar onderwyseres, ook bekend as ou Bolla, meen dat sy kinders ken en ons weet dat Saartjie uiters briljant is, en ten spyte van die kompetisie tussen haar en Matilda Nielsen, staan Saartjie weer eerste. Sy is dus ’n intellektuele ster en gewild by alle kinders, behalwe tydelik by Matilda, wat in kompetisie met haar is. Hierdie spanning word egter in die boek opgelos wanneer Saartjie by die fliek met die hulp van Galpil (Lodewyk) haar gesteelde geld terugkry.

II

Miller maak relevante stellings oor die ervaring van ’n mens se jeug, naamlik dat jy die unieke patroon van jou jeug moet raaksien en begryp. Dit sal jou uiteindelik beskerm teen latere onsekerhede en selfs waansin.

Om iets te begryp is dit noodsaaklik om die opposisie tussen die ouer wêreld en die hedendaagse tyd uit te werk. (Die nuwe tydvak is waarskynlik iets wat ons nog nie genoegsaam begryp nie, maar dit behoef ’n ander studie.) In Carina Diedericks-Hugo se Thomas@rock-ster.net leef die hoofkarakter nie meer in ’n onskuldige ruimte nie. Die jong leser word behalwe vir die boek ook geneem na QR-kodes wat jou lei na ’n klankgreep, video en foto; ’n spesiale MXit-kanaal net vir Thomas en vriende; ’n gunsteling-speletjie Fangs en ’n Radikale Rockfees se webblad waar jy self ’n rockster kan word en jou eie musiek kan meng. Thomas-boeke verwys na “losers” of “pel”. Die woord “sure” word gebruik en uitdrukkings “soos in glad nie”.

En die lewe suig. Die idilliese bestaan wat in ouer kinderverhale aangebied word, word in hierdie tekste geproblematiseer. Op die agterblad is daar byvoorbeeld nie net wit kinders nie, maar ook bruin en swart kinders, wat aandui dat Saartjie Baumann se wit skool verander het na ’n gemengde skool. Karen Zoid, Hannah Montana, Francois van Coke en ander, ondermyn die onskuldige wêreld. In Saartjie is daar ’n verwysing na Bing Crosby. Die harde werklikheid van die nuwe Suid-Afrika kom ook aan bod met verwysings na die impak van ’n kaping op ’n lewe. En ’n mesaanval.

Daar is onder andere kru taal in (“poepsak”, 44), en die karakters praat waarheidsgetrou. Die Afrikaans in die Saartjie-boeke is suiwer met hier en daar kindertaal (“wassiemekoliet” en “goete”, onder andere).

In die Thomas-boeke word “crushes” beleef en skoolwerk verloop nie altyd vlot nie. Thomas het ’n selfoon en daar is ’n band, die Hectic Hamburgers, wat konsert hou. Saartjie se konsert is onskuldig: sy wil geld insamel vir die Strandfonds en sy is besorg oor arm kindertjies in Indië. Saartjie is haar moeder se vreugde en las en haar vader se oogappel. Thomas het ’n pa wat die skoolhoof aanvat en met ’n siviele eis dreig oor wanoptrede en viktimisering van sy kind.

III

Die Sonskynklub bestaan uit Galpil, Gert, Piet, Matilda Nielsen, Apie, Bennie en natuurlik Saartjie, Lina en Anna en die kleinsus Muggie. Teenoor die Hectic Hamburgers vind ons ’n Matilda wat viool speel en meer spesifiek, die “Blou Donou”-wals. Anna doen ballet (Dans van die goue swaan) en Lina dra voor met Apie en Bennie wat grappe vertel. Saartjie skryf ’n toneelstuk, Die berugte rower word gevang. Daar is wel chaos wanneer Apie nie wil neerval wanneer hy geskiet word nie. Ons vind verwysings by hierdie konsert na Bing Crosby en Al Debbo en die grootmense geniet die kinders se kaskenades. ’n Nies verander ’n optrede in ’n geklikheid. Die ouers of volwassenes word nie duidelik geteken nie. Hulle is net ’n stille aanwesigheid wat die kinders se optredes goed vind. In die boek is daar ook ’n ingebedde spookverhaal. Muggie val in die kelder van ’n ou huis, maar Saartjie spring af en red haar. Hier word dan ook geld ontdek van die kluisenaar wat spoorloos verdwyn het en wie se geraamte nou in die kelder van die onbewuste lê. Die polisie is op hul pos en red die kinders. Wanneer die bye oom Petrus se hoenders doodsteek, omdat daar met ’n byenes gelol is, help die vader. En Apie oorleef sewentien bysteke!

IV

Saartjie is haar moeder se vreugde en las en haar vader se oogappel. Met ’n soet glimlag raak Saartjie sorgeloos aan die slaap (111) en ons almal onthou die weerbarstige krul! Dikwels word Saartjie aangespreek dat sy haar nie soos ’n dame gedra nie (111) en in ’n debat oor die swaard versus die pen oortuig sy ons as lesers oor die mag van die pen.

Hierdie roman dui op ’n oorgang van laerskool na hoërskool (en al die onsekerhede wat dit inhou) en die skoollied is een vol heimwee en verlange (126). En die roman eindig met Saartjie se voet wat aan ’n gleuf raak en hierom moet sy weer van voor begin. Met elke uitdaging is hierdie heldin altyd ’n wenner met glimlaggende ouers wat haar liefhet én begryp.

Meer nog, Saartjie is ’n skrywer van ’n toneelstuk, en ’n heldin. Thomas is ’n rockster. Fleur dra ’n noupassende swart rokkie met stewels wat tot by haar knieë kom, terwyl Saartjie ’n wit panamahoed dra. Wanneer Thabo opmerk: “Wow. There’s a lot of people out there” (128), kan ’n mens hierdie uitspraak van toepassing maak op die verskuiwing in die romangrense. By Saartjie is daar telkens sluiting, oplossing. By Thomas is daar ’n virtuele ruimte en die internet beteken dat niks meer kan sluit nie. Die paradoksale eenheid of segment van ’n roman, aldus Culler in Structuralist poetics (1975:210), waar elke element gedefinieer en bepaal word deur sy funksionele kwaliteite of korrelasie met ander eenhede, word in Thomas@rock-ster.net oop-gemaak. Elke plot-onderdeel het ’n funksie. By Saartjie is daar selfs, wanneer sy afspring in ’n kelder, ’n sagte kol sand wat haar beskerm. Thomas word gekonfronteer met Billy Fourie wat meneer Du Toit met ’n mes gesteek het en bel self die ambulans (106). Die pa kom wel later tot sy redding.

V

Die Jodin Alice Miller is in 1923 in Pole gebore en in 2010 in Frankryk oorlede. Haar werk karteer die ingewikkelde siening van kindwees en onderwys wat sy dikwels uitwys as iets wat nie die kind se fantasiewêreld aanspreek nie. Ofskoon sy krities staan teenoor psigoanalise, is haar werk wél psigoanalities gebed. (Kritiek op Freud en Jung moet eerder gesien word as ’n ontwikkeling in haar eie denkwyse, maar sy hoort steeds tuis onder die psigoanalise as denkrigting.)

Deur die jare het ek Alice Miller se sieninge oor kindwees in my psige geïntegreer.1 Daardie terugkeer na die jeug om pynlike ervarings van ’n displaced kind weer te besoek, het ek gedoen. Die lees van ’n Saartjie-boek neem my terug na die kind-wat-ek-was en wat wou ontvlug uit die harde werklikheid van onsekerheid oor my identiteit; die feit dat ons telkens verplaas is na nuwe ruimtes waar ek altyd die nuwe, vreemde kind was. Teenoor Saartjie wat in een ruimte vertoef, trek ons gereeld. Saartjie het in my kindgemoed iemand verteenwoordig wat alle teëstand of misverstand uit die weg kon ruim of oorwin. Sy is altyd geliefd en haar selfopgelegde blokspringery het my waarskynlik ook bekend gestel aan haar gedrewenheid. Alice Miller weet te vertel dat Picasso se Guernica oor meer handel as die Spaanse Burgeroorlog. Dit speel ook terug op ’n kinderherinnering, weliswaar traumaties, toe hy as jong kind ’n aardbewing beleef en steierende perde sien en ook die nag die geboorte ervaar van sy sussie. Buster Keaton se uitdrukkinglose gesig verraai hoe hy as kind sy pyn moes verdring toe sy ouers hom aangerand het. In beide se psiges is hierdie verwonding opgevang. Hieroor skryf sy in The untouched key wat in 1979 verskyn het.

Kinder- en jeugboeke gelees deur Alice Miller se aannames beteken dat jy as volwasse leser terugkeer na ’n ruimte van hoe jy die roman as kind ervaar het én die impak daarvan op jou gemoed toe en nou.

Saartjie Baumann is altyd in staat om enige uitdaging die hoof te bied: skoolwerk, ’n reddingspoging van ’n ander kind of ’n bye-aanval. Sy is geliefd, mooi, vee ’n weerbarstige krul weg en is boonop ’n grapjas en skrywer. ’n Mens sou waarskynlik kon argumenteer dat jong lesers op dieselfde wyse getransporteer word deur Thomas wat eweneens uitdagings trotseer, ofskoon die eise van sy wêreld groter is. Hy is immers ouer as Saartjie, maar beleef die kompleksiteite van ’n virtuele wêreld. Hy moet steelfoto’s trotseer (98), en die indringende mediawêreld van Son en Huisgenoot is bekend aan hom. CNN is ’n werklikheid soos TV en films. En MXit is ’n wyse van kommunikasie.

Die lees van so ’n boek is ’n dubbelloop-aksie. Jy is sowel kind as volwassene wanneer jy hierdie soort roman lees. Culler maak ons attent daarop dat ’n roman met mimetiese verwagtinge werk en dat die skrywer/skryfster deur taal na hierdie wêreld beweeg (Culler, p 196). Verskeie tegnieke word aangewend om hierdie spel te bewerkstellig wat in Culler se terme ’n “retorika van die verteller” is (Culler, p 197). Daarom vind ’n mens in reeksboeke dieselfde beskrywings (wat die kind laat veilig voel), maar telkens is daar nuwe uitdagings. Instinkmatig begryp die jong leser dit: sowel Saartjie as Thomas sal kom-wat-wil oorwin, as heldin of held na vore tree. En die ouer leser lees juís weer hierdie romans om daardie gevoel van “closure” te kry.

Miller se werk het selfterapie behels en die leesaksie is ’n vorm van selfterapie na genesing of helderheid.2 Juis hoe jy geen stem as kind gehad het nie en uitgelewer is aan traumatiese of wisselvallige ervarings, kan jy dus ontsluit deur daarna terug te keer om te verhoed dat jy hierdie patrone op jou eie kinders (of studente) herhaal.3

Hierom is dié soektog immers vir Alice Miller die soeke na die ware self.4

The drama of the gifted child is ook gepubliseer as Prisoners of childhood.

Culler maak ons attent op die leeskontrak, of die oortreding van die leeskontrak (1975:214). Miskien oortree ek die leeskontrak van kinder- en jeugboeke, maar tog met ander insigte.

 

Bibliografie

Culler, Jonathan. 1975. Structuralist poetics. Structuralism, linguistics and the study of literature. Londen: Routledge & Kegan Paul.

Diedericks-Hugo, Carina. 2011. Thomas@rock-ster.net. Pretoria: Lapa.

Miller, Alice. 1995. The drama of being a child. The search for the true self. Londen: Virago.

—. 1997. The drama of the gifted child. The search for the true self. Londen: Virago.

—. 1997. The untouched key. Tracing childhood trauma in creativity and destructiveness. Londen: Virago.

Naudé, Bettie. 1993. Saartjie. Omnibus 1. Johannesburg: Perskor.

Vir Alice Miller se lewensloop is die Wikipedia geraadpleeg: http://en.wikipedia.org/wiki/Alice_Miller_(psychologist). Afgetrek 29.8. 2011

Eindnotas

1. The drama of being a child

As jong kind bekoor die reuke
van die somerse veld my veral.
Die dam met stilstaande water,
biesies in die vlei en paddavissies spartelend,
kwakende paddas, selfs ’n slang onder ’n klip,
glimwurms, grassade en giftige vrugte,
onthou ek helder soos ’n gedroogde boekmerk
in My Bybel skeefgedruk by Jesaja.
“Oppas vir Bilharzia,” sou my ma maan.
Bo-op die berg was daar ’n halfgeboude huis
met ’n sementpad en ’n Toegang verbode-bordjie.
Dié huis is nooit voltooi nie; niemand weet waarom nie.
Nie toe nie en ook nie nou nie.
Daardie huis, daardie onvoltooide huis,
sou my later agtervolg. In Malága
raak ek aan die growwe sement, skrik
vir ’n draad; die somerson ’n briesende koperkapel.
Ook die dam met verrottende water soek my op
in ’n droom: vasgevang tussen daardie biesies,
roep ek om hulp, wyl water oor ’n afgrond stort.
Hoe breekbaar én skrynend is die geheue nie.
Reuke soos smake is sigbaar, skryf Neruda iewers.
’n Klein pampoentjie op my tong sing steeds
van dit wat wild en onveilig en onstuimig-vreemd proe.

Nuwejaar

Snags in ons huis langs die rivier,
daardie rivier wat elke sewe jaar
sy onbestendige walle oorstroom,
gis die gemmerbier in die spens
langs ryp dadel- en piesangbrood.
’n Waatlemoen, spanspek, perskes
uitgepak vir die Nuwejaarspiekniek
op die groen walle van die sissende Vaal.
’n Man trek ’n knewel van ’n karp uit
en kinders gil oor ’n barber wat soos ’n slang seil.
’n Ski-boot gooi wilde esse en bierbottels bons
in die yswater langs smeulende vure.
Ma sit in ’n geblomde rok en pa met ’n blazer,
altyd die perfekte gentleman, luister na die kriekettelling
op ’n klein radio. Alles is so spiekeries.
Oom Johan, die gesondheidsinspekteur,
kla oor die munisipaliteit en Tannie Six,
nou gealzheimer, neul oor mense van kleur.
“Wees versigtig,” waarsku Ma. My suster
stap stroomop met ’n man; ek ontduik
’n jong luitenant se giftige blik. My oë vasgenael
op ’n meisie wat sonbrandolie insmeer.
Nou oorstroom die besmette Vaal nie meer
nie, en die Slegs Blankes-borde is onttroon.
En snags hoor ek die gemmerbierbottels
se doppe skiet in die spens van ons-huis-langs-die-rivier.

(Uit Lot se vrou wat vroeg volgende jaar by Human & Rousseau verskyn.)

2. It may be considered indiscreet to open the doors of someone else’s house and rummage around in other people’s family histories. Since so many of us still have the tendency to idealize our parents, my undertaking may even be regarded as improper. And yet it is something that I think must be done, for the amazing knowledge that comes to light from behind those previously locked doors contributes substantially toward helping people rescue themselves from their dangerous sleep and all its grave consequences. - Alice Miller, The Untouched Key, Voorwoord.

3. Vir kritiek op haar werk verwys ek die leser na hierdie artikel op die webruimte (“An analysis of the limits of Alice Miller”), ’n artikel wat paradoksaal juis haar besondere impak beken. Daniel Mackler is die outeur.

4. My dank aan my student in Kreatiewe Skryfwerk, Juanita Louw, wat my weer teruggeneem het na Alice Miller. By die skryf van hierdie essay het ek na die Nieu-Seelandse film gekyk: My father’s den, waarin die komplekse terugkeer na die jeug verhelderend vertel word (2004, Brad McGann regisseur). Dit is die verhaal van ’n oorlogjoernalis wat terugkeer na sy huis om ’n begrafnis van sy vader by te woon. Hy raak bevriend met ’n jong skoolkind, ’n talentvolle skrywer wat wegraak. Die krag van die film is nie geleë in die speurtog nie, maar in die feit dat hy deur die jong meisie sy eie pyn met ’n moeilike jeug konfronteer.