Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Clanwilliam, 1939


Bianca Nicholson - 2011-08-31

I.
Haar naam is Liesbet en haar bene hang oor ’n stoel. Hy onthou haar nou: Liesbet met die bont rok. Liesbet met die gesneuwelde knopknieë. Liesbet agter die grand piano. Liesbet met haar lang vingers in die lug: sy het altyd al die antwoorde.

Sy kyk op; haar oë skugter, maar haar mond breed. “Het jy verdwaal, Jan Francois?” Natuurlik het hy nie, hy het haar kom soek.

“Kan ek ’n sigaret saam met jou rook?” Hy volg die kooltjie van haar sigaret op na haar gesig. Liesbet met die karringmelk-vel. Liesbet met die roetswart hare. O, Liesbet, ek het jou reeds lief gekry daardie somer toe jy 14 was.

“As jy dan moet.”

Hy gaan sit nie by haar nie, bly eerder staan by die reling. Hy het eweskielik nie die moed om te vra wat hy moet vra nie en hulle rook in stilte.

“Dit is laat.” Sy staan op om te loop. “Ek gaan slaap. My pa se partytjies put my altyd uit.” Maar by die deur draai sy om. “Weet jy nog waar die ou sederboom is?”

Natuurlik weet hy.

II.
By die ou sederboom asem hy haar naam in en uit. ’n Sagte fluistering. Sy is besproet, besprinkel – die son het haar lief gehad nog voordat sy gebore is.

Kyk, liefling. Kyk, ons is die enigste twee mense – vir kilometers ver is daar niks. Dit is net ek en jy. Laat ek dan elke kurwe memoriseer, laat ek elke sproet memoriseer, selfs die fynste kleinste merkie in die binnekant van jou enkel.

Laat ek jou liefhê.

Want een van die dae sal ek ook gemerk wees.

Een van die dae sal ek jou agterlaat.

O, Liesbet, ek en jy onder die sederboom.

III.
Hy moet liewers nie by die trein se venster uitkyk nie; sy het toe nie gekom nie. O, Liesbet, jy het altyd al die antwoorde. Maar toe hy haar gevra het, was sy doodstil. O, Liesbet ... Hy kan maar net hoop – glo – bid dat sy onder die sederboom sit met die ring aan haar vinger.