Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Valhalla, 1974


Annemari Coetser - 2011-08-30

Gert skakel die Volla reeds aan toe Annie by die kafeedeur uitkom. Hy jaag die kar se revolusies op, sodat sy te haastig die deur agter haar toemaak en haar maksirok se een punt vasknyp.

Terwyl sy sukkel om dit los te kry, sê hy: “Jy’t die hele spektakel gemis.”

“Watse spektakel?”

“By daai huis het ’n vrou uitgeloop gekom met ’n suitcase in die hand.” Hy wys na ’n huis oorkant die parkeerterrein. “Jonk! Huil snot en trane. Stamp die hekkie oop en skop dit agter haar toe.”

“Siestog. Ek wonder wat’s fout.”

“Huismoles. Die man het agter haar aangeloop. Jy kon sien hy lek haar blink, maar sy storm straat-af met so ’n stywe ruggie.”

“Toe gee die ou moed op?”

“Nogal nié.” Gert trek weg. “Hy’t sy Cortina uit die garage gaan trek en is agter haar aan. Ry langs haar en praat deur die oop venster, maar sy loop dat die klippe spat.”

“Waar’s hulle toe –?”

“Hoe moet ek weet? Om die hoek.”

“Seker busstop toe. Kom ons gaan kyk. Dis Sondag. Daar’s nie vandag busse nie.”

“Nee!” Hy skud sy kop, maar ry stadiger. “Ek moes jou nooit vertel het nie. Nou’s jy weer op hol daarmee.”

“Net om die blok. Toe ’seblief?”

“En wat doen jy as ons haar sien? Vra haar om by ons te kom intrek?”

Annie streel oor sy arm. “Gertjie …”

Gert sug diep. “Net een keer om die blok,” sê hy streng.

’n Sondagstilte hang oor die verlate buurt. Daar is niemand by die bushalte nie. Hulle sien nie die Cortina nie.

“Ek het jou mos gesê.” Gert  wys na die huis toe hulle weer daar verbykom. “Kyk, die hek staan nog oop.”

Sy sê niks. Hy skakel die radio aan en stel die volume op. Kliphard sing hy saam met Johnny Nash: “I can see clearly now, the rain is gone. I can see all obstacles in my –”

“Dink jy die boud is al gaar?” onderbreek hy homself. “Laat die kinders help met die kos. Ek wil hê ons moet ná ete gaan skuinslê.” Hy knipoog vir haar.

“Die kos sal vroeg klaar wees.” Sy besef sy klink meer gelate as opgewonde.

Hy leun in die ry oor en bondel haar blou maksirok op tot hy haar kaal bobeen bereik. Sag streel sy growwe vingers daaroor. “Musiek in my ore, my vrou!”
Sy lag en merk met vertedering op dat hy al grys om die slape word.

Vir oulaas draai sy om en kyk in die pad af. Het die man die vrou met die tas toe omgepraat om terug huis toe te kom? Of het sy hom geïgnoreer en vasgebyt?
Weet sy wat vasbyt régtig beteken?

Sy dink aan die groot, bruin koffer bo in haar hangkas. Dis tyd om werk te soek. Maak nie saak hoe goed dit gaan nie, elke vrou  behoort ’n suitcase én ’n kar op haar naam te hê.