Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Welvaartbelasting


Jason Lloyd - 2011-08-30

Die meerderheid wit mense (en veral Afrikaners) toon geen begrip van, berou oor en respek vir die kroniese skade wat slawerny, kolonialisme en apartheid aan swart mense (in die breë generiese sin) aangerig het nie. Die klank, toon en aard van die reaksies van wittes op emeritus aartsbiskop Desmond Tutu se voorstel dat wittes self leiding moet neem met ’n “welvaartsbelasting”, is ’n bewys daarvan.

Die reaksie veral in die Afrikaanse media is ’n stortvloed kritiek op die “Arch”. Hy word verguis deur die meerderheid wittes (insluitend die FW de Klerk-stigting, wat bekend is daarvoor om wittes se ekonomiese belange te beskerm) as hy oor geregtigheid soos ’n welvaartbelasting praat. Maar as hy kritiek lewer op die ANC-regering, dan is die Arch wittes se held. Veral die Afrikaanse media jubel en juig dan en siedaar: Tutu is op die voorblaaie. So ook Allan Boesak as hy die ANC oor sy “verwaarlosing” van die armes aanvat.  

Die Arch is egter nou die wittes se vyand nommer een. So ook Boesak, wie dit gewaag het om Tutu in die openbaar te ondersteun.

Dit wil vir my voorkom asof wittes veral apartheid beskou as ’n eksperiment wat in ’n laboratorium verkeerd geloop het. Ons, die slagoffers, wie se menslikheid deur apartheid amper weggeneem was, moet nou net aanvaar dit was ’n eksperiment wat lelik skeefgeloop het. En dat ons moet aanbeweeg asof niks gebeur het nie.

Dit is nie so eenvoudig nie. En daarmee bedoel ek nie dié ongeregtigheid wat vir jare die skeidslyn tussen swart en wit was moet voortbestaan nie. Ons as slagoffers verwag meer van wit mense om die nuwe Suid-Afrika te maak werk.

Versoening – waaraan die meerderheid wittes hulle ongelukkig afvee – sal nie gebeur as die ekonomiese lot van arm swartes nie verlig word nie. Maatskaplike geregtigheid moet geskied en daarna versoening. Dit moet ’n duidelike boodskap deur die armes aan wittes en die regering wees. En dit moet ononderhandelbaar wees.

Wittes wat in die verlede, hede en toekoms nog steeds ongeregtig ekonomies bevoordeel gaan word, sal op ’n punt moet kom en sê hulle is bereid om swartes te help. En daai hulp kan in die vorm van ’n vrywillige welvaartbelasting geskied.

Wittes is dit aan Suid-Afrika en die meerderheid verskuldig, want daar is baie van hulle wat nog met een voet in die ou Suid-Afrika staan.

’n Verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het dit twee jaar gelede oor die lot van plaaswerkers uitgewys: “Skokkende vergoeding, alkoholmisbruik, ’n gebrek aan geleenthede, armoede, geweld, seksuele teistering, haatspraak en gebrekkige huisvesting”. En veral op plattelandse gebiede wil wittes nog steeds “baas” en “mies” wees.

Dié beelde uit die ou Suid-Afrika neem jou terug tot in 1978 toe Adam Small sy Engelse drama The Orange Earth, gebaseer op sy grootwordplek, Goree, geskryf het. Dit is waar sy ma deur die (wit) vrou agterom gestuur is toe sy by die plaashuis meel gaan haal het vir die nagmaalbrood.