Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Dwarskersbos, 1999


Jeannè-Maree Visser - 2011-08-30

Die kronkelpaadjie waarin ek afstap, lê voor my uitgestrek. Dit voel of ek al ’n ewigheid loop, maar ek weet ek moet. Ek weet iets goeds wag vir my aan die einde van hierdie lang kronkelpad. Ek sien ’n figuur in die verte. Dis jy! Soos ek jou altyd sal onthou. Broos, weerloos, foutloos.

Ons hande raak aan mekaar, sonder enige woorde ... woorde is nie nou nodig nie.  Ons stap na die rots waarop ons as jong verliefdes gesit het. Jy sit jou arm om my skouers, trek my nader en hou my net vas. Ons sê nog steeds niks, sit net daar, voel net die liefde wat ons vir mekaar het. Jare se liefde wat nooit verflou het nie. Ons hoef dit nie vir mekaar te sê nie, ons weet dit.

Jy draai jou gesig na my en glimlag. Jou hare hang nat oor jou voorkop. Jou oë gesels met my ... soos altyd. Ek kon nog altyd alles wat jy vir my wou sê, in jou oë lees. Jou lippe raak saggies aan myne. Net vir ’n oomblik.

Ons staan op en loop weer met die kronkelpad terug. Maar hierdie keer stap ons saam ... huis toe. Nooit weer sal ek alleen wees nie.  Ek sal jou altyd hier in my hart koester.

So wil ek jou altyd onthou ... Broos, weerloos, foutloos ... Tydloos.