Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

"Tydlose liefde"-kompetisie: Kenia, 1412


Isabel Mac Donald - 2011-08-26

Untitled Document

Die gebrul van ’n leeu hier naby hom laat Ennamu regop sit. Vandag is hy weer ’n man. Hy voel in sy hart sterker as die leeu wat daar brul. Hy voel vinniger as die bokke wat in die verte wei en groter as die trop olifante wat vanoggend vroeg langs hom verby gestap het.

Die harde donderweer en reuk van reën in die lug help elke stukkie van sy siel om wakker te vibreer.

Hy sit vandag eenkant, maak self kos. Hasie-sop. Heeldag het hy gesoek na al die beste blare en plante om by te gooi. Vrouwerk gedoen, maar hy gee nie om nie – hy word gedryf deur die wete dat die leeg in hom gevul kan word.

Sjentuso het hom die kyk gegee. Lankal vreet die obsessie aan hom. Hy sal moet uitvind of sy nog so oor hom voel soos lank-lank terug. Die verlange na die vrou wat hom nie beskore was nie, vreet aan hom. Nou het hy vir die eerste keer weer hoop. Haar man is ’n paar mane terug deur ’n buffel getrap en sy loop nou alleen. Geeneen van sy vrouens kon sy maag laat roer soos Sjentuso nie.

Hoeveel mane al opgekom en ondergegaan het sedert hy haar syne gemaak het, weet hy nie. Dit was net daardie een keer. Vóór al die vrouens en kinders en oorloë.

Sy vrouens het elkeen ’n paar kinders. Hy weet hy word gereken, gerespekteer, maar die wete dat Sjentuso weer syne moet word, jaag hom.

Vanaand as die son wegraak en die jakkalse hier naby begin roep, gaan hy die hasie-sop vir haar offer.