Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

The Tree of Life is verf wat stádig droog word


Jacques Liebenberg - 2011-08-26

The Tree of Life
Regisseur:
Terrence Malick
Kamerawerk: Emmanuel Lubezki
Rolverdeling: Brad Pitt, Jessica Chastain, Hunter McCracken en Sean Penn
Looptyd: 139 minute

 

 

Een van twee benaderings word vir The Tree of Life vereis.

Een: Moenie geld bestee om daarna te gaan kyk nie, want dis ontsaglik selfbewus en vervelig.

Twee: Leef jou vooraf in ’n besonder swewende, peinsende, metafisiese luim in en beskou die National Geographic-agtige gegewe as soortgelyk aan dié in The Thin Red Line, maar sonder die aksie, progressiewe storie, stewige vertolkings of minstens halfvolgbare dialoog.

Want The Tree of Life is skynbaar veronderstel om die kluisenaar-fliekmaker Terrence Malik se 2001: A Space Odyssey te wees; sy blik op die lewe, die heelal en sommer alles. Als aan die hand van ’n wanfunksionerende gesin van Texas in die 1950’s se wedervaringe – van sy drie seuns se geboorte totdat hulle daar wegtrek en die gesinslede mekaar uiteindelik op ’n strand in die hiernamaals weer raakloop.

Ja, ons weet die lewe is morsig en onregverdig en niemand is volmaak nie en pa’s kan diktators wees en ma’s die sout van die aarde en kinders vang kattekwaad aan, dankie. Daarby voeg Malick niks. En die tonele waarin Sean Penn as die nou volwasse probleemseun (Hunter McCracken vergestalt sekerlik een van die mees onsimpatieke karakters sedert George W Bush in Fahrenheit 9/11) die wêreld uitdrukkingloos beloer, is so onnodig soos verduidelikings oor waarom Bismarck du Plessis teen die All Blacks van die veld gehaal is.

Ongelooflik genoeg kry die akteurs in ’n looptyd van 2 uur en 20 minute nie veel kans vir enigiets wat as ’n gesaghebbende vertolking bestempel kan word nie en ding op gelyke voet met die onsamehangende beeldmateriaal mee. Dit laat die kyker onbetrokke en, nog erger, onbelangstellend.

Gedane sake het g’n keer nie en die paar uur wat mens in die Tree of Life-teater verwyl, gaan jy nooit terugkry nie. Malick sou in dié geval met ’n baie, baie sterk redigeerder kon doen. Almal weet die man versamel duisende ure se beeldmateriaal en dis seker g’n maklike taak om dit tot ’n samehangende geheel te sny nie, maar die fliek is so vervelig mens wonder hoe dit vir uitreiking op die kringloop kwalifiseer.

Dis dalk goeie bronmateriaal vir koffietafelgesprekke deur kwasi-intellektuele wat nooit Days of Heaven gesien het nie.