Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Damwal


Willem de Vries - 2011-08-25

Untitled Document

Dis seker moegheid wat my die aand van ’n plek ver van die stadsgeruis laat droom het. Ver van waar ek beroof is; waar die rooi liggie van ’n polisieskut op my gerus het toe dit ’n dief gevolg het; waar vier mans later sy mes by hom afgeneem het in die middestad oor etensuur.

My kop moes net kussing gevat het, toe is ek in ’n voorkamer van ’n plaashuis. Dit ruik na die doringbome en die stof van die Klein Karoo, maar ek ken nie die huis nie. ’n Man sit op ’n houtstoel by ’n venster in die aangrensende vertrek. By die deur waar ek staan en by die venster kom lig die vertrek binne; donker kleef aan als in die kamer. Die gaasgordyn is oopgetrek na die een kant. Die son sit hoog bo goudgeel en die lug is ’n ligte blou, amper wit. Portrette van fier voorsate hang aan die muur agter hom. Die man se baard hang tot op sy die bors. Roerloos sit hy daar soos ’n beeld van was. Ek loop om ’n tafel om sy gesig te sien. Toe ek tussen hom en die gaasgordyn is, pak ’n verlammende vrees my beet. Sy oë is groot. Dit is oë wat gebleik is deur jare in die buitelug tussen lusern en beeste. Maar nou is dit leeg. Ook hier is niemand wat lewe nie.

Ek word vroegoggend wakker. Ek het toe iets van donderweer gedroom en toe ek my oë oopmaak, is dit die gerammel van ’n groot vragmotor wat teen ’n bult wegtrek. Ek maak die venster oop en kyk na Tafelberg net agter my woonstel. Toe ek die deur ’n rukkie later agter my toetrek, is dit warm. Ek ry by ’n bos in aan die voet van die berg en parkeer die kar. Ek wil die stad uit my lyf kry en loop teen die berg op.

Aan die linkerkant van die pad is ’n dam. ’n Paadjie loop al langs die oewer tot by ’n klipmuur. Daaragter val die berg weg.

Ek bereik die einde van die pad. Aan die afgrondkant van die damwal loop ’n smal lysie met ’n reling. ’n Gedeelte van die klipmuur is gelyk met die watervlak. ’n Lagie bruin water loop oor tot onder. Niks weerkaats in die damwater nie. Die damkant gee my meer hoogtevrees as die loodregte klipmuur. Ek leun op die reling en kyk in die klowe in. Dit is windstil en warm. Waar kom die ongemak vandaan? Of is vrees aansteeklik?

Water sypel ook uit openinkies in die rotsmuur. Ek onthou ’n berig oor ’n moord wat ek in die koerant gelees het. ’n Oomblik voel dit of die wal gaan meegee. Ek verbeel my die damwater stort met geweld in die klowe af en die skaduwees is flardes nag wat aan die bosse vashaak.

Ek stap terug na die parkeerplek en ry huis toe.

Terug in die woonstel maak ek ’n venster oop, maar al wat inspoel, is die ruising van die stad. Ek gaan slaap vroeg, doodmoeg.

Hierdie keer is die plek bekend. ’n Bos met op die digte stamme fyn merkies soos op etsplate. Ek loop verby ’n plaashuis wat oor ’n lusernlandjie uitkyk. In van die vensters van die vaalpienk huis hang toiingrige rooi gordyne. Langs die huis staan die murasie van 'n waenhuis. Die begraafplaas van Pa se kant van die familie is ’n ent daarvandaan.

Oorkant die kerkhof staan 'n huisie. Die stofstoep is netjies en dis skoon om die huis. Ek onthou die brak wat al die jare skuins voor die huis aan ’n konka vasgemaak gestaan het. Die hond verouder nie. Hy’s altyd dieselfde.

Op die stoep sit 'n man in 'n grys oorpak van die koöperasie. Littekens merk die jare aan sy gesig en arms. Hy knik vredig. In die huis speel ’n radio: "Ek en my meisie, ons het 'n huisie."

'n Ent van die pad, die veld in, is grafte wat ek nie tevore raakgesien het nie. Die oueres is net herkenbaar aan die wit klippies wat daarop gestrooi is. Ander is 'n deining grond en 'n klip wat onnatuurlik skeef ingeplant staan. Vier is van meer onlangs. Aan die koppenent van een is 'n tweeliter-Coke-bottel omgekeerd staangemaak. Daarbinne is 'n folio met die oorledene se gefotostateerde gesig, naam, van, geboorte- en sterfdag daarop. Die ink het nog nie verkleur nie. Op ’n ander, ’n ouere, staan 'n bottel van rokerige glas. 'n Styfopgerolde papier is in die nek sigbaar.

Terug by die familiebegraafplaas probeer ek die grafskrifte lees, maar dit is te klein en te ver en ek wil uit eerbied of vrees, wat weet ek nie, nie by die hek van die kerkhof ingaan nie. Die ou man stap nader. Hy teem met 'n dun, hoë stem: "Ek sien jy staan en trap-trap so, toe sê ek vir my vrou ek kom kyk wat die rede vir die onrustigheid is."

Sy is seker in die huis, want daar is geen beweging in die skaduwee oorkant sy stoel nie. Hy vra my wie ek is, en ek sê ek is van Volmoed se mense.

Hoe meer hy die verlede in praat, hoe groter word sy oë. Die petrolpomp wat voor die plaaswinkel gestaan het, se skwiek-skwiek. Van toe die koöperasie se lorrie nog dáár anderkant mense kom oplaai het.

Ek sê vir hom ek is bly die grafte lyk nog mooi.

"Ja," sê hy. "Ek werk nou daar by die ander boer, maar as ek 'n tydjie kry, skoffel ek dit mooi. Dit staan mos hier voor my huis."
Ek vra uit oor die ander grafte. "Dis ons mense wat daar lê, ja. Ouma Segryntjie wat deur die trein getrap is, sy en haar donkies. Een van my jongstes ook. Drie jaar oud. Hai, ja. En een van die nuwes is van die mense hier onder." Hy wys na die vaalpienk huis. "In die stad met 'n mes doodgesteek. Daar's nou so baie nuwe graftes.” 

  • Uit die LitNet-argief.