Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Kennisgewings | Notices

US Woordfees Versindaba-program


2011-08-25

Untitled Document

US Woordfees Versindaba
Ouditorium, J.S. Gericke-biblioteek, Ou Hoofgebou, De Kelder, Lanzerac
23 en 24 September 2011
Toegang: R30 per sessie, tensy anders aangedui.
Spesiale dagkaart (alle sessies): R120.
Kaartjies: Woordfeeskantoor (kamer 615, Lettere-gebou, US-kampus), Protea Boekwinkel, Stellenbosch, of by deur. Telefoniese besprekings: 021 808 3513

Vrydag 23 September

  • Lina Spies lewer die DJ Opperman-gedenklesing
    D.J. Opperman-gedenklesing

    God, die magtige magneet: die religieuse motief in die poësie van D.J. Opperman – Lina Spies
    Aangebied deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch

    In die 13de D.J. Opperman-gedenklesing verken prof. Lina Spies die godsdienstige inslag in die poësie van haar mentor en leermeester, met ’n interessante visie gegrond op haar eie geloofsbeskouing. Die lesing word aangevul met boeiende digitale beelde verskaf deur die US se Dokumentesentrum. Geniet ’n glasie wyn en ligte verversings agterna saam met die spreker.

    19:00 vir 19:30 ● Ouditorium, J.S. Gericke-biblioteek ● Gratis

Saterdag 24 September 2011

  • ’n Laaste gedagte tussen ons ... Briewe van die Louw-broers
    Met John Kannemeyer, Suzanne Bezuidenhout, Shané Kleyn, Catrina Aldrich en Marelize Ferreira.

    NP van Wyk Louw word deur John Kannemeyer onder hande geneem
    In hierdie interessante gesprek lig J.C. Kannemeyer en van sy medewerkers die sluier oor die fassinerende gegewens in die korrespondensie tussen die digter-broers W.E.G. en N.P. van Wyk Louw in die periode na 1940, tot en met Van Wyk Louw se dood in 1970. Sensitiewe snare word geroer wanneer die broers in konfrontasie tree oor Van Wyk se veelbesproke verhouding met Sheila Cussons en onderlinge gevegte in die destydse literêre gemeenskap.

    09:00 – 09:45 ● Ou Hoofgebou ● R30

  • Dana Mouton-gedenklesing: Marthinus Nijhoff se “Impasse”
    Ronel Foster

    Ronel Foster lewer die Dana Mouton-gedenklesing
    Ideaal vir die ernstige poësie-liefhebber: prof. Ronel Foster werp ’n boeiende blik op ouer en jonger literatore en digters in Suid-Afrika en Nederland, soos T.T. Cloete, Merwe Scholtz, K. Michel en Alfred Schaffer, se uiteenlopende reaksies op Nijhoff se bekende gedig “Impasse”.  

    10:00 – 10:45 ● Ou Hoofgebou ● R30

  • WOW Woelige werkswinkels
    Ondersteun deur die ATKV

    Die toekoms van die poësie lê klinkend in die mond van die jeug. Die Woordfees se Woorde Open Wêrelde (WOW)-projek bied ’n opwindende werkswinkel aan waar laerskoolleerders van omliggende skole leer om verse te skryf, dit voor te dra en in lirieke om te sit.

    10:00 – 13:00 ● Ou Hoofgebou ● Gratis vir genooide leerders

  • WOW Verf- en Vers-werkswinkel
    Ondersteun deur die ATKV

    By die prettige Verf- en Vers-werkswinkel word graad 1 tot 5-leerders se sluise van kreatiwiteit oopgetrek wanneer hulle gedigte en verfwerk kombineer om woordkunswerke te skep. Geheime word gedeel oor hoe om jou eie verf te maak waarin jy jou vingers kan doop om aan jou woorde vlerke te gee op papier. Wenners van die WOW-projek se Verf- en Vers-kompetisie word in 2012 by die Woordfees se WOORDtroFEES bekend gemaak.

    10:00 – 13:00 ● Ou Hoofgebou ● Gratis vir genooide leerders

  • Floris Brown, die Worcester-troebadoer
    Aangebied deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans

    Floris Brown
    As digter pluk Floris Brown se poësie aan die hartsnare van heelwat poësieliefhebbers in Suid-Afrika en in Nederland. Charles Beukes en Michael le Cordeur salueer dié woordkunstenaar se lewe en loopbaan, waarna Brown self repliek lewer.

    11:00 – 11:45 ● Ou Hoofgebou ● R30

  • Adam Small se kitaar en kruis 
    In samewerking met RSG, met Iris Bester

    Byna twintig Afrikaanse digters bring hulde aan Adam Small met verse wat hulle spesiaal geskryf het vir dié geleentheid. Iris Bester verwelkom Lina Spies, Zandra Bezuidenhout, Johann Lodewyk Marais, Floris Brown, Martjie Bosman, Willem Fransman Jnr., Toast Coetzer, Andre Trantraal, Bibi Slippers, Marius Absalom, Pieter Odendaal, Izak de Vries, Elsibe Loubser, Anneleigh Jacobsenen Cas Vos.

    Adam Small
    Gedigte van Joan Hambidge, Johan Myburg, Loit Sôls, Tom Gouws, Marius Swart, Diana Ferrus, Hein Viljoen en Fanie Olivier word ook voorgelees en  ’n keur uit Small se werk bekend gestel.

    12:00 – 13:30 ● Ou Hoofgebou ● R30



  • Chris Chameleon aan die woord
    Ondersteun deur Rapport Onderwysfonds (ROF)

    Na die wegholsukses van Ek herhaal jou, spog Chris Chameleon met ’n splinternuwe album, met nog toonsettings van Ingrid Jonker se verse. Louise Viljoen gesels met een van Afrikaans se trotse uitvoerprodukte oor As jy weer skryf. Die CD is ook by Versindaba te koop.

    Rapport Onderwysfonds verleen finansiële hulp aan Afrikaanssprekende onderwysstudente deur middel van leningsbeurse. Kontak 073 122 8800 as jy ’n verskil wil help maak.

    14:00 – 14:45 ● Ou Hoofgebou ● R30

  • Musiek vir die ore!

    Nasionale boekeredakteur Elmari Rautenbach stel digters bekend wat pas hul buiging in Afrikaans gemaak het. Sy verwelkom  debutante Fourie Botha (Donkerkamer), Jasper van Zyl (Die lewe tussen pikkewyne), Anne-Ghrett Erasmus (Die lekkerste perske is ’n vy), Andries Samuel (Wanpraktyk) en Nini Bennett (kodeks).Kom moedig die varsste digterstalent aan op hul opwindende nuwe pad.

    15:00 – 15:45 ● Ou Hoofgebou ● R30

  • SLiP slaan toe!
    Aangebied deur die nuwe Stellenbosch Literêre Projek

    Khanyisile Mbongwa tree op in “Slip slaan toe”
    Die maandelikse InZync-poësiesessies in Kayamandi wys iets broei in die Boland: ’n nuwe drif, ‘n ruwe poëtiese energie. Nou kan jy ook kom luister hoe praat podiumdigters uit die Kaapse townships en Stellenbosch-omgewing jou ore aan die brand. Adrian Different, Khanyisile Mbongwa, Pieter Odendaal en Mambesi Goje deel die verhoog in hierdie veeltalige, genre-oorskrydende vertoning.

    16:00 – 16:45 ● Ou Hoofgebou ● R30

  • Digtersgala

    Politika-Uitgewers nooi u uit na ’n hoogtepunt op die jaarlikse poësie-kalender. ’n Spoggeleentheid waar Lina Spies, Martjie Bosman, Marlise Joubert, Cas Vos, Bernard Odendaal, Johann Lodewyk Marais en Alfred Schaffer hulle gedigte kom lees. Luister ook hoe Joanie Combrinck en Marlo Minnaar verse van T.T. Cloete, Breyten Breytenbach, M.M. Walters, Hennie Aucamp, Joan Hambidge, Mari Grobler, Louis Jansen van Vuuren en Johann de Lange tot klank bring. Valiant Swart, wie se Toorwoorde roep my groot opslae maak, sorg vir die kombinasie van musiek en woord. Kom kyk ook wie ontvang die Ingrid Jonker- en Protea Poësiepryse.

    18:30 vir 19:00 – 21:00 ● De Kelder, Lanzerac Hotel ● R50. Heerlike verversings ingesluit.

  • Verras!

    By hierdie gewilde oop mikrofoon-geleentheid stel jong opkomende digters hul talente ten toon, met Pieter Odendaal (self ’n inspirerende nuwe digter) as sjarmante gasheer. Ongepubliseerde digters wat wil deelneem, kan voor 20 September ’n e-pos stuur aan woord@sun.ac.za.

    21:00 – 22:30 ● De Kelder, Lanzerac Hotel ● Gratis

 

Ons groot dank en waardering aan die volgende donateurs wat Versindaba moontlik maak:

  • Naas Steenkamp
  • John Daneel
  • Caro Wiese
  • Politika-Uitgewers
  • Naspers
  • SBA
  • Rapport ROF
  • ATKV
  • Lapa
  • Protea Boekhuis
  • RSG
  • Departement Afrikaans en Nederlands
  • Universiteit Stellenbosch
  • Distell
  • WOW-projek
  • Lourensford-wyne