Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Vrye Woord-resensies

Politokrasie: Koos Malan se skerp bemoeienis met die territoriale staat


Pieter Duvenage - 2011-08-25

Politokrasie
Koos Malan
ISBN: 9780986985737



Koos Malan se werk Politokrasie, met die subtitel “die dwanglogika van die territoriale staat”, verdien ’n wye leserspubliek onder Afrikaners in die besonder en Suid-Afrikaners in die algemeen.

Malan se sentrale argument is dat die staat, veral die territoriale en soewereine staat, soos ons dit vandag ken, nie ’n natuurlike nie, maar ’n historiese gegewe is. Met ander woorde die staat het nie altyd gelyk soos dit nou lyk nie en hoef ook nie in die toekoms so te lyk nie.

Ongelukkig is die ideologie van die eietydse moderne staat van so ’n aard dat baie van sy burgers nie dit kan raaksien nie en gevolglik hulle burgerlike lojaliteit en afhanklikheid aan die staat volledig, as ’n tipe Leviatan, of “sterflike god”, betuig. In ’n ander politieke woordeskat sou mens kon sê: die moderne burger het ’n valse bewussyn oor die reikwydte van die sogenaamde almagtige territoriale staat.

Malan se boek bestaan uit tien hoofstukke, waarvan die eerste nege ’n omvattende historiese en sistematiese rekonstruksie van die moderne staat bied. Hier wys hy hoe die politiek in die Middeleeue (Republica Christiana) baie anders gelyk het as sy opvolger – die moderne staat sedert die Renaissance. In hoofstuk 4 word verduidelik hoe denkers soos L’Hôpital, Bodin, Hobbes en Locke ’n paar eeue gelede die denkvoorwaardes vir die moderne staat (staatlikheid) neergelê het. Teen hierdie agtergrond is die staatlike paradigma verder met denke en praktyke verfyn totdat dit in die vorige eeu en ons eie tyd tot feitlik iets onaantasbaar en “vanselfsprekend” uitgegroei het. 

In dié opsig het die moderne staat as “sterflike god” volgens Malan ’n “gemeente van aanbidders” gekry. Hierdie aanbidders is nie net die algemene publiek nie, maar ook ’n groot verskeidenheid denkers wat die afgelope paar honderd jaar onverpoosd daaraan gewerk het om die “boodskap” van die modern territoriale staat met raad en daad uit te bou. Teen dié agtergrond wys Malan op die “dwanglogika” van die moderne staat wat sy staatlike identiteit bo enige ander openbare identiteit inprent en daardeur die staatlike orde in gemeenskaps- en individuele afhanklikheid omskakel.               

Daar is veral twee wyses waarop die dwanglogika van die moderne staat as bepalend vir burgers en gemeenskappe werk. In die eerste plek is die staat vandag feitlik universeel die hoofbepaler van individue se openbare identiteit. In die proses word enige verbintenis wat individue met ’n bepaalde groepsidentiteit (kultureel, talig, godsdienstig, etnies, regionaal) mag hê, as bloot privaat gesien. Slegs die staat kan openbare identiteit tot stand bring. Staatlikheid marginaliseer dus alle ander vorme van identiteit – iets wat volgens Malan sedert 1994 verwoed in Suid-Afrika aan’t werk is.

Tweedens verwys staatlikheid na die reëls van wetenskapbeoefening. Hier gaan dit oor wetenskapsbeoefening (as kennisparadigma) aan die hand en ter wille van die behoeftes van die staat. Dit is veral die geval in dissiplines soos politieke teorie, politieke wetenskap en die regswetenskap en in die werk van tydgenootlike denkers soos John Rawls en Ronald Dworkin.

Hoewel baie van hierdie dissiplines en hulle denkers staatlikheid tot kort gelede op versweë wyse as natuurlik en onverganklik aanvaar het, het die klimaat tog verander.

In die eerste plek is die moderne staat, soos gestel, ’n historiese en tydelike verskynsel – dit het gekom en kan weer gaan. Tweedens word die moderne territoriale staat van onder én van bo uitgedaag. Van onder staan die staat onder die druk van die politiek van kulturele identiteit of nuwe nasionalisme en van bo is internasionale ekonomiese integrasie – globalisering – aan die werk. Teen dié agtergrond kan daar volgens Malan van die “verwering van die staat” gewag gemaak word.

In sy kritiek op die dwanglogika van die modern staat fokus Malan veral op die kragte wat van onder aan die woel is. Dit gaan hier oor nuwe strominge of bewegings wat ’n meer besondere klem op taal, kultuur, godsdiens, gebied ens as identiteit plaas en bowendien tot uitdrukking kom in druk dat die polities-konstitusionele ordening dienooreenkomstig aangepas word. Vir Malan het die politiek van identiteit die ou kategorieë van links na regs op die ideologiese spektrum heeltemal ontwrig. Hoewel hy nie so naïef is om die huidige territoriale staat as ’n uitgediende instelling te beskou nie (die staat bly steeds die vertrekpunt vir bykans alle politieke en juridiese teoretisering), is sy slothoofstuk ’n besinning oor die noodsaak van die staat om ook aan kleiner entiteite (en minderhede) groter outonomie en selfstandigheid toe te ken.

Dit is waar die konsep politokrasie – die pleidooi vir die verbeterde ordening anderkant die staat – ter sprake kom. Die sleutel tot politokrasie is die tuistelike gemeenskap, wat verskeievorme kan aanneem, maar vir Malan veral tot uitdrukking moet kom in die grootliks kultuur-homogene en selfstandige vry stad as die belangrikste plaasvervanger vir die territoriaal-sterflike god wie se tydige vertrek Malan bepleit.   

Malan se argument sal natuurlik ook sy teenstanders vind. Vanuit ’n liberale hoek sal daar diegene wees wat voel dat ons nie onnodig aan die territoriale staat met sy vrye mark moet torring nie. Elke individu (wat die produk van historiese individualisering is) het tog haar reg binne die grondwet van die regstaat. En vanuit ’n meer radikale hoek sal die argument wees dat Malan nie genoegsaam klasse-onderskeidinge en materiële faktore verreken nie.           

Hoe dit ook al sy, Koos Malan het daarin geslaag om as regsgeleerde ’n interdissiplinêre gesprek met ander dissiplines (veral die politieke teorie) oor die moderne staat aan te knoop. Die verdienste van sy werk is egter dat dit nie bloot vir akademici geskryf is nie. Dit is so helder geformuleer (sonder om diepgang te verloor) dat enige ingeligte leser dit sonder moeite sal kan volg. Met die skryf van hierdie werk het Malan homself nie net as ’n regsgeleerde laat geld nie, maar ook ’n openbare intellektueel in die volste sin van die woord geword. 


  • Pieter Duvenage doseer filosofie by Monash (Suid-Afrika) in Johannesburg.