Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans

Onder ’n moerbeiboom


Marlise Joubert - 2011-08-25

Untitled Document Só is dit dan!

Hier staan ek. In die tou van die werkloses. ’n Lang tou wat lui om die kantoorhoeke afslang na die sykant van die landdroshof – die afgedanktes, die pakkettiele, die geraktes.

Ek staan ingedruk tussen ’n onbekende bruin vrou voor my en ’n man agter my. Leun teen die kalkwit koeltes van die gebou en neem my nuwe afgelegde status weer in oënskou.

Anderkant die smal klipsteeg, op die oorkantste sypaadjie, staan ’n massiewe moerbeiboom. Reik baldadig uit tot bo-oor die mense. Vorm feitlik ’n tonnel van skadu vir motors of voetgangers. Die oggendwindjie is koel en speel liggies deur die blare. Ten minste kry ons werkloosheidsversekering, dink ek wrang. Al is dit net vyf-en-veertig persent van die laaste salaris. Ses maande se uitbetalings.

’n Kar ruk oor die slaggate in die steeg. Hou stil op ’n geel streep reg langs die boom. Vier paar oë rol nuuskierig van links na regs oor die mense, trek dan weer met ’n vaart weg. Ek lees die groot stieker teen die agterste ruit: When days are dark, friends are few. Inderdaad. Tog voel ek kriewelings van avontuur en vryheid teen my rug opbeweeg. Is die dae werklik so donker? Is my vriende minder?

Ek kyk regs na die vrou voor my, ook met die rug teen die muur. Sy is groot en swaar. Sy dra ’n wye rok met pienk rose op. Madame Rose, dink ek  glimlaggend en knik stilswyend toe sy omkyk na my toe.  Aan my linkerkant staan die klein figuur van ’n man, die skouers ineengekrimp. Hy dra ’n rooi gebreide mussie met die swart letters ukuku daarop. Wat op aarde sou dit dan beteken?  Ek stap ’n ent weg uit die ry, bekyk die man se hoedjie tersluiks van duskant af. Steeds ukuku; die woorde is dan seker reg rondom die mus.  Skoon koekoes van werkloosheid, so lyk dit my.

Ek praat met Madame Rose. Sweetdruppeltjies vorm op haar bolip. Sy weet nie mooi of sy in die regte ry is nie. Sy voel sy gaan flou word. “Gaan stap ’n ent,” stel ek voor. “Maak ’n draai deur die dorp en gaan drink ’n koeldrank. Dalk sommer ‘n shooter. Ek sal jou plek vir jou hou.” Die pienk rose waggel onder die boom deur en verdwyn agter die wit ringmuur, dorp se kant toe.

Die tou mense word al hoe langer en langer. Dank Vader ek het so vroeg ingekom! Net sowat veertig mense voor my in die ry. En nou reeds minstens nog vyftig agter my. Dit tref my skielik dat al die werkloses in hierdie tou swart of bruin van gelaat is. Net ek en een ander vrou staan witgeskrik soos twee soutpilare tussen hulle. Sy is die derde een aan my linkerkant, die hare kortgeknip en gryswit. Haar syhemp duursaam met fynblou strepies op. Sy dra ’n goueraambril en pêrels aan die oorlelle. Hoekom is sy hier? Ook ’n pakkettiel? Dan sien ek die verslonste jeans en vuil tekkies, die kouse vol grys tarentaaltjies. ’n Vrou met ’n gespikkelde humorsin!  Armoede by die voete, maar deftig gepêrel aan die ore en verguld om die oë.  My mede-soutpilaar stort in duie. Gaan sit op die hurke, haal ’n boek uit en begin lees. Later sien ek die boek se titel is Reflexology, met ’n foto van ’n mooi voet op wat deur strelende vingers gemasseer word.

’n Man ry op ’n fiets. Hy fluit en roep hard uit: “Dissie ek wat skillig issie! Dis djulle! Siewe maer jare vir djulle – maar moenie worry nie, dan kom die siewe vet jare!” Lag uitbundig en vermakerig. Nog drie mans stap vinnig verby met aktetasse, die oggendkoerant in die oksel vasgeknyp, op pad na die hoofingang. Een met ’n selfoon teen die oor vasgeklem. Hy praat en beduie driftig met die aktetas: “Ek vermorsel daai fokken hond vandag!” 

’n Polisiemotor ry stadig in die steeg af. Hou ’n ruk lank stil in die koeltes. Tjek natuurlik die mense op, dink ek. Koekoes syg teen die muur af en gaan sit plat, die bene opgetrek. Sy olyfgroen langbroek is voos en uitgerafel. Hy staar nikssiende voor hom uit, droewig onder sy rooi wolkoepeltjie vol ukuku’s. Hemel, hier is niemand mos tog skuldig nie? Ons is maar net werkloos. Skrikwekkende loslopende verminderings en afleggings uit die Suid-Afrikaanse samelewing. So loop die arbeidsmark leeg. Hoop daar is genoeg geld vir almal in die staatskis! Sal my nie verbaas as dit opdroog nie.

Madame Rose is terug, hygend en natgesweet.

“Watter ry is daai mense?” vra sy benoud en vee met ’n sakdoek oor haar gesig terwyl sy die swart blinkleerhandsakkie in die klam holte onder haar arm vasknyp.

“Dis glo vir identiteitsdokumente en wat nog,” vertel ek haar.

“Mens sal ook nooit weet waarvoor alles in die lewe is nie,” sê sy.

Nog ’n paar aktetasse stap flink verby. Die een met ’n swart toga oor die skouer gegooi. Argeloos. Ek gaap hom openlik aan. Wat ’n mooi man! Hy wen seker al sy hofsake. Oh, when days are dark … Ek kyk op in die moerbeiboom. Die takke strek oor ons koppe, son toe. ’n Bed van donker blare met stippels lig wat deursypel. Dis asof ek vir Pa skielik hoor ritsel tussen die blare. Of miskien het hy maar net in sy graf omgedraai oorlat sy dogter nou ’n gerakte vrou is! Dit nogal sonder haar mediese voordele. Die blare is vars en skittergroen. Wat het geword van die moerbeiboom op jou erf? roer Pa saggies. Ek het hom laat afkap, Pa. Ek moes tog.

Hoekom? ruis Pa ontsteld verder.  Jy weet mos ek is lief vir bome?

Ek ook, ja. Maar Pa weet dat ek jare lank die boom getroetel het en jou kleinkinders kon heerlik speel daarin. Spekvet moerbeie eet na hartelus. Maar die boom het baie probleme gegee. Want die wurmvruggies het die wêreld vol gelê op die stukkie teer tussen die garage en my huis se agterdeur. En die kinders se kaal voete was altyd vol moerbeisap en die matte in my huis vol persrooi kolle getrap! Praat nou nie eens van die skeeloogspreeus wat hulle knuppeldik en blink gevreet het en dan my huis se mure vol geblerts het nie. Dan was daar ook die hark van hordes dooie blare in die winter …

Nie genoeg rede om ’n lieflike boom te vermorsel nie, grom hy.

Miskien nie. En tog. Die kinders is nou groot en uit die huis. Dit was net ek en die spreeus en my skoene vol moerbeisap. Toe laat ek die boom kettingsaag. Sy tyd was uitgedien, Pa. Ek het hom gerak. Ek het wel gehuil oor die boom. Waar geen skadu is nie, is mos geen lewe nie. Toe het ek die opgesaagde ronde stompe sommer so in die tuin laat staanmaak. Versplinterde ou boomsiel. Maar daar is nog lewe ... Die stompe het later dun groen takkies uitgestoot, met reusagtige gladde blare. Geen wortels nie. Blote innerlike vog. Tog vreemd, nie waar nie?

’n Man in ’n uniform stap verby en roep: “Kraam en siektevoordele, kom vorentoe, asseblief!”

Minstens nege vroue swanger slingerend uit die tou en volg die man. Plus die nege onsigbare bultende babas natuurlik. Is daar sowaar iets soos kraamvoordele ook? Die tou beweeg effens vorentoe. Ek draai na Madame Rose. “Dis nou weer my beurt. Kyk, dis nog ’n volle driekwartier voordat die deure oopmaak. Hou my plek, asseblief, ek gaan gou vir ’n rukkie rondloop in die dorp.”

Sy knik vriendelik. “Dis reg so, mevrou.”

Koekoes waai met ’n slap handjie vir my. Hy lag. Ek kyk geskok na sy oop mond. Daar is geen enkele tand in nie!

Ek gaan sit buite voor ’n restaurant. Op ’n houtbankie onder ’n groot sambreel. Daar is baie rooi sambrele. Almal met groen woorde op: Chesterfield Legends. Ek bestel vars lemoensap. In die straat brul die motors op pad werk toe. Groot afleweringswaens rammel verby. Die winkels maak hulle deure wawyd oop. Mense beweeg haastig heen en weer, kom en verdwyn om die hoeke van geboue. Almal op pad werk toe. ’n Vullislorrie dreun verby. ’n Bromponie. ’n Paar fietsers trap veerkragtig.

In die oop binneplein, links van my, word houttafels rondgeskuif, sambrele opgeslaan, kleurvolle tafeldoeke oopgegooi. Kratte vol ware word uitgepak. Miskien ’n goeie inkomste? Maar wat sal ek nou by so ’n stalletjie kan verkoop? My boeke, my ou klere? My toentertydse speelplate miskien. My skilderye? Almal het werk, dink ek verslae. Of altans, so voel dit waar ek stoksielalleen sit en die oggendlug insnuif met ’n glas vol sap in die hand.

’n Jong meisie begin wit T-hemde met diverse gevaarlike diere op uit die bokse los te skud. Leeus en luiperds en olifante word aan die houtspeke onder die sambreel opgehang. Daar is altyd plek vir nog wildtuine in hierdie land. Nog ’n man met lang stringe gevlegte hare haal sy Afrika-beelde en klipwerke uit reuseplastieksakke. Hy lyk opgewonde en maak ’n paar vrolike danspassies om die tafel op musiek wat net hy kan hoor.

Ek stap terug. Die tou lyk korter. Ek gaan staan weer tussen die pienk rose en die rooi mussie. Die deure is oop en die voete skuifel nader.

Net voor die houtdeur draai Rose om na my toe: “Mevrou, ek gaan nou loop. Ek voel ek word flou.”

Sy stap vinnig weg en ek kyk bekommerd na die pienk gestalte wat in die pad afloop. Die gryskopvroutjie praat hard in ’n vreemde taal oor haar selfoon, die boek oor refleksologie styf teen haar bors vasgeklamp. Sy lyk ontsteld. Miskien selfs moedeloos?

Ek stap in. Nog ’n groepie mense in die portaal wat wag. Die kantoor is regs,  sien ek. Die ry mense slang nou in die vorm van ’n perfekte vraagteken. Binne is twee mense agter die toonbank. ’n Man en ’n jong meisie. Die man skree kort-kort NEXT! Maar next is regtig nie nodig nie! As die een uitkom, storm die volgende een soos blits na binne toe. Die mense is moeg gewag en die tou is nog lank. Links is ’n toe deur. Ek lees die gehawende handgeskrewe plakkaat op die deur: IOfisi Ye Toliki. Interpreter’s Office.

Ek stap uiteindelik in. Oorhandig die blou werkloosheidskaart plus ’n diensstaat aan die jong meisie agter die toonbank.

“Het u al werk gekry, mevrou?” vra sy streng.

“Nee. Ek het Vrydag eers opgehou met werk.”

“Retrench?” vra sy weer. Haar oë blits.

“Ja, sommer so na sewentien jaar se diens. Sonder mediese voordele. Net nog een jaar en twee maande en ek sou dit wel kon kry …”

“Mevrou, het jy al ander werk gekry?”

“Nee, hoe nou? Ek is dan eers verlede week uit die diens. Hoe en waar kry mens werk binne twee of drie dae? En as mens so na hierdie verskriklike tou mense kyk, dan wonder ek …”

Die meisie skryf. Bekyk my ID-boekie. “Mevrou, teken hierso.”

Ek kyk na die vorm voor my. Buite ritsel die moerbeiboom. Pa prewel iets tussen die jong blare. Ek teken.

“Mevrou kan end van die maand op die dertigste half past eight met die vorm hiernatoe kom.”

“En dan? Sal daar geld wees?”

“Nee, mevrou. As mevrou nog nie ’n job het nie, stuur ons die vorm af en dan kyk hulle daarna.”

“Hulle? Gee hulle dan die geld?”

“Hulle sal kyk, mevrou. Dalk kry mevrou iets na twee of drie maande.”

Drie maande! Dalk? En intussen? Hoe moet ek leef? Newwermaaind, ek sal oorleef. Die pakket se bietjie geld kan ek sekerlik rek soos ’n lang stuk kougom.

Ek vat die duplikaat van die vorm by haar en loop. When days are dark, dink ek weer, friends are few.  Ag nee wat, dis tog nie waar nie!

Terwyl ek onder die boom deurstap op pad motor toe, hoor ek weer die ligte wind tussen die blare en Pa wat fluister: Dis alles orraait, jy sal sien. Môre skyn die son weer!

Ek sit my hand om my keel en ek voel die kloppende warm stam. Ek vermoed daar is nuwe blare wat gaan groei, vars, groen en  taai. 

Daar is onteenseglik altyd skadu’s, omdat daar lewe is, troos ek myself. En in die mik van elke arm sal iemand sit: Madame Rose met die amperfloutes en Koekoes met die droewige mond sonder tande, terwyl ek hulle met dieprooi moerbeie voer.