Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Mondli Makhanya het nie ’n gewete nie. Hy moet bedank.


Jason Lloyd - 2011-08-25

Untitled Document

Mondli Makhanya is ’n kat met nege lewens, wat al lankal moes bedank het. Trouens, hy moes al by drie geleenthede bedank het, maar hy het nie. Tydens dié geleenthede moes drie rubriekskrywers en ook ’n waarnemende redakteur in die swaard val waarin Makhanya ook moes geval het.  

Nie eens die jongste mediastorm wat losgebars het nadat die rubriekskrywer Eric Myeni vir City Press-redakteur Ferial Haffajee aangeval het in ’n rubriek in die Sowetan het die einde van Makhanya beteken nie. Myeni se skryfsel is as ’n rubriek vol haat ervaar en aanvaar en gevolglik is hy afgedank as gereelde rubriekskrywer van die Sowetan. Minister Trevor Manuel het toe getwiet: “The media should not be above the law. I should not have read what I did on Monday.”

Maar die moeilikheid met Makhanya het al in 2008 begin.

In April van daai jaar was Makhanya nog redakteur van die Sunday Times toe ’n kru-rassistiese artikel van David Bullard in dié koerant gepubliseer is. Die artikel, onder die titel “Uncolonised Africa wouldn’t know what it was missing”, het Bullard sy werk as rubriekskrywer gekos.

Makhanya het sy pos behou en is selfs in Maart 2010 bevorder tot hoofredakteur van Avusa-koerante. En boonop het hy nog daarna die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) geword.

Vroeër vanjaar het Kuli Roberts se artikel oor die sogenaamde “stereotipes” van bruin vroue in die Sunday World ’n woede-golf veroorsaak. Sy is ook afgedank. Makhanya het weer sy pos behou.

Twee weke gelede het die joernalis en skrywer Anton Harber bogenoemde gebeure by Avusa in Business Day soos volg beskryf: “[T]he group of newspapers around the Sunday Times, all owned by Avusa, have now had three incidents of columns that got into print through negligence and which led to public outcries and the summary dismissal of the columnists involved.”

Nalatigheid en ’n gebrek aan ’n stelsel om dié soort onpubliseerbare rubrieke uit Avusa-koerante te hou bestaan nie. Met ander woorde: die “hekwagters” – waarvan die redakteurs die belangrikste is – het nie hul werk in al bogenoemde gevalle gedoen nie. In die geval van die Myeni-rubriek het die toe nog waarnemende redakteur van die Sowetan,Len Maseko, wel bedank. Dit was ’n eerbare ding om te doen, al was hy met verlof toe die gewraakte rubriek gepubliseer is.

Dit is ook belangrik om te noem dat Maseko nog steeds vir die Avusa-groep werk. Met ander woorde: hy is ge-redeploy soos ’n tipiese politikus. Dit is ironies, veral gegegewe die media – met Makhanya voor in die koor - se kritiek dat die ANC hul politici wat droogmaak, nie afdank nie, maar rondskuif in poste, hetsy in die party of in die regering. Bid jou dit aan.

Makhanya klou egter soos ’n vlooi aan sy hoogsbetaalde werk en aan Sanef se leierskap vas. Dit is dan dus heel veilig om te vra: Het die man dan nie ’n gewete nie?

Blykbaar het Makhanya vergeet wat Avusa se uitvoerende hoof, Prakash Desai, verlede jaar in ’n verklaring geskryf het toe sy bevordering tot hoofredakteur van Avusa-koerante aangekondig is: “Makhanya would be charged with setting up and running centres of excellence that will produce unique, original and compelling content for all of the group’s newspapers and websites.”

Tot dusver het Makhanya die toets gedruip. By drie geleenthede – een as redakteur van die Sunday Times en twee as hoofredakteur van Avusa-koerante – het hy nie gedoen wat Tim du Plessis in 2003 gedoen het toe hy Dan Roodt as Rapport-rubriekskrywer afgedank het nie. Roodt se artikel met die titel “Dis jong swart mans wat roof, verkrag en moor” is ongeskik vir publikasie bevind en is gevolglik nie geplaas nie. “[D]ie rubriek grens aan haatspraak, indien dit nie die grens oorsteek nie,” het Du Plessis per e-pos aan Roodt geskryf.

Alhoewel Haffajee in ’n onderhoud met Rapport gesê het: “Dis nie my plek om ’n ander mediagroep te kritiseer nie”, het sy tog indirek ’n vinger na Makhanya gewys deur soos volg op die vraag “As sy (Haffajee) Sowetan se redakteur was, sou sy bedank het?” te antwoord: “Ek dink so, want jy’t as redakteur nie die stelsels in plek (om haatspraak uit ’n koerant te hou) nie.” Eina …

Mondli Makhanya moet as hoofredakteur van Avusa-koerante en as Sanef-voorsitter bedank. Hy is duidelik nie vir dié poste geskik nie.