Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Super 8 laat die nostalgie onverdund bruis


Jacques Liebenberg - 2011-08-25

Super 8
Regisseur:
JJ Abrams
Kamerawerk: Larry Fong
Rolverdeling: Joel Courtney, Elle Fanning en Riley Griffiths
Looptyd: 112 minute



JJ Abrams se Super 8 is so ’n onbeskaamde en eenvoudige oefening in die nostalgie, mens vergewe hom al die gate in sy storie.

En dis nie sommer enige nostalgie nie, maar die Steven Spielberg-soort van die 70’s en 80’s. Spielberg, medevervaardiger van Super 8, se klassieke VVV-flieks Close Encounters of the Third Kind en ET: The Extra-Terrestrial lyk na die bronmateriaal vir Abrams se weergawe van kinders wat beter “sien” as grootmense en (veral) gesinstrauma beter kan hanteer omdat hulle soveel meer “in die oomblik” (om dit postmodernisties te hou) leef.

Maar ’n huldeblyk is noodwendig ook ’n viering van die onderwerp se sleuteleienskappe en derhalwe clichés. In “die ewige seun” Spielberg se geval is dit die te-slim-vir-hul-eie-beswil kinders wat bo hul moeilike huislike omstandighede uitstyg, stiksienige en eendimensionele volwassenes en onbuigsame gesagsfigure, en ’n minder dreigende besoeker van die buitenste ruim wat graag sy weg huis toe wil vind.

Oorspronklik is Super 8 dus allermins, maar as ’n “huldeblyk” slaag dit 100%. Dit begin reeds by die titel, want Spielberg se generasie bleeksiel-rolprentmakers het as skoolseuns reeds 8 mm-tuisflieks begin maak en dié verhaal speel in 1979 af. Abrams skep daardie 70’s-gevoel en -voorkoms reeds van die atmosfeergelaaide openingstonele en behou dit deurgaans. Mens kan verstaan waarom ’n storie wat uit ’n kind se oogpunt vertel word, soveel trefkrag het, want dis dadelik universeel en daardie gevoel van magteloosheid onder die grootmenssamelewing se aanslag is onlosmaaklik deel van kindwees.

Abrams ontlok stewige vertolkings van sy kinderakteurs (dieselfde kan nie van die volwasse akteurs gesê word nie, maar hulle’s in elk geval net klankborde vir die kinders se emosies en kanonvoer vir die “besoeker”) en gee hul wisselwerking a la Woody Allen bykomende oemf deur hulle mekaar te laat doodpraat. In dié chaotiese kolking van puberteit se aanslag is die bykomende krisis waarin die karakters gedompel word, net nóg ’n aanslag wat afgeweer moet word.

Joel Courtney is geloofwaardig as die hoofkarakter, Joe, maar dis Elle Fanning as die vrouehoofkarakter, Alice, en Riley Griffiths as die amateur-rolprentmaker en Joe se beste vriend, Charles, wat uitstaande spel lewer. Alice se eerste toneel in Charles se zombie-fliek laat die manne gepas sprakeloos en van daar is dit net afdraande soos sy al die tonele kaap waarin sy verskyn. En hoewel die volwasse karakters maar hoofsaaklik vensterversiering is, slaag Abrams tog daarin om van hulle in enkele tonele ’n skynsel diepte te gee, al is dit dan net vir ’n bietjie afleiding. Dit geld veral die plaaslike fotografiewinkelwerker, wat loshande met die fliek se beste stukkie dialoog (“I can do disco again”) spog.

Baie teleurstellend, ironies genoeg, is die intrige om die ruimtebesoeker, wat die katalisator is. Die punchline is iets waarmee Abrams nog altyd sukkel – dink maar aan Mission: Impossible III – en wat hom tot dusver keer om ’n meesterstuk te kan maak. Dalk ook maar omdat sy agtergrond in TV is, waar ’n reeks oor maande strek. Mens kan verstaan dat die ruimtewese nie veronderstel is om die hooffokus te wees nie, maar sy bekendstelling aan die gehoor en sy gedrag maak min sin.

Die fliek word gebou om die gedagte van die kinders wat iets vreemds afneem, maar die kyker sien die wese lank voordat daar gewys word wat op die film is. En wanneer mens dit wel die eerste keer sien, voeg dit niks by dít wat reeds gewys is nie. Dis ’n onsinnige ontknoping. Daarby laat sy gedrag mens ook met vrae, soos: Wat doen hy met die mense wat hy ontvoer (die afleiding is hy eet hulle) en wat’s die verband tussen die ondergrondse konstruksie (bloot ’n skuilplek?) en die watertoring (sy ontsnapmiddel?)?

Maar dit terloops.

Dit gaan nie oor die ruimtewese of die leuenaar-owerheid nie, maar oor die bande wat mense met mekaar vorm en die manier waarop trauma daardie bande verstewig of verbreek. En as ’n herinnering aan ’n tyd toe sulke “eenvoudige” stories die loketrekords laat spat het, slaag Super 8 uitstekend in sy doel.