Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Kennisgewings | Notices

Kortlys van die UJ-Prys vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans


2011-08-25

Untitled Document

Die UJ-Prys vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans word vanjaar vir die elfde keer toegeken. Vorige pryswenners was onder meer: Elsa Joubert (2009), Etienne van Heerden (2008), Breyten Breytenbach (2007), Ingrid Winterbach (2006), André P. Brink (2005) en Marlene van Niekerk (2004). Antjie Krog was die eerste ontvanger van die prys in 2000. Die UJ-Debuutprys vir Skeppende Skryfwerk is reeds vyf keer aan ’n prosawerk en drie keer aan ’n digbundel toegeken.

Die kortlys vir die UJ-Prys vir die beste skeppende skryfwerk in Afrikaans wat in 2010 verskyn het, is:

  • Die benederyk – Ingrid Winterbach
  • Die sneeuslaper – Marlene van Niekerk
  • Dwaalpoort – Alexander Strachan
  • Ligloop – Tom Gouws
  • Wat die water onthou – Louis Esterhuizen

Die kortlys vir die UJ-Prys vir die beste skeppende debuutwerk in Afrikaans wat in 2010 verskyn het, is:

  • Die begunstigde – Dirk Winterbach
  • Maal – Nicole Jaekel Strauss
  • Oewerbestaan – Melt Myburgh

Die wenners word op 1 September 2011 aangekondig. Die pryse word tydens ’n bekroningsgeselligheid in Oktober by die UJ aan die wenners oorhandig.

Universiteit van Johannesburg-Pryse vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans

Die Universiteit van Johannesburg (voorheen RAU) het in 2000 twee pryse vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans ingestel.

  • Die UJ-Prys vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans; en
  • Die UJ-Debuutprys vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans.

Die waarde van die pryse is die volgende:

  • Die UJ-Prys: R60 000 per jaar;
  • Die UJ-Debuutprys: R20 000 per jaar.

Die vereistes vir die pryse is die volgende:

  • Die UJ-Prys word toegeken aan die skrywer van die beste oorspronklike, skeppende werk in Afrikaans wat gedurende die vorige kalenderjaar gepubliseer is.
  • Die UJ-Debuutprys word toegeken aan die skrywer van die beste oorspronklike, skeppende debuutwerk in Afrikaans wat gedurende die vorige kalenderjaar gepubliseer is.

Die pryse is tydens ’n galageleentheid in November 2001 vir die eerste keer toegeken. Eersgenoemde prys is toe aan Antjie Krog toegeken vir haar bundel Kleur kom nooit alleen nie.

Agtergrond

Die idee vir ’n prys vir skeppende skryfwerk het in 2001 ontstaan nadat die Departement Afrikaans by die destydse RAU ’n skenking van R10 000 ontvang het om skeppende skryfwerk in Afrikaans te bevorder. Ons het besluit om ’n litrêre prys in te stel. Die Universiteitsbestuur het die idee ondersteun en ’n verdere bedrag van R 40 000 beskikbaargestel vir pryse. Daar is toe besluit om die twee pryse toe te ken soos hierbo verduidelik. Sedert 2007 is die prysgeld verhoog na die huidige bedrae.

Die Keurpaneel

Vir die beoordeling van die beste werk van 2010 is die paneel soos volg saamgestel:

  • Prof. Thys Human (UJ) – sameroeper
  • Dr. Marthinus Beukes (UJ)
  • Prof. Marné Pienaar (UJ)
  • Prof. Ronèl Johl (UJ)
  • Prof. Gerrit Olivier (WITS)
  • Dr. Karin Cattell (US)
  • Dr. Marius Crous (NMMU)
  • Corina van der Spoel (Boekehuis)
  • Johan Myburg (Beeld)

Genre

Die pryse word nie aan ’n spesifieke genre gekoppel nie. Dit maak die beoordeling moeiliker in die sin dat ’n digbundel byvoorbeeld teenoor ’n roman of ’n biografie opgeweeg word, maar dit skakel ook weer baie ander probleme uit.