Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Eerste hoofstuk: Piekniek by Hangklip


Kerneels Breytenbach - 2011-08-24

Piekniek by Hangklip
Kerneels Breytenbach
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798156035
Prys: R220.95
Beskikbaar vanaf 12 September 2011



Oor Die Tragiese Gebeurde In Gauteng Wat Ons Verhaal Voorafgegaan Het

Prent jou dit in:

Joshua Gumbo voer vroeg in April ’n opdrag van die Lucky Thirteen-sindikaat uit om ’n luukse rooi 4x4 van Japanse fabrikaat af te neem by Sonja Griessel. Hy is senuagtig. Sy woon by haar ouers. En die plek is nie soos hy verwag het dit sou wees nie. Die druiweprieel het nog nie sy blare afgeskud nie. Die wapen in sy hand is vir hom vreemd. Hy trek die sneller per abuis vier keer na mekaar voordat hy sy vinger gelig kry. Twee pare swak gegroepeerde kopskote.

Drie dae later moet Sonja ’n geleentheid bedel na die gesamentlike begrafnis van haar ouers. Sonja wil die 4x4 nooit weer sien nie. Die rooi herinnering het ’n roof in haar gemoed geword, ’n wond wat nie wil genees nie.

Joshua woon, soos my lesers sou kon verwag, nie die begrafnis by nie. Sy gedagtes is wel by Sonja. Dag en nag. Hy móét haar gaan haal. Dít terugvat wat sy van hom weggeneem het. Sy mojo.

Sy innerlike krag. Laat ons in ag neem dat Google Earth baie nuttig was met sy beplanning van die roof. Maar: die satellietfoto’s is op hul beste drie jaar oud. Soos almal weet wat die voorstedelike verandering aan die Witwatersrand beleef het sedert die vrywording van Suid-Afrika, kon onse liewe Joshua netsowel ’n antieke kaart van die Chinese ontdekkingsreisigers gebruik het.

Die element van onbekendheid is oorvloediglik teenwoordig in die konfigurasie van gebeurde op dié dag – vir Joshua ’n gewone werksdag, vir Sonja ’n angswekkende draaipunt in haar lewensgang.

Joshua had boonop sy lewe lank moeite met die lees van kaarte en die vertolking van perspektief. Wat die rekenaars in Sugarbaby’s Internet Café in Diepkloof aan hom gesuggereer het oor ’n verandering in plaveisel-tekstuur by die Griessels was inderwaarheid soveel méér – ’n skeidingsmuur tussen swembad-patio en die motoroprit. Om sy planne verder te beduiwel, het die Griessels sedert die oorvlug van die Google-satelliet ’n druiweprieel met sierstene en houtdwarsbalke wydsbeen oor die motoroprit gebou. Toe hy vroegaand by die huis aankom, wou hy dadelik die uitvoer van die opdrag uitstel. Maar hy kon nie. Só ’n besluit sou ’n rimpeleffek hê en sy posisie by die Lucky Thirteen in gedrang bring. Hy het op sy tande gekners. In die tuin was daar nie wegkruipplek nie. Dié was deur die muur volkome afgeskei van die oprit. Die hanepootrank se welige blaardekking het vir volop skadu gesorg in die vroegaand. Dit was immers April en danksy klimaatsverwarming had Johannesburg hierdie jaar sy natste somer, wat die tuine welig laat reageer het. Herfs het nog nie die lewe uit die prieel se lopers begin suig nie.

Joshua kon agter ’n pilaar in die donkerste skadu vir die 4x4 staan en wag, maar nie sonder vrees van ontdekking nie.

Dit was die minste van sy probleme.

Hy het nie drie mense in die 4x4 verwag nie. Sonja het bestuur, haar ma langs haar en haar pa wat agter gesit het. Weet dít: Sonja is ’n perfeksionis-bestuurder. Sy besef dat wanneer sy in die oprit stop, die 4x4 se neus presies langs een van die pilare moet wees, anders kan die motorhuis se deur nie oop nie. As sy verby die truspieëltjie kyk, moet sy die buitelig presies tussen die daklyn en spieëltjie deur kan sien, anders gaan die 4x4 nie só staan dat sy haar deur net-net voor die tweede pilaar van die motorhuis af kan oopkry nie.

Agter hierdie pilaar het Joshua gestaan en wag. Sonja het die 4x4 tot stilstand gebring en haar deur dadelik oopgemaak.

Joshua het sy asem diep ingetrek sodat die deur rakelings by hom kon oopswaai.

Sonja het haar veiligheidsgordel losgemaak, haar oë nog effe verblind van mik op die buitelug in die spasie tussen truspieëltjie en daklyn deur. Sy het uitgeklim, in die arms van Joshua. “Vries!” het Joshua geskree. En yskoud geword toe Sonja struikel op ’n hoër as gebruiklike hak en ’n soen vol op sy lippe plant, haar arm uit suiwer refleks om sy skouer gewerp om te keer dat sy val. Die Glock in sy uitgestrekte regterhand is twee dae vantevore buitgemaak in ’n huisroof in Die Wilgers, Pretoria.

Joshua kon nie weet dat dit só gestel is dat jy die magasyn sou ledig as jy net eenmaal hard genoeg druk nie. My lesers wat van Die Wilgers kom, sal weet wat die woord nerveus beteken. Gelukkig het Joshua nie hard genoeg gedruk nie. Net een keer. Liggies. Die skop van die pistool het vyf koeëls deur die motor versprei. Twee deur Gideon, Sonja se pa, en twee deur Anita, haar ma. Die vyfde skoot is dwarsdeur die skeidingstut tussen voor- en agterdeur, wat die 4x4 amper onherbruikbaar en heeltemal onverkoopbaar gemaak het. Sonja kan dít wat daarna gevolg het sekonde vir sekonde in herinnering roep. Joshua wat sy Glock laat val, sukkel om by die oop deur verby te kom en uiteindelik voor die 4x4 om moet hardloop sodat hy anderkant terug na die pad kan hardloop. Sy wat gil. Niemand uit die buurt wat haar te hulp snel nie. Almal ontsenu deur die knal van skote. Sy wat wag. Die gesigte van albei haar ouers verwoes deur die koeëls. Sonja wou naby hulle bly, maar die reuk van warm bloed en harsings het haar laat wegtree van die 4x4. Sonja het geleun teen dieselfde pilaar waaragter Joshua vroeër weggekruip het. Sy het haar lippe aan haar mou afgevee. Oor en oor. Skoongevee. Uiteindelik die buurtwag wat opdaag, kort daarna die ambulans. Later, twee uur om presies te wees, die polisie. Die bure het uit hul veilige vestings begin drentel. Gewapen, party met flesse koffie. Die 4x4 het met oop deure in die motoroprit bly staan.

Stukkies skedel en harsing teen die dak en vensters van die passasierskant versprei. Die motor af, maar die sleutel nog aangedraai, sodat die irriterende sein wat ’n oop deur sinjaleer aan en aan en aan pieng. Die battery stadig maar seker besig om af te loop, totdat een van die polisiemanne dit afgeskakel het. Die ambulansmanne het die lyke verwyder nadat die polisie hul aantekeninge gemaak en foto’s geneem het. By die eetkamertafel het Sonja gesit en haar verklaring afgelê aan ’n polisieman wat moeite ondervind het om die verklaring af te neem in Engels, sy tweede taal. Sonja het haar aandag van die grusaamheid van die gebeurde weggelei deur die moeilikste woorde vir die polisieman te spel. Teen hierdie tyd is Joshua reeds terug by die Miner’s Arms, na-uurse bymekaarkomplek van die Lucky Thirteen- sindikaat. Hy hoef nie ver te gehardloop het van die Griessel-woning nie. Sy rugsteun het twee strate verder vir hom sit en wag in ’n luukse Duitse gesinsmotor. Gereed vir enige gebeurlikheid. Soos nou. Almal lag vir Joshua se verduideliking. Hoe die vrou in sy arms geval het en hom gesoen het terwyl hy die ander mense in die 4x4 doodskiet. Hy is ’n held, hoekom weet hy nie. “Vergeet die stres, man,” het sy getaway-bestuurder al op pad terug aan hom gesê. “Daar’s nog baie waar daai vandaan kom.” “Wat van die order?” wou Joshua weet. “Ons kan by die Traffic Department hoor waar daar more of the same is.” Nou, in die Arms, sê een van die senior members vir hom, môre wat môre is, sort hulle die volgende hit uit. Die order het ’n twee weke speling. “Kom ons relax nou hieroor,” roep die senior uit. Dis ’n gerumoer en vrolikheid. Drink soos hy wil, Joshua kan nie ontspan nie. Dit knaag aan hom. Daardie soen. Die vrou het iets gegryp wat hy nie wou gee nie. Hy sal dit moet terugkry. Sy mojo. Anders kan hy net sowel dood wees. Hy kyk na die mense rondom hom in Arms. Hulle lyk vanaand anders. Hy kyk hulle in die oë. Hul oë brand die wêreld met hul krag. Hy kan hulle nie in die oë kyk nie. Wanneer hy sy blaas gaan ledig, staar hy na homself in die spieël bokant die krip. In sy oë sien hy moegheid, vrees. Hy rinneweer homself tot ellende. Dis ’n eenvoudige keuse, dink Joshua. Haar lewe, of syne. Prent jou dit in. “Ek lewe ’n cliché,” sê Sonja twee dae later aan dominee Johann, uit wie se gemeente Gideon en Anita Griessel begrawe moet word. “O ja?” “Vir my het alles tot stilstand gekom, maar die lewe gaan vir almal anders aan. Mense kom drink tee, of bel my. Mense wat ek kwalik kan onthou of waarvan ek al jare lank vergeet het. Sommiges dink ek het in daardie vreeslike oomblikke die essensie van die lewe teruggevind. Nou wil hulle by my weet wat dit is. En ek het nie. Ek weet nie wat die antwoord is nie. Pyn? Mense wat my pa en ma geken het voordat ek gebore is en toe, vreemd genoeg, van die toneel verdwyn het. Almal wat simpatiseer. Smart in hul stemme en lewenslus in hul oë. So asof daar vreugde is in die blote ken van die tragiese slagoffers. Asof hulle saambaai in die glorie van die dood . . .” “Jy is baie sinies.” Dominee Johann het seker al alles gehoor, dink Sonja. Nogal ’n bekende gevoel vir diegene wat al ’n blik gekry het op ’n geneesheer of dominee se afstandelikheid, wanneer mens se nood hoog is, en daar ’n gevoel ontwikkel by jou, ’n spesmaas, dat jy pasiënt 3022 vandag is, of die een gemeentelid wat nie regtig saak maak nie . . . Sonja skud dit gou los, maar laat ons met die spesmaas agter. “Miskien. Maar dit bly ’n string clichés. Die susters van die gemeente wat inspring om mens te onderskraag. Wat aanmekaar vra waar word dit en waar dat gebêre. Die begrafnisondernemer wat ongesteurd vertel van hoe sleg ander lyke al gelyk het waarmee hy moes werk. Maar dat hy nie my ouers se gesigte behoorlik sal kan voorberei nie. My familie wat baklei onder mekaar oor wie die kiste gaan dra. Ek wat skielik ontdek dat ek nie ’n behoorlike rok het om aan te trek nie. My dokter wat slaggereed is met pilletjies wat my sal help om kalm te bly en snags te slaap. Een van die eerste besoekers wat ek die dag ná die, die . . . skietery, uhm, ontvang het, was ’n sekuriteitspesialis wat spesiaal van Northmead, Benoni oorgery het. Wou diefwerings en alarms aan my verkoop. Weet te vertel dat daar elke aand 16 verkragtings aan die Oos-Rand is en dit beweeg nou Wes-Rand toe. Vir elke vroutjie wat met gesag kan gesels oor die spinsiklus van haar wasgoedmasjien is daar drie wat al meer as een keer die afgelope jaar verkrag is. Dis ’n oorlogsone, sê hy. En ons moenie dink dis net wit vrouens wat verkrag word nie. Die mans spring net so baie onder die swart en bruin vrouens in. Ons char is glo nie veilig nie. En ek het hom skaars weggestuur toe is daar ’n ander een wat my ’n klomp koerantknipsels wou wys oor mense wie se lewens gered is deur ’n nuwe patent in selfverdedigingsfoefies. Al wat dit vir my bewys het, is dat oorlog en besigheid nie te skei is nie. En die besigheid van oorlog is om te koop en te verkoop. Los die verkragting en die moord maar vir die outodidakte. Die professionele mense kom verkoop vir jou diefwering en ander gemors.” “Mmm. En sodra die begrafnis verby is, is die cliché skielik vergete, en dan moet jy aangaan met jou lewe?” “Omtrent so iets.” Sonja onthou iets wat haar pa altyd laat lag het. “Ek wonder wie gaan probeer om in die graf te spring wanneer die kiste eers laat sak is?” Dominee Johann kyk haar verbaas aan terwyl sy begin lag. Sit dan sy arm om haar skouers wanneer die lagbuie in trane uitdy. Ons weet wat in sy gedagtes is, dat hy weet van die verlies wat soos ’n pyl in haar brand, die Here alleen weet wat sy ly . . . “Het jy al gedink wat jy gaan doen sodra die cliché verby is?” vra dominee Johann wanneer Sonja haar trane afgedroog het. “Ja,” antwoord Sonja sonder om na te dink. “Ek gaan alles verkoop, my praktyk sluit, en trek na ’n plek waar ek veilig sal wees.” Dominee Johann glimlag. “Staan daar nog in Eden êrens die mislukte tuin?” “Ekskuus?” “Jy moet doen wat vir jou reg is. As jy wil stroop, terug gaan . . . Waar jy nou is – mens voel só dat die gode in alles ingevlug het . . . hulle voer nog perdfris dialoog, maar ons kan dit nie hoor nie. Ons sien die tekens, kyk maar na jul 4x4, maar hoor ons? As jy alles verander, wie weet, dalk hoor jy dan weer.” Die sagte manier waarop hy praat ruk haar tot stilstand. Sy het vinnig geantwoord, nie eens seker dat sy dié uitweg sou volg nie. Die dae sal kom en die nagte gaan. Maar dominee Johann se vertroostende stem laat haar besef: Dít is presies wat sy gaan doen. Haar kruisweg ken net een rigting. Kaap toe! ’n Week later. Ons kan ons indink dat die lewe se glans steeds vir haar verlore is, of haar binneste nog brand en bloei. Maar Sonja is reeds besig om die eerste stappe van ’n nuwe lewe in die Kaap te vestig. Ons aandag skuif liewer terug na Joshua, wat noodgedwonge ’n recce moet doen. Wees geduldig, liewe lesers, ons sal later al meer van hom leer. Dis genoeg om nou te weet dat hy ’n meesterlike beplanner is. Meld hom by die Griessels se huis aan. Druk die klokkie langs die motorhuis. Bekende terrein, tog in die daglig só vreemd. Dáár het hy gestaan, hier die 4x4. Geen bloedspatsels nie. Dié het tot die 4x4 beperk gebly. ’n Tuinier in die oorpak kom van oorkant die straat aangedrentel. “Mildred hier?” vra Joshua. “Mildred?” “Die huishulp. Die maid.” Die tuinier haal sy skouers op. “Werk nie meer hier nie. Die huis het ’n nuwe eienaar.”

“Nuwe eienaar?” “Die ou mense is dood. Hul dogter het alles verkoop en padgegee.” Weg! ’n Vlaag van benoudheid spoel oor Joshua. Hy onthou sy voorwendsel. “Mildred ook?” “Weet nie. Eendag hier, môre vergete . . .” “Waarheen is die dogter?” “Kaapstad.” Die tuinier kyk in die straat af. “Daar iewers.” Joshua benoud, “Mildred skuld my geld.” “Kan nie help nie.” “Wie het die trek gedoen?” Algaande kry Joshua die inligting wat hy nodig het. Els Transport van Alberton het die trek gedoen. Mildred is moontlik saam, moontlik nie. Die tuinier weet nie. Sonja Griessel was al weg die dag toe die vragmotors gekom het en alles opgepak het, weggewaai nadat ’n asempie wind haar vlerkies gebreek het, het die buurvrou vir haar tuinier gesê. ’n Prokureur van Sandton het al Sonja se sake behartig. Toe die nuwe eienaars intrek, was die huis leeg. Net die bure het geweet van die tragedie wat hom daar afgespeel het. Die nuwe eienaar is lid van die City Council. Hy hou van harde musiek. Joshua kyk af na sy voete. Hier, net hier het hy sy krag verloor. Sy mojo. Terug by sy woonstel in Blairgowrie begin Joshua bel. Laat die Holy Thirteen se selfoon ’n slag vir hom werk. Els Transport help sover hulle kan. Laat dit nooit van hulle gesê word dat hulle skuldinvorderaars verhinder om hul werk te doen nie. Ja, hulle het Sonja Griessel se trek behartig. Ja, meneer, sy is Kaap toe. Nee, hulle het net ’n posbusadres vir haar. Privaatsak X14, Kaapstad 8000. Nee, die trek is nie na ’n huis nie, dis hoekom mens dit onthou meneer. Die hele trek is na ’n permanente stoorfasiliteit buite Somerset-Wes geneem. Sover hulle weet, stel Griessel nie nou belang in enige van die inhoud nie. Die termyn vir storing is dertig jaar. Sy het vooruitbetaal. Baie lank. Nee, hulle het net Sonja Griessel se ou telefoonnommer. Hulle het geen telefoniese kontak met haar gehad sedert die trek nie. Mildred? Nooit van so ’n persoon gehoor nie, jammer, meneer. Met die vasberadenheid wat net iemand met ’n verstand vir logistieke verfyning kan monster, onttrek Joshua homself in minder as drie uur heeltemal uit sirkulasie. Die Lucky Thirteen is nie baie ingenome met sy plan nie, maar help hom om ’n plek in die slaapbank van ’n vragmotor met bestemming Kaapstad te kry. Joshua het vir hulle geen nut terwyl hy so wroeg nie. Dis beter om te weet hy is weg Kaap toe as wat dit sou wees om te kommer oor ’n man wat op straat dwaal en soek na sy vonk. Mens weet nooit watter vuur hy aansteek nie. In die vragmotor is hy ’n oorlas. Eintlik heeltemal in die pad. Die bestuurder en medebestuurder het nie lus om met hom te gesels nie – sy teenwoordigheid verhinder dat hulle vroulike geselskap kan saamry. In stilte sien hy die Vrystaat verbyflits. Hy raak dikwels aan die slaap, droom baie – is dit werklik drome, of die dooies wat hy langs die pad sien staan, wagtend op ’n perdekar om hulle konsentrasiekampe toe te neem in ’n tyd van dieselmasjiene? Meer onthou hy nie, en niemand laat blyk dat hulle geluister het terwyl hy in sy slaap spraaksaam was nie. Die Noord-Kaap lyk vir hom nie baie anders nie. Weer dom20 mel hy weg, droom van Leza wat hom kom red het van die Boosheid. Wanneer die vragmotor uiteindelik sy kop by die Hugenote-tonnel uitsteek en Joshua die stad se liggies sien flonker in die verte, is hy heeltemal uitgeslaap en kry sy terneergedruktheid ’n nuwe dimensie. Dít, liewe leser, is dan die punt waar Joshua die vraag vra wat mindere geeste sou laat vou het en hul hoofde in neerlaag laat hang het: Waar begin mens?