Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Bridesmaids bied vuil stof tot nadenke


Jacques Liebenberg - 2011-08-24

Bridesmaids
Regisseur:
Paul Feig
Kamerawerk: Robert D Yeoman
Rolverdeling: Kristen Wiig, Maya Rudolph, Rose Byrne en Chris O’Dowd
Looptyd: 125 minute

 

 

In een toneel in As Good As It Gets sê Greg Kinnear se karakter aan Jack Nicholson se Melvin: “Jou grootste bate is jou bereidwilligheid om jouself te verneder.”

Dis skynbaar ook waar van Afrikaners, veral wanneer dit by Engels kom. ’n Afrikaner sal hom mos baie makliker in die troebel water van Engels-uitspraak begeef as wat ’n Engelsman hom sal verwerdig om die kombuistaal te besig.

Deesdae, en veral “danksy” sosiale netwerke, is die “gawe” van jou naam iets wat met beskrywings soos “epic fail” begroet kan word. Dis lank nie meer vernederend om verneder te word nie; eerder die grondslag van ’n suksesvolle loopbaan as TV-werklikheidster of radiopersoonlikheid. In Suid-Afrika is daar die sprekende voorbeeld van die aanbieder wat in albei dié bedrywe werk en, sodra sy agent meen sy openbare profiel is effe aan’t kwyn, word hy aangemoedig om die een of ander banaliteit oor die lug kwyt te raak en siedaar!

Daar word dan vir ’n vale geskryf en getwiet oor iets wat binne drie dae tot net-so-goed-soos-nooit-gebeur-nie-status verlaag word. Hierdie lewe-in-die-oomblik-benadering sien ’n mens toenemend – van die Waterkloof-vier en die 4x4-tref-en-trap-bestuurder tot die Britse jeugdiges wat tekere gaan of daar geen môre is nie. Soos Graeme Smith en Peter de Villiers so graag sê: Dis altyd iemand anders se skuld.

Dis nogal ’n situasie waarin die karakter Annie (Kristen Wiig) haar in die komedie Bridesmaids bevind. So verinneweer is haar selfbeeld en so groot haar teleurstelling wanneer haar beste vriend haar vir die cool meisie “verruil”, sy slaan die oorblyfsels van haar naam met ’n sjokoladefontein-plank. Dis die toppunt van haar vernedering as beste vriendin en strooimeisie. Hier’s ’n wenk: Die kombuistee-geleentheid is dalk nie die beste plek om jou frustrasie met genoemde beste vriendin te deel nie.

Maar wag, daar is mos nie meer ’n regte of verkeerde manier nie. So leer werklikheidstelevisie en sosiale netwerke ons juis.

Want daar’s nie meer ’n skeiding tussen die openbare en private nie; tussen dít wat in goeie smaak sou val of as goeie maniere beskou kan word en hul teenpole nie. Soos die modeghoeroes oor hul voete val om te kan verklaar: Als is aanvaarbaar. Solank mense getrou aan hul natuur bly, sien? Moet asseblief net nie die natuur skade berokken of jou hibriedmotor stamp nie.

Het ek hardop gelag in Bridesmaids? Absoluut. ’n Hele paar keer. Hoe dan anders? Dis vreksnaaks en die karakters oortuig grootliks as moontlik “regte” mense eerder as karikature. Daarby is daar relatief min wriemel- en toilethumor en dít wat daar wel is, soos die rokpas-ramp, word cool uitgebeeld (die heildronktoneel kon gebly het). En hoe kan mens nie van ’n fliek hou waarin die oulike hoofkarakter (wie’t geweet Kristen Wiig lyk so goed in ’n bra en broekie?) so laag daal, net om uiteindelik tog ’n reddingsboei binne bereik te sien dryf nie?

Maar ek’t ook groot dele met my hand voor my mond gesit. Daar was so ’n vae ongemaklikheid êrens onder al die springmielies en koeldrank. Ek vermoed dis oor my onderbewuste besef ek sou nie noodwendig ’n armer mens gewees het as ek nié ’n blik in dié karakters se binnekamer gehad het nie.