Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies-resensie-essay: 150 Jaar van Suid-Afrikaanse Rugby


Kerneels Breytenbach - 2011-08-24

Untitled Document 150 Jaar van Suid-Afrikaanse Rugby
Wim van der Berg
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624053347
Prys: R299.00

 

Klik hier en koop 150 Jaar van Suid-Afrikaanse rugby nou van Kalahari.net!



Hoor jy die magtige dreuning? Die lied van ’n volk se ontwaking, wat harte laat sidder en beef?

Die klank wat jy hoor, kom van Loftus af. Die klink op in en om Nuweland, Kingspark of die Vrystaat-stadion, wyd gesweef. Dit sou ’n byeenkoms van Angus Buchan kon wees, en dan sou mens wel kon praat van die akkoorde wat dawerend luid rys. Maar dit sal veel eerder ’n byeenkoms wees rondom Suid-Afrika se ander godsdiens, rugby.

Dit is ’n klank wat, vanaf ’n afstand beleef, die gemoed vul. Soveel geesdrif, soveel blydskap.

As jy egter deel is van die rysige toeskouerkorps, sit jou hart in jou keel en jou emosies ontsnap oor jou lippe. Jou bloeddruk jaag op. Jou deelname is uit daarde ongekalibreerde deel ánderkant volle bors. Jy klap jou hande tot hulle opgeswel is en seer. Jy sê dinge wat jy nooit gedroom het jy sou kon sê nie. Jy bokspring oor drieë gedruk, skoppe deurgeklits, arms omhoog, vuiste geklem in oorwinningsvreugde.

En jy val, onbelemmerd en in baie groot geselskap, die diep, genadelose ruim van massadepressiwiteit in wanneer sake op die speelveld voor jou eie oge skeefloop. Ondanks die raad wat jy en derduisende ander so luidkeels gee.

Hier, in die kom gevorm deur enorme paviljoene, staan die rugbypale bewend en luister.

Begryp jy hierdie gegewe,  hou jy die boek 150 Jaar van Suid-Afrikaanse Rugby (Wim van den Berg, Bookstorm en Tafelberg) met ’n vol, trotse gemoed teen die bors vas. Dit dawer deur jou siel.

Gereflekteer in die verslag van ’n sportsoort se groei en voortdurende vernuwing sien ’n mens die geskiedenis van ons land. Beginnend voor die twee Boere-oorloë teen die Britse Empire, eindigend waar die Boere se nasate hul politieke mag verloor het en veg om te verhinder dat hul lieflingspel steeds ’n politieke speelbal bly voor die lomp voete van die politieke aasvoëls.





Wim van der Berg
Kerneels Breytenbach

Rugby is nie alleen ons ander godsdiens nie. Dit is ’n indeks van 150 jaar se nasionale koddigheid. Mens kan die woorde lees wat die trots laat opvlam, maar net ’n Suid-Afrikaner sal werklik verstaan hoekom die berge en dale van ons emosionele rugbylewe só voorspelbaar en só verstaanbaar is.

Eitemal, skrywer van "Die lied van jong Suid-Afrika"

Wat eens ’n amateur-sportkode was, is nou ’n volwaardige professionele bedryf waarin die werkers ’n leeftyd van minder as vyftien jaar het en die administrateurs van die spel ’n MBA eerder as ’n bedrieglike systap moet hê.

Die politieke inmenging wat Oregan Hoskins in sy voorgangers sedert 1990 in die voorsitterstoel van SARFU moes verduur, is van dieselfde tinktuur wat Danie Craven en Sport Pienaar se lewens versuur het: ’n aftreksel van politieke drogredenasies. Die politieke meesters, ongeag wanneer hulle aan bewind is, sing almal dieselfde refrein: julle is in “die land wat ons vaders gekoop het, met bloed tot ons eie gedoop het”. Wiens brood men eet …

Die lied van die jong Suid-Afrika

Woorde: Eitemal; gewysig: P. McLachlan
Musiek: Hugo Gutsche; verwerk: Dirkie de Villiers

En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die veld kom dit wyd gesweef:
die lied van ’n volk se ontwaking
wat harte laat sidder en beef.
Van Kaapland tot bo in die Noorde
rys dawerend luid die akkoorde:
Dit is die LIED van Jong Suid-Afrika,
dit is die LIED van Jong Suid-Afrika,
dit is die LIED van Jong Suid-Afrika.

Die klop van die Voortrekkerwawiel
het die eeue se rus verstoor;
die klank van die voorlaaierskote
het klowe en kranse gehoor.
Die diere het stil staan en luister,
die bome het bewend gefluister:
Dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika,
dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika,
dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika.

Waar songloed in glorie die berge
oor hul fronsende voorhoof streel,
waar ruisende wind oor die vlaktes
met grassaad kerjakker en speel,
die land wat ons vaders gekoop het,
met bloed tot ons eie gedoop het:
Dit is die LAND van Jong Suid-Afrika,
dit is die LAND van Jong Suid-Afrika,
dit is die LAND van Jong Suid-Afrika.

Die golwende veld is ons woning
en ons dak is die hemelblou;
die Vryheid alleen is ons koning,
sy wagwoord is: "Handhaaf en bou".
Die stryd wat ons vaders begin het
sal woed tot ons sterf of oorwin het.
Dit is die EED van Jong Suid-Afrika,
dit is die EED van Jong Suid-Afrika,
dit is die EED van Jong Suid-Afrika.


150 Jaar Suid-Afrikaanse Rugby se kritiese ingesteldheid teenoor menslike onbesonnenhede, en begrip vir menslike vernuf sorg dat dok Danie Craven die eer kry wat hy in sy eie tyd se dikwels moes ontbeer. Hy is duidelik van ’n ander kaliber en statuur as sommige van sy nakomelinge in die hoogste gestoeltes van Suid-Afrikaanse rugby.

Of hy in vandag se omstandighede so goed so vaar, daaroor sal geredeneer kan word. Ofskoon hy tussen die eerste en tweede wêreldoorloë sy verstand gekry het, moet mens onthou dat Craven in ’n era van relatiewe onskuld en idealisme sy merk op die rugbyveld gemaak het. Sy Springbok-debuut in Desember 1931 was in die middel van die groot depressie – dieselfde jaar waarin I.D. du Plessis se beroemde rugbyroman Die springbok verskyn het.

ID du Plessis
Die silwervaring (1933) deur ID du Plessis

Die springbok en Du Plessis se ander rugby-skryfwerk – Die silwervaring (1933, ’n jaar ná die eerste Afrikaanse Bybel gepubliseer is), Die Rugby-kroon (1934) en Rugby in Rio (1941) –  bied ’n blik op die tydsgees en die groot verering wat daar was vir almal wat ’n Springbok-trui oor die kop getrek het.

Die Rugby-kroon (1934) deur ID du Plessis
Rugby in Rio (1941) deur ID du Plessis

Die spelers was helde – en in dié romans is hulle meestal eerbare, onbesproke mense met ’n baie sterk siening van dít wat reg of verkeerd is. Mans wat ’n swaard uit ’n klip sou kon trek.

Met vandag se oë sien ons dat hulle hul naïewiteit oorkom deur hul idealisme uit te leef. Dis ’n eer om ’n Springbok te wees en jou land te verteenwoordig. Sonder enige vergoeding. Die helde verwerk teenslae, speel die bal en nie die man nie en sal liewer sterf voordat hulle hul span en land in die steek laat.

Sekerlik ’n geïdealiseerde siening. Dit spreek tog boekdele dat hierdie clichématige manier van rugby en rugbyhelde beskryf vandag nog weerklink, al weet mens uit die verkeerde monde is dit dikwels leë retoriek. Dit bly die ideaal, al weerhou die sinisme van ons tyd ons om dit té hardop uit te spreek.

Danie Craven

Dok Craven het daardie ideale wat in Du Plessis se verhale opklink saamgevat in sy siening dat rugby altyd die wenner moes wees. Dit was sy benadering in sy beste jare as afrigter van die Springbokspan, en dit was ook die benadering van die eerste Springbok-afrigter ná Craven wat werklik onbesoedelde welslae behaal het, Kitch Christie, hy wat die Springbokke die eerste maal amptelike wêreldkampioene gemaak het.

Craven se  suiwere liefde vir die spel was moeilik na te boots. Dit spreek boekdele dat Craven ná ’n voorval in 1986, toe die flank Burger Geldenhuys die Nieu-Seelander Andy Dalton se kakebeen afgeslaan het met ’n betrekhou van agter, gesorg het dat Geldenhuys nooit weer ’n kans sou kry om vir die Springbokke te speel nie.  Plaas daarteenoor die teenoorgestelde reaksies van Craven se opvolgers dié kere dat Springbokke se eerbaarheid onder verdenking gekom het weens byt-voorvalle op die veld. 150 Jaar Suid-Afrikaanse Rugby doen helaas nie behoorlik verslag daaroor nie.

Die rugby-administrateur onder beleg het deur die jare ’n sterk stereotipe in Suid-Afrikaanse rugby geword, op dieselfde vlak as ’n skoppende losskakel of ’n vegterslot. In I.D. du Plessis se romans is hy nog geen faktor nie. Teen die tyd dat Braam van der Vyver se satiriese roman Stywe Arm in 1994 gepubliseer is, het die wedervarings van Sport Pienaar, Craven, Fritz Eloff, Ebrahim Patel en Louis Luyt as president van SARFU veroorsaak dat dié figuur al sy luister verloor het.

In Van der Vyver se roman heet die president Clive King. In die jare negentig het hy baie aan Louis Luyt herinner. Met die verloop van tyd het sy gesig verander saam met die nuwe boude wat op die hoogste stoel sit gekry het.

Ten tyde van die verskyning van sy roman het Van der Vyver die vermoede wat by die publiek bestaan het oor korrupsie in rugbykringe saamgevat in ’n fabelagtige slottoneel waar die groot rugbybaas King na afloop van die Curriebeker-eindstryd aan ’n joernalis verklap wie sy provinsie vir die volgende seisoen gaan koop: die skeidsregters.

Dok Craven was toe net ’n jaar lank dood.

Die koms van die professionele era, en die rugbyadministrasie se hantering van politieke druk het ’n diepe sinisme oor alles wat van die veld af gebeur by rugbyliefhebbers vaardig gemaak.

Gedagtend aan die groot aanklank wat rugby in die verlede en die hede by veral Afrikaners gehad het, lees ’n mens vandag die toespraak van Faber in John Miles se Blaaskans – Die bewegings van Flip Nel (1983, midde-in Craven se moeilikste jare aan bewind van SARFU) en besef dat mens ’n Machiavelliaanse moedswil en hoogs ontwikkelde sin vir ironie nodig het om vandag die Afrikaner se plek in rugby te verstaan: “Kom ons laat staan om liefdeswil die politiek van wraak. Ons lewe in ’n beskaafde wêreld … Die Afrikaner het bewys hy staan vir orde en nié ’n rebellie nie.” In 2011 nog meer as in 1983?

Waar eens in die raadsale van SARFU provinsialisme die gloed was wat oor die fronse van die verteenwoordigers gestreel het, word vandag geen bloed vergiet vir streeksliefde nie. In die amper onuitputlike Statistiek-hoofstuk van 150 Jaar van Suid-Afrikaanse Rugby sien mens hoe Noord-Transvaal met die koms van die nuwe Suid-Afrika vervang word deur die Blou Bulle-handelsmerk, Oranje-Vrystaat deur die VS Cheetahs, Natal deur die Sharks.

Vryheid is nie meer ons koning nie. Die borge is. Saam met die streekshandelsmerke het die stadions, grootse aanbiddingsplekke van hierdie vryetydsgodsdiens, skielik nuwe name gekry: Vodacompark, Absapark … Selfs die ou Kolonie, waar die provinsiale strydrosse nog hardnekkig vasgeklou het aan die ou naam Westelike Provinsie, het Nuweland al van borgkant verskeie voorvoegsels moes verduur.

Wat nie verander nie, en wat so onomstootbaar deur die rugbystatistieke bewys word, is dat die spelers steeds “Handhaaf en bou”. In dertig skedels daar op die speelveld maal steeds I.D. du Plessis se woorde oor die land van die silwervaring en hoe ons spelers met knieë op die Kiwi-strotte staan. Al het nie een van hulle daardie boeke gelees nie. Die ideale, nes lastige clichés, sterf eenvoudig nie uit die. Dis hoekom jy steeds die magtige dreuning by die rugbystadions hoor opklink. Ons het steeds rede om trots te wees.

Ons wíl so graag trots wees.

Presies hóé al die veranderinge – plus die kern van ons ideale oor juis wát ’n wesentlik goeie rugbyspeler is – in die Afrikaanse fiksie van die toekoms gereflekteer gaan word, kan mens nie nou al voorspel nie. Doemprofete sinspeel daarop dat die boek tesame met ons taal gedoem is tot ondergang. Kyk mens hoe in sekere streke gesukkel word om die stadions gereeld op wedstryddag te vul, begin jy ook wonder. Vul die derduisende raasbekke nie nóú die stadions van Perth, Sydney en Auckland nie?

Dis dan dat ’n mens, huiwerend eers, maar algaande hoe meer oortuig, besef dat rugby steeds die lied van ons volk se ontwaking is, wat harte laat sidder en beef, van Kaapland tot bo in die noorde van Queensland.


 





Bronne:

  • 150 Jaar van Suid-Afrikaanse Rugby, deur Wim van der Berg, gepubliseer deur Bookstorm en Tafelberg, 2011.
  • Die springbok, deur I.D. du Plessis, Nasionale Boekhandel (eerste druk 1931, agtste druk 1948)
  • Die silwervaring, deur I.D. du Plessis, Nasionale Boekhandel (eerste druk 1933, sesde druk 1944),
  • Die Rugby-kroon, deur I.D. du Plessis, Nasionale Boekhandel (eerste druk 1934, derde druk 1944)
  • Rugby in Rio, deur I.D. du Plessis, Nasionale Boekhandel (eerste druk 1941)
  • Stywe arm, deur Braam van der Vyver, Human & Rousseau, 1994.
  • Blaaskans – die bewegings van Flip Nel, deur John Miles, Taurus, 1983.
  • “Die lied van jong Suid-Afrika”, Lirieke deur Eitemal, gewysig deur P. McLachlan; Musiek deur Hugo Gutsche, verwerk deur Dirkie de Villiers.