Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

"Tydlose liefde"-kompetisie: Pretoria, 2007


Margaretha du Plessis - 2011-08-24

Untitled Document

Toe sy later die aand uitgeput op die bank in haar sitkamer afsak, dink sy eers weer aan die rampspoedige oggend. Hoe het hy haar opgespoor? Sy het doodseker gemaak dat niemand haar ooit kan opspoor nie, maar wag, ons praat mos nou hier van die magtige sakeman Ewald Jordaan. As hy iets vra, dan spring almal om dit gedoen te kry. Toe sy nog so besig is om te bespiegel, lui die deurklokkie. Met die slapende Sylvia in haar arms loop sy vinnig na die oorsaak van die treiterende geluid toe. Toe sy die deur oopmaak, stop sy in haar spore van die skok. Sy het geweet dat die dag sal aanbreek, maar nie so gou nie. Hy gaan haar nou finaal van haar af wegvat.

“Hallo Inez. Hoe gaan dit?”

“G…goed en met jou?”

“Baie goed noudat ek sien watse geskenk jy so lank vir my wegsteek. Wat is haar naam?” Hy vee liggies oor Sylvia se blonde hare en sy kan sommer sien en hoor dat hy weet sy is syne.

“Sylvia,” is al wat sy kan uitkry voor sy vinnig in die woonstel in verdwyn. Hy is kort op haar hakke.

“Hoekom het jy haar al die tyd van my af weggehou? En jy het my nie eers gesê van haar nie,” verwyt hy liggies.

“Ek was op pad om jou te vertel, totdat ek jou in daardie vroumens se arms betrap het. Wat het jy verwag? Dat ek maar net die feit dat my man my verneuk moes ignoreer?”

“A … so dis hoekom jy verdwyn het? Ek moes so iets vermoed het. Maar sê my, hoekom het jy nooit van my geskei nie?”

Sy antwoord eers nie. Met ’n gebrek aan woorde sê sy sommer die eerste ding wat in haar kop opkom. “Ek verag jou!”

“Is jy seker daarvan? Ek bedoel, as jy my gehaat het, sou jy seker nie meer jou trouring gedra het nie, sou jy?” vra hy en lig haar regterhand stadig op.

Sy antwoord hom nie. Stadig vat hy die slapende Sylvia uit haar arms en sit haar op die bank neer. Toe trek hy die ring stadig, maar sensueel, van haar vinger af en trek haar linkerhand stadig nader.

“Ek dink dis tyd dat jy terugkom. En dat hierdie ring op die regte vinger moet wees. As jy my kans gegee het om te verduidelik, sou jy weet dat sy net op die verkeerde tyd ’n bietjie hulpvaardig was. Môre gaan ons terug na ons huis toe waar julle al twee hoort, langs my sy.” Hy verseël sy woorde deur haar driftig nader te trek en haar passievol te soen.