Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

"Tydlose liefde"-kompetisie: Pretoria, 14 Februarie 2010


Ivan Bee - 2011-08-24

Untitled Document

Toe die selfoon lui, is hy summier vies. Nie nóú nie. Maar antwoord tog toe hy sien wie dit is.

“Pa, hoe laat gaan Pa terug wees?”

“Weet nie, Seun, maar dit sal láát wees.”

Die jong stem huiwer: “Pa, ek wil net weet ... ek kry ’n spesiale ... gas ... vanaand, Pa ... ’n meisie ... ”

Hy druk met sy palm op sy bors waar hy sy hart voel ruk. Sy seun, sy jongste, het vlak onder sy oë man geword.   

Hy onthou die gesprek – nee, sy eie tirade – ’n paar maande gelede ... seker al ’n jaar. Dié oggend toe die blonde meisie­kind só onverwags en só kommerloos by sy seun se kamer uit­gekom het. Hulle het laatnag ingekom, hy en die meisiekind, en sy is saam met hom kamer toe. 

Skuldgevoel kom sit dik in sy keel as hy onthou hoe genadeloos hy hom bygekom het. Hoe hewig en driftig hy hom die huisreëls voor­gelees het. Sy skerp woorde en bulderende stem. Gesê dis oor hy nie gewéét het van die meisiekind nie ... Kon so maklik uit die stort uit kamer toe geloop het, met dié dat daar net manne in die huis is. 

Maar dit was eintlik oor die meisie in sy kamer ... in sy bed.

Oorbluf het hy verweer: “Pa, ek het nie by haar geslááp nie; sy was net baie moeg; sy’t dubbelskof ge-waitress, Pa; sy’t geslááp; ons het ál twéé geslááp.” En … vreemd … sy oë het sommer begin swem. 

En hy’t gegló. 

Maar nou ... dié is anders. Hy hoor dit in sy stem ... en hy wéét wat hy wéét.

Hy druk die selfoon stywer teen sy oor vas om naby sy seun te wees. Draai terselfdertyd om, kyk in die gedempte lig na die vrou – hoe sy ’n bottel vonkelwyn in ys druk, haar vingers deur haar hare trek, die rooi rok effens oor haar skouers regtrek. Hy voel-voel in sy sak na die vet rooi hartjie van skuim­rubber wat sy netnou­maar in die restaurant vir hom gegee het. 

Hierdie dag. 

“Seun, sluit die deur, ek hét my sleutel ... ek sal eers baie laat in wees. En, Seun ...” – sy stem breek – “werk mooi met haar.”

Hy sit die selfoon af, los dit gesig ondertoe op die tafel.

Toe neem hy die vrou in sy arms.