Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

"Tydlose liefde"-kompetisie: Langebaan, 2002


Ivan Bee - 2011-08-24

Untitled Document

Die bittereinders begin gereed maak om terug te gaan, maar eers kry elkeen ’n slukkie mampoer by die restauranteienaar. Dan bondel ons sing-sing by die deur uit.

Ek en hy is die eerstes van die laastes uit. Net voor ons oor die lae terrasmuurtjie tree, hou ek aan sy skouer vas en trek my sandale uit. Ons stap oor die sagte sand in die rigting van die groot ronde rotse. Daar is niemand meer om ons nie en ons gaan sit op ’n rots om die mooi uitsig te geniet. ’n Rooi lig gaan stadig aan en af aan die oorkant van die hawe. Voor ons lê rye seiljagte – groot en klein – voor anker. Die gedruis van die see immer teenwoordig.

“Daardie een … die een met die langste mas … dis myne!”

“Ou grootbek!” Ons lag gedemp.

Hy vroetel ’n pakkie uit sy hempsak en steek ’n sigaret op. Dan kom die ander laggend en raserig met die voetpad langs. Die voorste een lig met ’n flits. Hulle stap letterlik vier, vyf treë voor ons verby sonder om ons te sien.

Hy trek my nader sodat ek met my rug teen sy bors leun. Rook rustig klaar sonder dat ons praat. Ek is intens bewus van sy liggaam so naby my.

“Sal dit … vir jou … die einde van die wêreld wees … as ek ... jou soen?”

Stilte.

“Ek kan nie aan ’n beter manier dink om dié ou wêreld tot ’n einde te bring nie.”

En hy soen my. Sag. En weer. En ons sit op die rots en kyk vir die see en die seiljagte en die rooi lig wat tydsaam aan en af gaan. En hy soen my weer. En weer.

Later staan ons op en loop hand aan hand oor die rotse tot amper by die klipperige paadjie. By die laaste van die groot gladde rotse gaan ek sit om my sandale weer aan te trek voor ons die klippertjies aandurf. Hy kom hurk oorkant my. Hipnotiseer my met sy bruin oë. Neem my voete in sy hande en vee tydsaam die seesand af. Hy trek my sandale vir my aan … sy sensualiteit oorweldigend.

Ek voel hoe ons luukse bed my skouer en elmboog kneus.