Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

"Tydlose liefde"-kompetisie: Kampus, 1998


Marike Snyman - 2011-08-24

Untitled Document

Die dorp wemel van eerstejaars. By die koshuise arriveer hulle saam met hulle ouers vir middagete en daarna ’n tranerige afskeid voordat “oriëntering” in alle erns afskop.

“Platteland” kon nie duideliker op my voorkop gestaan het nie. My pastoriemoeder met haar A-lyn-romp, wapperende bloes bo-oor die bypassende T-hemp, my predikantpa met sy chino’sen geruite hemp, my selfgemaakte rok wat tot by die enkels hang en alles aan die verbeelding oorlaat. Geen wonder nie dat toe ons almal saam met julle aan tafel beland, jou ma besluit dat ek ’n goeie vriendin vir jou sou wees. “Kyk tog mooi na my kind – sy is maar stillerig.”

Jy was egter meer by die huis as by die koshuis, en slegs danksy die feit dat ek jou kamermaat erf toe jy die volgende jaar terug huis toe trek, behou ons kontak. Ons gaan verken die berge rondom Bonnievale en later ook Tafelberg, en selfs Swellendam se uitmergelende vyfdag-staproete. Honneursjaar bied jou pa vir my ’n kamer in julle huis aan; jy beleef saam met my die drama rondom ’n liefde, verlowing en troureëlings waarmee my ouers glad nie ingenome is nie. Jy poseer saam met my vir foto’s voor jou pa my fashionably late in jou blink Anglia voor die kerk aflaai waar my bruidegom op my wag.

Vir ’n paar jaar is daar ’n stilte tussen ons toe ons paaie maar net nie lekker wou kruis nie. ’n Jong gesin en al die nuwighede, chaos en isolasie wat dit bring, oorvleuel moeilik met jóú lewe as beroepstudent.

Ironies genoeg is dit jou studies wat weer lewe in my ontnugterde gemoed blaas. Lang gesprekke oor literêre teorieë en filosofieë word later ook lang trane oor die eise van ’n huwelik wat soms te veel grense het. Toe ek een donker nag besluit om net my kar en die pad te vat, is jy daar met ’n koppie koffie en ’n kamer vol boeke oor die lessenaar gestrooi, ’n nuwe skildery, ’n hart wat my seer sou oorneem as jy kon.

hospitaal, 2011

Ek boek myself in vir nog ’n niersteenprosedure. Teen hierdie tyd weet ons al dis nie ’n groot ding nie, geen rede waarom my man se werksdag of kinders se aandroetine omvergegooi moet word ter wille van my nie. Die wortelkoek by die kafeteria vang my oog, maar helaas is dit nul per mond vir my tot ná die mediese kwessie aangespreek is.

Dis donker wanneer ek uiteindelik weer effens wakker word. Ek het vergeet van die tranerigheid wat my vang ná narkose, en in die stilte draai ek op my sy en raak weer weg. “Is jy wakker?” Jy het sowaar kom kuier! En wil weet of jy vir my iets kan bring. Wortelkoek by die kafeteria, asseblief! Ek probeer die lou kos eet wat ek langs my bed ontdek, en wonder later hoekom jy so lank wegbly.

Jy sit die boksie saggies op die trollie neer, net hard genoeg om my aandag te trek. Die kafeteria was al toe, en jy het al die pad dorp toe gery om vir my die grootste en lekkerste stuk wortelkoek óóit te koop. Terwyl ek jou warm hand vashou om dankie te sê, weet ek skielik nie hoe om vir jou soveel meer te sê nie …