Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

"Tydlose liefde"-kompetisie: Die plaas, 2011


Taki - 2011-08-24

Untitled Document

Liewe Koolkop

Ek is bly dat ek in die wydheid van ’n wakkerlê-nag my hand op jou kan sit en in jou slaap in kan praat: "Luister Kolie, ek hoor die reënpaddatjie roep. Dit gaan kom reën ..."

Dat jy dan jou groot arm oor my vou en ’n plekkie maak waar die droogte of niks my vir ’n rukkie lank kan traak nie.Jou plaasbakkie se kajuit is my "breekwater teen die lewe". Waar ek nes kan skrop met ’n koffiebottel en ’n broodjie. Waar ek jou kan ruik in die flenter trui wat opgefrommel lê tussen gereedskap en dit my dan rustig maak.

Ek verwonder my dat jy stilhou en wag wanneer ’n ma-tarentaal met haar kuikens oor die grondpad stap. Ek verwonder my oor lewe wanneer jy ’n lam se geboortevlies voor sy neusie weghaal. Ek sink in die sagte grond wanneer ons wegkruipertjie speel tussen rye en rye mielies wat ver verby ons koppe groei. Jou kameraadskap meet ek met die maat van goud wanneer ek vir jou ’n vuurvliegie in die gras wil wys of ’n piepklein skilpadjie wat ’n barshou stap of ’n krimpvarkie wat wurmpies soek langs die dam. Soms pluk jy vir my ’n blou of geel blommetjie in die veld. Dan sê jy niks. Ek sit dit in ’n glasie water en kyk die hele dag daarna.

Dankie dat jy stilletjies ’n geldjie in my beursie sit, dat jy vir my ’n sjokolade van die dorp af bring, my toemaak met ’n verekombers, sê my kos is lekker al is dit net gewoon, my help om ’n turksvydoring uit te haal ...

Met dieselfde ritme waarmee ons werk, kan ons ook dans. Jy draai my en gooi my en vang my en stuur my tot ver weg van hierdie wêreld af.

Dankie dat jy my lank gelede uitgelei het uit ’n lewe van verstrooidheid en teorie en my hier in die aarde langs jou kom plant het waar ek kaalvoet en ongekompliseerd kan leef. By jou het ek geleer om die lawaai van die wêreld te ignoreer en met die stilte om my en in my te leef. Om die aarde en alles wat daaruit voortkom, in te adem en daarna te luister.

Ek is bly dat jy my verdra, ook op dié dae wanneer die skaduwee in my heers en die onvolmaaktheid in my oorneem. Dat jy nie kwaad geword het toe ek ’n hoenderbeentjie skeef sluk en jy die hele nag in die hospitaal moes regop sit nie.

Jy het my geleer hoe om kragte aan te wend wat uiteindelik groter as ek sal wees en daardie kragte met agting te bejeën So kon ek en jy uit hierdie verganklikheid van mot en roes iets suiwer wat sal bly staan as die vreugdestippel van ons samesyn. Ek eer jou omdat jy kan aanhou en aanhou en soos olienhout bly staan teen elke verkeerde wind.

Dankie dat jy van my hou. Dit maak my baie sterk.

Met tydlose liefde,

Spikkel