Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Die senuweeagtige toestand van Suid Afrika: welvaartbelasting as deurslaggewende element in gesprekke oor ras vandag


Rothney Tshaka - 2011-08-23

Untitled Document

Oudaartsbiskop Desmond Tutu se toespraak het vanuit diverse sektore van ons land reaksie uitgelok. Daar is natuurlik ’n hele aantal sake wat hy in sy toespraak aangeraak het wat ewe belangrik is, maar dit is die idee van welvaartbelasting wat direk aan die geskiedenis van apartheid gekoppel word wat die meeste aandag kry. Gegewe ons spesifieke geskiedenis van rassisme wat in hierdie land onder wetlike apartheid vasgemaak is, kan dit natuurlik verwag word. Die persepsie bestaan egter dat apartheid uit die psige van Suid-Afrika uitgewis is met die onlangse onderhandelde skikking wat aanleiding gegee het tot die demokratiese Suid-Afrika. Die vraag kan dus gevra word, dat as dit die geval is, hoekom reageer diverse sektore van die samelewing telkens gelyktydig wanneer sake rondom ras en rassisme op die tafel kom? Meer spesifiek, hoekom reageer die verskillende rasgroepe op ’n voorspelbare manier as daar oor ras gepraat word?

Ons kan natuurlik baie tyd spandeer om oor ’n spesiale belasting vir wittes te praat, maar dit wil vir my voorkom of daar meer dringende sake is waaraan ons eers moet aandag gee, anders gaan ons nie verstaan hoekom ons in die eerste plek hierdie gesprekke vandag in ’n demokratiese Suid Afrika het nie.

Die saak wat vir my dieper lê, is dié van ras en rassisme waaraan daar nog ernstig aandag gegee sal moet word in Suid-Afrikaanse gesprekke. Dit is die grootste rede agter die huidige konsternasie wat deur ’n paar opmerkings in ons koerante veroorsaak is. Enige gesprek wat ’n konstruktiewe bydrae wil lewer moet ’n paar verwysingspunte aandui. Een van hierdie verwysingspunte moet die vraag wees of ons nog vandag oor ras in Suid-Afrika kan en mag praat. En as ons dan wel oor ras kan praat, hoe moet ons oor die saak praat? Wie bepaal die agenda vir so ’n gesprek oor ras? Dit is baie duidelik dat die saak uiters emosioneel is omdat dit ernstige selfondersoek van ons verwag. Hierdie uiters relevante vraag oor of ons oor ras kan praat, is irrelevant gemaak deur die onderhandelde skikking wat reeds genoem is. Tog bly dit belangrik in die proses waarin ons maniere soek om hierdie land ’n meer opregte land te maak, eerder as een wat ’n oordrewe bekommernis oor politiese korrektheid vertoon.

Die vraag of ons vandag in Suid-Afrika oor ras kan praat, het ontwikkel vanuit die feit dat die onderhandelde skikking hierdie land in die oë van die wêreld as ’n wonderwerk laat vertoon het. Vir baie nasies wat glo in die ideaal van ’n neoliberale stelsel van regering, is Suid-Afrika die voorbeeld van ’n beskaafde nasie in Afrika. As gevolg hiervan word daar van ons optrede verwag wat by hierdie ideaal pas. In die proses waarin hierdie ideaal uitgeleef word, steek hierdie nasie egter haar ware intensies en gevoelens weg sodat dit kan lyk of die standaard wat aan haar opgelê is, nageleef word. Op sy beste is hierdie fasade destruktief deurdat dit nie eg is nie. Met slegs die kleinste provokasie kom die werklike natuur na vore.

Verder moet ons onthou dat rassisme nog altyd deur mag in stand gehou is. Mag moet hier nie slegs as ekonomiese mag gesien word nie, alhoewel ekonomiese mag ’n belangrike krag is wat ons rondom ons kan raaksien. Net so belangrik is die kulturele mag wat rassisme in stand hou in hierdie sowel as vele ander samelewings waar ras ’n bepalende faktor gemaak is. Die rede waarom mense soos Tutu die gunstelinge van Westerse lande, en spesifiek wit mense in hierdie land, geword het, was juis dat hy en andere ’n oordrewe klem op versoening geplaas het. Die kwessie van geregtigheid was beskou as ’n saak wat met die verloop van tyd self aangespreek sou word. Die kwessies van die geïnternaliseerde witheid sowel as ’n geïnternaliseerde swart slawe-identiteit was dus nie met dieselfde ywer onder die vergrootglas geneem nie. Die geskiedenis het ons gewys dat dit nie per toeval was dat witheid bepaal het waar blankes kan leef, werk en speel, en terselftertyd kon bepaal waar swart mense mag leef, werk en speel nie. Tog lyk dit of baie maar net te gretig is om te ignoreer dat ons huidige realiteit nie maar bloot lukraak aan apartheid verbind is nie.

Die vrae rondom welvaartbelasting wat soveel konsternasie veroorsaak het, kan nie verstaan word sonder om te verstaan dat apartheid ’n strukturele en sistemiese verskynsel was nie. Dit is slegs as gevolg hiervan dat daar na wittes in die algemeen verwys word in die gesprek rondom ras. Die doel is nie om alle wit mense te etiketteer nie, maar dit is ’n manier om die strukturele aard van apartheid aan te dui, en hoe dit veroorsaak het dat baie wit mense vandag is waar hulle in Suid-Afrika is. Sommige wit mense kies doelbewus om nie hierdie aspek in die gesprek te erken nie. Hierdie doelbewuste keuse om in onkunde te bly oor die strukturele aard van apartheid kan gebeur omdat die idee van witheid nog nooit die objek van studie in hierdie land geword het nie. Alle ander sake moes bestudeer word, maar nie witheid nie, omdat dit die verstekposisie van elke progressiewe samelewing was en steeds is. Dit het die norm geword wat nie ondersoek word nie. Aan die anderkant is daar die idee van swartheid wat in die geskiedenis gelykgestel is aan alles wat agterlik en negatief is. Die persepsie dat swartheid gelykstaande is aan agterlikheid en onbevoegdheid bly tot vandag toe diep verskans in die psige van Suid-Afrika. Mens kan nie hierdie persepsie vermy nie. Terwyl witheid die onbestudeerde norm bly, bly swartheid dit wat ondergemiddeld is.

Baie wit mense is dit nie eens met Tutu se verwysing na ’n welvaartbelasting wat direk aan apartheid gekoppel word nie, omdat hy veronderstel is om van beter te weet as om hierdie land in ’n sogenaamde rasse-oorlog te dompel. Hulle is tans ongemaklik met hom omdat hy ’n versoener is, en versoening veronderstel is om slegs te gebeur wanneer swart mense hulle ongelukkige posisie aanvaar, waarvoor niemand behalwe die skeppingsorde te blameer is nie.

’n Ander belangrike vraag waarna ons reeds verwys het aan die einde van die eerste paragraaf, is die vraag of hulle wat aan die gesprek deelneem, as eens gelyke vennote beskou word. Beskou hulle hulleself as gelyke vennote? Duidelik nie. Ons het oornag die wonderkind van die wêreld geword. Ons het ’n konstitusie wat ons gevra word om te beskerm, met ons lewens indien dit nodig is. Die feit dat ons oornag hierdie wonderkind geword het, het baie van ons egter blind gemaak vir die feit dat die konstitusie ahistories is. Dit is ahistories deurdat daar gemaklik geïgnoreer word hoe dit gebeur het dat party besit wat hulle tans het. Dit ten spyte daarvan dat die geskiedenis vol is van voorbeelde van uitbuiting wat die kloof tussen ryk en arm veroorsaak het, en rede verskaf dat ons tot in sekere sin kan praat van swartheid as armoede en witheid as oorvloed. Dit is belangrik vir my dat die debat oor welvaartbeslasting eerstens met hierdie kwessies sal worstel.

18 August 2011


<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<