Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

“Wittes” betaal reeds ’n reuse welvaartsbelasting


Kallie Kriel - 2011-08-23

Untitled Document

 Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu se voorstel dat wittes welvaartsbelasting moet betaal, is net so sinloos soos om voor te stel dat ’n sokkerbal rond moet wees. Almal weet dat ’n sokkerbal se vorm reeds rond is en waarskynlik nog lank rond gaan bly. Die punt is dat “wittes” – om die rasse-term in Tutu se voorstel te gebruik – reeds buitensporig swaar dra aan wat gesien kan word as verskeie vorme van “welvaartsbelasting”.

Alhoewel die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se beskikbare statistiek nie inligting oor rasgroepe se bydraes bevat nie, kan die redelike afleiding uit ander data oor inkomstegroepe gemaak word dat wittes verantwoordelik is vir die betaling van meer as die helfte van alle persoonlike inkomstebelasting wat die staat tans invorder.

Suid-Afrika se totale bevolking van 50 miljoen mense word teenswoordig onderhou deur slegs sowat 5,2 miljoen mense wat persoonlike inkomstebelasting betaal. Sowat 31 persent van hierdie belastingbetalers, oftewel 1,6 miljoen mense, was in die 2009/2010- belastingjaar verantwoordelik vir die betaling van 81,2 persent van alle inkomstebelasting.

Die klein belastingbasis het tot gevolg dat Suid-Afrika se betreklik klein middelklas, waarvan ’n wesenlike deel wit is, tans oorbelas word om die land te dra. Om nou met ’n “welvaartsbelasting vir wittes” nóg ’n laaste goue eier uit hierdie gans te probeer druk, is nie volhoubaar nie. Die vuisvoos gans gaan nie onder hierdie omstandighede optimaal kan bydra tot verdere ekonomiese groei nie, tot nadeel van almal in die land.

Diegene wat wittes gereeld beskuldig dat hulle nie bydra tot die welstand van hulle landgenote nie, ignoreer doelbewus hoeveel van hierdie mense se belastinggeld deur die staat gebruik word om maatskaplike spandering te finansier. Altesaam 15,1 miljoen maatskaplike toelaes word op die oomblik maandeliks deur die staat betaal. In die 2011/2012-belastingjaar is begroot om sowat R97,6 miljard aan hierdie toelaes te spandeer. Daar is verder begroot om ’n bykomende R49,3 miljard aan ander vorme van sosiale ondersteuning te bestee. Verder ook nog R112,6 miljard aan openbare gesondheid, R121,9 miljard aan behuising en gemeenskapsinfrastruktuur en R189,5 miljard aan openbare onderwys. Alles tesame is dit sowat 59 persent van die staat se totale begroting. Die reuse-bedrae geld wat die staat hieraan spandeer, behoort ’n veel groter impak te hê as wat tans die geval is. Belastingbetalers en armes moet egter toekyk hoe baie van hierdie geld deur wanbestuur en korrupsie vermors word.

Swak dienslewering deur die staat het tot gevolg dat die druk op die klein groep belastingbetalers in die land nog verder vergroot word. Die groep betaal nou in baie gevalle “dubbel belasting” deurdat hulle genoop word om hulle tot privaat diensverskaffers te wend om onder meer kwaliteit mediese sorg en veiligheidsdienste te bekom. Bykomende skoolgeld word betaal om hoëgehalte-onderrig vir hulle kinders te verseker. Dan praat mens nog nie eens van die impak van BTW, munisipale belasting, brandstofheffings, voertuiglisensies, tolgelde, invoerbelasting, belasting op eiendomsoordragte, kapitaalwinsbelasting en ’n verskeidenheid ander belastings, soos vir die voorgestelde nasionale gesondheidsversekeringstelsel nie.

’n Gevallestudie wat Solidariteit se Navorsingsinstituut gedoen het, het bevind dat ’n individu wat R30 000 per maand verdien, onder normale omstandighede sowat die helfte van sy/haar inkomste aan onder meer inkomstebelasting, BTW, brandstofheffings, tolgeld, erfbelasting, mediese uitgawes en veiligheidsdienste spandeer. ’n Deursnee-lid van die groep van wie nou gevra word om “welvaartsbelasting” te betaal, kan dus vir ses maande van die jaar werk net om belasting en uitgawes wat normaalweg deur belasting gedek moes word, te betaal. Die tyd wat gewerk word om belasting te betaal, is in effek ook tyd wat mense werk om die staat se uitgawes ten bate van armes te help finansier.

Om te werk en belasting te betaal, sonder om self werklik voordeel uit ’n groot deel van daardie belasting te trek, is sekerlik een van die grootste versoeningsgebare wat enige mens kan maak. Om dus oorbelaste wittes se reuse-bydrae tot die staatskas te misken, speel in die hande van politieke ideoloë wat die mite in stand wil hou dat wittes onderdrukkers is wat geen bydrae tot die welstand van hulle landgenote lewer nie. Hierdie mite word as regverdiging misbruik om nuwe onregte te pleeg. Die feit dat Julius Malema kan sê wittes is kriminele, sonder dat president Zuma hom tot orde roep, is ’n kommerwekkende voorbeeld van die verdraaide denkraamwerk wat op hierdie mite teer.

Die feite wys dat minderhede soos Afrikaners en wittes meer as hulle deel in hierdie land doen. Ons kan nie meer stilbly wanneer pogings aangewend word om hierdie groepe se rol te misken, valse skuldgevoelens by hulle te kweek en hulle die slaansak van die samelewing te maak nie.

Ek wil afsluit met ’n boodskap aan aartsbiskop Tutu: Die posisie wat u as ’n morele stem in die ore van ’n groot deel van die land se bevolking beklee, vereis van u om – terwyl u nou in rasseterme praat – ook te begin om die Malemas van hierdie wêreld se kriminalisering van wittes stop te sit. ’n Goeie begin sal wees om erkenning te gee aan die reuse-bydrae wat wittes tot die staatskas en die land maak.

Kallie Kriel is uitvoerende hoof van AfriForum

 

  • ’n Verwerkte weergawe van hierdie artikel het op 21 Augustus in Rapport verskyn




<< Terug na indeksblad
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<