Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Vrye Woord-resensies

Kopwond: Genesing vir die dinge wat een mens aan ’n ander doen


Jeanette Ferreira - 2011-08-23

Kopwond: Vergete slagoffers van die Bosoorlog
Anthony Feinstein
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624052876
Prys: R170.95

Klik hier en koop Kopwond nou van Kalahari.net!

 

Feinstein, ’n mediese student, omseil etlike kere sy oproepinstruksies tydens die Grensoorlog. Terwyl hy in Parys, Frankryk, is, “deurdrenk van die sukses” (’n musiekprys vir strykers), haal die bruin koevert hom weer in. Hy oorweeg om (1) as uitgewekene in Parys te bly, (2) as gewetensbeswaarde terug te keer, maar besluit uiteindelik op (3), naamlik: gaan huis toe en kry dit agter die rug.

Ná net ses maande opleiding in psigiatrie bevind hy hom in Oshakati, waar hy getraumatiseerde dienspligtiges moet behandel in sy hoedanigheid as kopdokter. Inmiddels word hy ook, waar nodig, as mediese dokter ingespan. Sterkte. Soos die sieklik holruggeryde gesegde daar immers vermeld: niemand het gesê die oorlog gaan maklik wees nie.

Feinstein bied sy teks as niefiksie aan, wat dit inderdaad is. Maar dit sou in vele opsigte ’n roman kon wees. Hy stel dit in die voorwoord só: “Die dialoog in die boek is die produk van rekonstruksie, my onvolmaakte herinneringsvermoë en digterlike vryheid. [...] Waaraan egter nie gekarring is nie, is die gevalle self.” Sy geslypte satiriese vermoëns, sy selfspot, sy diepgewortelde weersin in die kleinburgerlikheid en agterlikheid van offisiere wat in hulle magsposisie die hoogste vorm van selfvervulling smaak, sy verstommende vermoë om tog skoonheid te herken terwyl die son sak, maak van hierdie teks een van mees veelkantiges wat al oor die Grensoorlog verskyn het. “Weg van die rook van die brandende krale sien ek die lug is helder blou. Dis perfek, sonder enige letsel, soos lasuursteen.” Daarteenoor dan ’n passasie soos die volgende: “Ek moet mooi kyk en versigtig trap, want die gebied lê besaai met menslike oorskot. As jou aandag verslap, of as jy jou kop oplig, loop jy straks die risiko om oor ’n stuk vleis te struikel wat alleen lê soos vergete afvalvleis wat van die slagter se blok af eenkant gegooi is. Ek kom af op ’n been wat afgeruk is en kyk of ek die bolyf kan sien, maar vind niks. My sintuie is aan die brand en my visie vlymskerp terwyl die wêreld in fokus kom.”

Binne hierdie konteks is dit redelik om te verwag dat ons hoofsaaklik te make het met sy walging in die oorlogaanstigters, in die besonder diegene wat daarvoor gesorg het dat hy hom in die Grensoorlog bevind: “Hier sit ek ingedruk agter sandmure, ’n gevangene van ’n ideologie waaraan ek nooit geglo het nie en waar ek die teiken is van ’n gevaarlike vyand teen wie ek geen haat koester nie.”

Maar Feinstein bied ook ’n deurleefde blik op oorlog in die algemeen, nie net die Grensoorlog nie. “Oorlog bring ’n intensiteit na die oomblik wat karakter blootlê met die presisie van ’n vivisektor.” In hierdie omstandighede kom hy in Tsandi – wat die uiterste toestande verteenwoordig het – ’n kaptein teë wat in ’n kinderstem tydens sy nagmerries sy angs uitroep. “Die moed wat hy op die slagveld aan die dag gelê het, is weg. Dis ontmasker deur slaap wat die hart van vrees blootlê sodat almal hulle daaraan kan vergaap.”

Feinstein het in sy middeljare eers ten volle begryp wat ’n las die kaptein gedra het. “Ons, sy manne, was meestal te jonk om te besef presies hoeveel verlore gaan wanneer iemand sterf. Hy het dit alte goed geweet. Hy het dit meer as ons gevrees, want hy het verstaan wat dit aan ander doen [...] ek het my hoed vir daardie dapper man afgehaal.”

Soos die meeste mans wat in die oorlog betrokke was, het Feinstein die begeerte gehad om lank daarna terug te gaan, veral na Tsandi, let wel, sonder sy gesin. Wat hy hier ervaar, bring daardie eienaardige verligting wat Feinstein soos ’n meester beskryf.

Op die lange duur is daar tog genesing vir die dinge wat een mens aan ’n ander doen. Maar dit neem tyd, en veral insig.