Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Tree of life bykans onvolgbaar


André Crous - 2011-08-19

Regisseur: Terrence Malick
Kamerawerk: Emmanuel Lubezki
Rolverdeling: Brad Pitt, Hunter McCracken, Jessica Chastain, Sean Penn
Looptyd: 135 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 12 Augustus 2011


Sommige mense noem dit die 2001: A Space Odyssey vir ’n nuwe generasie. Sommige mense sal dit ’n visuele gedig of poëtiese filmkuns noem. Ek dink nie sulke vergelykings is juis van pas nie. Terrence Malick se Tree of Life, wat die gesogte Goue Palm, die hooftoekenning, by vanjaar se Cannes-filmfees losgeslaan het, is pynlik om deur te sit, want die regisseur skeur sy storie aan flarde, tot by die punt waar dit gans onvolgbaar is, en doen sy bes om ons te verwar met ’n string tonele wat nooit duidelik op mekaar volg nie.

Ek het pas ’n opsomming van die verhaal gelees op die internet wat die film eintlik heel eenvoudig laat klink. Maar, helaas, dit is nie hoe dit voorkom wanneer jy voor die skerm sit en dit ervaar nie. Die storie self kon waarskynlik ’n wonderlike film gemaak het, maar Malick weier om die ervaring te vergemaklik en versnipper eerder sy eie storie met die hulp van nie minder nie as vyf (!) redigeerders, en as daar nou een duidelike geval was waar te veel kokke die bry bederf, dan is dit hierdie film.

Wat my so frustreer, is dat Malick duidelik ’n krag in die filmbedryf is, iemand wat enigiets kan skep wat hy wil, en dat hierdie talent selftoegediende wonde oplewer wanneer tonele rond en bont gegooi word en eenvoudig met musiek aan mekaar gelas word. Die verhaal verdrink in die mooi beelde en een van die beste klankbane in jare, want ons word oorweldig en kan nie vashou aan enigiets in die storielyn nie.

In die hede, ’n wêreld van glasbedekte wolkekrabbers, ontmoet ons ’n lewensmoeë argitek, Jack O'Brien (Sean Penn). Hy dink terug aan sy kinderjare in Waco, Texas, en hierdie kinderjare vorm die grootste deel van die film. As jong seun word hy uitmuntend vertolk deur Hunter McCracken. Hy is die oudste van drie broers, en hul pa, ’n fabriekswerker, ontdekker, en kerkorrelis, maak hulle eers met liefde en dan met sy vuis groot. Jack se ma sê byna nooit ’n woord nie, behalwe in die immerteenwoordige stemwerk op die klankbaan, waarvan daar meer is as werklike woorde tussen karakters.

Die film is ’n mengsel van insidente, dikwels verfilm vanuit vreemde hoeke, metaforiese uitbeeldings van episodes, soos die wonderlike toneel waarin Jack gebore word, en tonele vanaf die oerknal tot by die dinosaurusse. In een van die eerste tonele sien ons Jack se ouers wat op een of ander stadium kennis neem van die dood van een van hul seuns, en hierdie feit word herhaal in ’n telefoongesprek tussen die volwasse Jack en sy pa. Maar, glo dit of nie, dit word nooit duidelik gemaak watter een van Jack se twee broers gesterf het nie, en tog is dit die gebeurtenis waardeur ons die gesin ontmoet.

Só ’n gebrek aan basiese inligting gaan veel verder en benadeel die film vreeslik. Ons leer Jack se pa nooit ken nie, en sy optrede, wat op ’n stadium vreesaanjaend word, word nie verduidelik nie. Ons kan aflei dat hy gefrustreerd is in sy eie lewe, maar die film is huiwerig om enigiets konkreets vir ons te bied. Ons weet ook bitter min van die volwasse Jack, behalwe dat hy ’n argitek is en nie kan glimlag nie. Hy dwaal op sy eie rond in ’n wêreld wat ver verwyder is van die welige groen van sy kinderjare. Die tonele met Sean Penn as Jack in die hede skiet ver te kort.

Tree of Life bevat baie skote wat geneem is vanaf ’n lae posisie, sodat die kamera opkyk na karakters, of na plafonne, gewoonlik terwyl dit vorentoe beweeg. Sulke skote kan interessant wees indien dit ’n doel het, of indien dit meer spaarsamig gebruik word, maar in hierdie geval word die film bloot selfbewus en dien dit geen ander doel as om raakgesien te word nie. Daar is ook nabyskote van ligte, skote van water wat vloei, van glas en natuurlik van bome. Een skoot wat my wel verstom het, omdat dit lyk soos niks wat ek al ooit vantevore gesien het nie, is met ’n omgekeerde kamera geneem en wys die skaduwees van kinders wat speel in die pad (’n beeld uit dié toneel verskyn in hierdie resensie), hul skaduwees veel groter as hul lywe, wat byna heeltemal uit die skoot gesny is.

Die film stuur af op ’n finale toneel wat herinner aan dié van 2001: A Space Odyssey, hoewel dit meer menslik is en eintlik baie meer potensiaal het vir empatie vanaf die kyker. Die toneel bewys wat moontlik is in die filmkuns, anders as in ander kunsvorme, omdat dit die onmoontlike moontlik maak, maar omdat dit die laaste toneel is van ’n film waarvoor jy Job se geduld moet hê, sal baie kykers waarskynlik al lankal opgehou het om om te gee.

Malick het duidelik genoeg baie gehad om mee te werk en hy kon ’n wonderlike film geskep het. Die eindproduk is egter pynlik en een van die mees selfbewuste kunswerke wat ek al ooit gesien het. Enigiemand wat nie aandring op ’n duidelike storielyn nie, mag dalk van hierdie film hou, maar vir my kon die skoonheid van die beelde nie opmaak vir die onnodig fragmentariese uitbeelding van ’n heel eenvoudige storie nie. En moenie eens waag om die punt te verdedig dat dit alles "noodwendig onvolledige herinneringe" is nie, want dit sal onsin wees.