Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Tematiese fisionomie en die waardering van kuns – Hendrik Hofmeyr lewer kommentaar


Hendrik Hofmeyr - 2011-08-17

Hendrik Hofmeyr reageer op die artikel “Tematiese fisionomie skep toegang tot drie uiteenlopende 20ste-eeuse komposisies” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Bertha Spies.

In die eerste plek wil ek graag my dank betuig teenoor Bertha Spies vir ’n uitstekende artikel. Ek is dit roerend eens met haar dat melodie vir die meeste musiekliefhebbers die primêre toegangsvlak tot musiek verteenwoordig, en dat betekenis in musiek dus op geen ander wyse méér direk oorgedra kan word as deur die melodiese en tematiese diskoers nie. Sy demonstreer ook oortuigend dat ontleding van dié aspek “kan help om verbande te trek tussen tegniese ontleding, sosiopsigologiese aangeleenthede en die vertolking van spesifieke komposisies”.

Haar geskrif is in ’n groot mate ’n betoog teen “die aanklag van eksklusiwiteit en hiërargiese onderskeiding” waarmee voorstanders van die sogenaamde “nuwe” musikologie, met hulle dogmatiese fokus op die sosiologiese, neig om tradisionele musiekteoretiese ontleding af te maak as verouderd of irrelevant. Die verdedigende toon van haar stelling is nie verbasend nie, aangesien die “nuwe” musikoloë in ’n groot mate die veld hier ter plaatse gekaap het. Die onberekenbare skade wat hulle benadering aan die wese van die dissipline aanrig deur dit te reduseer tot ’n vertakking van die sosiale wetenskappe kan gesien word in die probleme wat universiteite reeds ondervind om poste in musiekteorie te vul. Nagraadse studente in musiek, met geen kwalifikasies in sosiologie nie, word by van ons voorste universiteite gedwing om hulself tot die sosiologiese benadering te beperk, met die algemene gevolg dat hulle nie net swak sosiologiese navorsing  produseer nie, maar dat daar geen verdieping van hul musiekteoretiese kennis plaasvind nie. Natuurlik is sosiale konteks een van die aspekte van musiek wat verdien om ondersoek te word, maar waar dit geskied sonder (of ten koste van) ’n grondige begrip van wat in die musiek plaasvind, raak dit bloot ’n oppervlakkige skaakspel waar subjektiwiteit en ideologiese posisionering die enigste kriteria is. Om ’n voorbeeld te noem: volgens dié benadering sou Beethoven se onbenullige geleentheidstuk Wellington se Oorwinning (ook bekend as die Waterloo Simfonie) sy mees “relevante”, en dus sy vernaamste, orkeswerk wees. Dit is slegs deur ’n diepgaande studie van die musiek self, van die tipe wat Bertha bepleit, dat die veel groter “relevansie”, ook uit ’n sosiologiese oogpunt, van sy ander simfonieë blootgelê kan word. 

Dit is ongetwyfeld waar dat musiekteorie, net soos musieksosiologie, in die afgelope dekades dikwels uiters ontoeganklik en onnodig serebraal bedryf is, met min of geen verwysing na dit wat die komponis probeer oordra of wat die luisteraar ervaar nie. Bertha se betoog, dat die studie van melodiese tematiek, as een van die mees toeganklike vlakke van musikale belewenis, ’n betekenisvolle rol kan speel in “die rehabilitasie van ’n musiekestetika wat nie met eksklusiewe teoretiese kennis en klasvooroordele geassosieer word nie”, is ’n geldige een, en vir my as komponis uiters verblydend. Vele 20ste-eeuse komponiste het natuurlik ook melodie verdiskonteer as “té toeganklik”, maar daar kan met veiligheid gesê word dat hulle musiek, wat in die akademiese wêreld van die laat 20ste eeu as die hoofstroom van die modernisme behandel en afgedwing is (waarskynlik juis omdat dit hom so geredelik leen tot steriele ontleding), gedoem is om geleidelik minder en minder belangrik geag te word. Groot getalle van dié komponiste, vanaf Penderecki tot ons eie Stefans Grové, Roelof Temmingh en Peter Klatzow, het self reeds hulle antimelodiese estetiese oortuigings, wat hulle ook destyds op hulle studente afgedwing het, verloën en “teruggekeer” na ’n melodie-gedrewe styl. Mens kan maar net hoop dat dít wat mense lief maak vir musiek, uiteindelik vir hulle meer belangrik was as om te voel dat hulle aan die voorpunt van die jongste intellektuele modegier is. En hoop dat die “nuwe” musikoloë eendag tot soortgelyke insigte sal kom …

Maar moenie asem ophou nie! ’n Paar jaar gelede het ek by ’n musikologiese kongres my beswaar teenoor een van die groot kokkedore van die “nuwe” musikologie gelug dat dié beweging, wat aanspraak maak daarop dat hy alle “grand narratives” met agterdog bejeën, homself nou as dié “grand narrative” voordoen. Sy antwoord: “I suppose you’re right, but do you expect me to knock the movement that provided me with a career?”

Nou ja, in ’n wêreld waar jy ’n loopbaan kan bou op dié tipe flagrante opportunisme, is ’n artikel soos Bertha s’n, wat met eerlikheid en insig na die musiek self  kyk, reeds ietwat van ’n rariteit, en een wat des te meer welkom is.


<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<