Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Onderhoude | Interviews

Wim Vorster oor Kuifman en die tekort aan geraamtes in sy kas


Steyn du Toit - 2011-08-17

Untitled Document

Kuifman, deur Wim Vorster, word beskryf as ’n “kamp komedie” en vertel Wim se eie verhaal vanaf geboorte deur puberteit en die uiteindelike vrede maak met gaywees. Hy gesels met Steyn du Toit oor waar hy vandaan kom, die betekenis van die woord “kuifman”, en oor die tekort aan geraamtes in sy kas.

Waar en hoe is Kuifman gebore – hoe het die skryfproses gewerk?

Met die intrapslag by Kosie House of Theatre was my opdrag om ’n teks vir die Mr Gay South Africa pageant te skryf omdat Kosie dit vervaardig, ontwerp en geregisseer het. Die organiseerders van die geleentheid – Coenie Kukkuk & John O’neil – was gaande oor die resultaat. Hulle het ook die organisasie van die jaarlikse Pink Loerie Mardi Gras te Knysna oorgeneem en gevra dat ons ’n produksie bring op voorwaarde dat ek die teks skryf. Kosie het al my voorstelle verwerp en aangedring daarop dat ek my eie storie vertel, want hy reken ouer mense sal aanklank vind daarby en jonger mense sal insig kry en dit kan dalk hul paaie gelyker maak. Vir my was dit iets van ’n Outobiografie van ’n Onbekende,maar die hele vertelling, ten spyte van ernstige en soms selfs tragiese ondertone, is baie humoristies. Die skryfwerk het gevloei. Daar is soveel om te vertel, ek moes wreed redigeer.

Hoekom die titel Kuifman?

Die titel het ontstaan uit ’n gesprek waartydens ek grappenderwys gesê het: “Is dit nou Groet die Grotmoffie?” Die oorspronklike werk is uiteraard Defending the Caveman en alhoewel die stukke geen betrekking op mekaar het nie, was Kuifman die noodwendige opstuur-gevolg. Des te meer omdat ek jare al heeltemal bles is, maar op skool en universiteit bekend was vir my welige kuif, Boonop is ek harig, en hare as ’n verskynsel – vermindering en verdwying – word metafoor vir my eie ontwikkeling en gee aanleiding tot die snaaksste oomblikke in die aanbieding.

Watter interessante byname het jy al gehad?

Byname? Ma het my van geboorte af Wim genoem. Vir die familie was ek Wimpie. My susters sê Wimmie. Op hoërskool het ek bekend gestaan as Kwas, waaroor ek nie hier gaan uitbrei nie, want dis belangrik in Kuifman. Jannie Gildenhuys het my Wimpel genoem en destyds het ek ’n eenmanvertoning gedoen genaamd Wimpelwerk. Ek het byname vir myself, maar dit is ook vervat in my teks. Pa was ’n stoere Nasionalis en het die spotnaam Sap gedra. Van die seuns het my soms Sap genoem. Almal noem my nou Wim, tot my suster Debbie se kleinkinders. Dis W-I-M, nie o-o-m nie.

In 'n neutedop, waaroor gaan Kuifman?

Die teks vertel my eie verhaal vanaf geboorte deur puberteit en die uiteindelike vrede maak met gaywees en die feit dat sodra jy jouself aanvaar, ander jou ook aanvaar. Hierbinne lê vele wedervaringe: seksueel, emosioneel en geestelik.

Dit word as 'n "kamp komedie" beskryf – wat beteken dit?

’n Belangrike deel van my ontwikkeling het gespruit uit die weermag en uiteindelik die Grensoorlog. Ons kon nie besluit oor ’n plakkaatontwerp nie – Kosie het eers ’n hofnar gebruik. Toe stel ek voor ons moet my afneem in die “browns” wat ek oa in die produksie dra, dit plaas voor ’n weermagtent en dan praat van ’n kamp komedie. Kamp in die sin van weermagkamp, uitkamp en kamp as styl en die verwysing na moffies as kamp. Dan ook my eie poging(s) om minder kamp en meer butch te wees. Elize Cawood was die eerste een wat ek gehoor praat het van iemand as “so kamp soos ’n ry tente”.

Is hierdie 'n "gay"-stuk? Wie is die teikengehoor?

Elke mens op aarde het Sturm und Drang, angst et al tydens die jeug en jong volwassenheid (baie nog tot laat in hulle jare). Om te aanvaar dat ek gay is en alles wat daarmee gepaard gaan, maak my nie uniek nie. Dit maak my deel van die mensdom. Almal vind aanklank by die stuk. Die straight mense wat dit bywoon, geniet dit vreeslik en huil ook lekker. Volgens die verslaggewer Martjie Roos het dit vir haar heeltemal nuwe perspektief gebring. Maar dis erg rof en onbeskof, want ek beskryf baie dinge in besonderhede, en dis nie geskik vir minderjariges nie.

Hoe belangrik is dit vir jou identiteit om in kontak te bly met die plek waar jy gebore is en waar jy vandaan kom?

Ek is op 6 September 1949 in Kimberley gebore en het op Warrenton skoolgegaan. Na my pa se dood was ek net een keer daar. Ek mis die dorp glad nie, maar Witrand, ons plaas, is vlak onder my vel, diep in my hart, voorop in my herinneringe, en ek begin en eindig Kuifman daarmee. Ten spyte van my stadsmaniere en teaterbedonnerdheid is ek plaasmof. Hoe verlang ek na die diere, die landerye, die kweper – en granaatlaning, my Vaalrivier waar my ouers my geleer het dis doodnormaal om naak te wees.

Na Kuifman, hoeveel geraamtes is daar nog in jou kas wat nog moet uit?

Sjoe, ek is der jare al uit die kas en met Waterman het ek behoorlik die deur oopgeskop vir talle ander geraamtes, maar daar is nog baie stories wat moet en sal vertel word. Daar kan ’n opvolg vir Kuifman kom.

Is jy "happy"?

Geluk is vlietend. Happy wees is oomblikke. Ek is “content”. Rustig, tevrede. Interessant genoeg is/was daar ’n spoorwegstasie tussen Warrenton en Kimberley genaamd Content. O, ek wil steeds die wêreld verander en alle vooroordeel en onregverdigheid uitdelg, maar in my eie menswees is ek gerieflik. Sal nie omgee vir iemand wat ek kan “cuddle” nie, maar ek het ’n teddiebeer en die wonderlikste kat op die hele wêreld se aarde: Mevrou Conradie. My vriende vra eers hoe dit met Mevrou Conradie gaan voor hulle oor my vra.

Waar kan ons vir Kuifman eersdaags sien?

Kuifman is te sien tydens die Gariepkunstefees in Kimberley by Boys’ High (hoe snaaks!) op 2 September om 15:00 en 3 September om 16:00. Dan op 10 September om 19:00 in die Pierneefteater, Pretoria en weer op 21 en 22 Oktober om 20:00 in die Basement van die Jo’burg ProMusica te Roodepoort. Ons kan optree net waar en wanneer ons in aanvraag is en hoop om gehore landwyd te laat lag.