Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Die slagding


Nini Bennett - 2011-08-16

“Hierdie slagdingetjie bêre ek vir Kersfees,” sê mevroudominee en lig die kisvrieskas se deksel.

In die skemerlig van die garage kyk ek na die skapie, verwerk en verseël in groot snitte. Daar is ysdonsies op die plastiek.

“Ek het hom gistermiddag ingesit,” en sy druk die deksel ingenome toe. “Een van my pasiënte – nou ’n goeie kennis van my – het dit gebring. Jy weet, toe my man nog in die bediening was, het die gemeente ons gereeld bederf. Ag, noem maar op: hoender, skaap, biltong, vrugte ...” Sy sug en ek kyk na ’n spinnerak teen die enkele venster, dankbaar dat ek my oë afgewend hou: dit is die derde vrieskas, die ander twee in die kombuis is reeds stampvol. Van die vleis daarin is spierwit. Maar sy weier om iets weg te gooi.

“Eintlik bêre ek net kos vir die feesgety hiérin”, vervolg sy. Vir ’n oomblik word die spinnerak silwer: ’n poeierige ligstraal, soos dié van ’n projektor, val deur die venster.

Dan verdwyn die son weer agter ’n wolk.

“Dit is positief,” het Wanda die tuisswangerskaptoets se brosjure na my uitgehou. “Nege-en-negentig persent seker.”

Daar was ’n plakkaat van Celine Dion en Barbara Streisand teen die koshuiskamer se muur. Higher Ground. En ander, ou Prestik-kolle

“Hoeveel weke?” het ek huiwerig gevra.

“Ek dink so ses.” 

In die agtergrond het ’n meisie skerp gelag.

Ek en mevroudominee drink tee uit Royal Albert-koppies. Sy het dit jare gelede aangeskaf: “Vir die Here gee jy net jou beste.” Hoeveel gemeentelede het – soos die oorlede dominee telkens ’n nuwe beroep aanvaar het – ook uit my koppie gedrink?

Die gordyne is diggetrek teen die hitte. Ek kyk weer na die portret bo die staanhorlosie: hy was ’n waardige man met sy waaksame grys oë en Hitlersnorretjie. Onder die staanhorlosie, op die buffet, is die familiefoto’s ook uitgestal. Ek herken ’n jonger Wanda wat oopgesig met tandedraadjies lag. Langs die foto’s lê daar – terloops neergesit – ’n pamflet oor Voltaren-tablette, en bo-op, ’n vergrootglas.

“My oupa het altyd sy swart toga en wit das spesiaal gaan aantrek vir foto’s,” het Wanda my een dag vertel.

Mevroudominee sluk versigtig aan haar tee. Ons praat nooit veel nie, tog weet ek sy is baie geheg aan my. Ek luister altyd aandagtig na haar stories.

Die hoogtepunt van mevroudominee se week is as sy Dinsdae pastorale werk by Pretoria-Oos Hospitaal doen. Sy is die hoof pastorale werker.

Met ’n pak traktaatjies stap sy deur die lang, blink gange. Die traktaatjies begin al vergeel.

“Ek is mevroudominee Wolmarans,” kondig sy in ’n welluidende stem aan; loop van bed tot bed met haar Bybel in die wit leeromhulsel. Sy is altyd geklee in ’n snyerspakkie. Maandae laat sy haar hare set.

Die boodskap van haar sterwensbegeleiding is eenvoudig: maak vrede met die Here Jesus.

Mevroudominee doen pastorale werk vir die Here, maar as haar R300-tjekkie laat is, bel sy die hospitaal.

Die ander hoogtepunte is die Rapport Sondae en die Huisgenootelke week. Bedags luister sy rsg of gaan winkels toe. Sy soek altyd die winskopies uit: Special Value Offer. Buy one get one free. Ek help haar met die inkopies – lysie en calculator in die hand – dat sy nie verneuk word met die betaalslag nie. Of só dink sy. Maar met die tyd het my belangstelling in haar obsessies begin groei. Sou dit ’n vrees wees vir vrot, of verlies – die drie vrieskaste, die twee yskaste en die knaende onrus dat daar nie genoeg kruideniersware in die huis is nie? Sy koop twee of meer van die meeste afgemerkte items en bêre dit sorgvuldig in die kombuis se ingeboude kaste.

Ek tel tien kartonne langlewe melk, dertig toiletrolle en sewe blikke koffie.

Mevroudominee begin plek maak vir die surplus in die slaapkamers se hangkaste. Alle oorskietkos begin sy te vries, al is dit ’n eetlepel rys.

Een dag gaan ek en Wanda deur die huis, soos op ’n skattejag: in die drie jaar wat haar oupa reeds dood is, bly sy hartpille, ou preke, lekkers en gebruikte sakdoeke in die lessenaarlaaie lê. Ons ontdek ’n sakkie Cool Aid-koeldrank wat 10c kos. In een vrieskas is pakkies vleis, almal met 1992- etikette op, vasgeys in ’n minatuur-gletser, en ander bevrore kos, onherkenbaar verkleur en met die tyd in vreemde vorms gedruk.

Móét daar altyd iets ontbreek, het ek begin wonder, dat elke dag se inkopies ’n soort sending geword het? Of is dit reeds ’n ritueel?

Ek sit my lepel in die piering neer. Bo die eentonige getik van die staanhorlosie klink ’n ander geluid op: die gespit van die tuinman buite.

Mevroudominee staan op en gaan skep vir hom mieliegruis en sopbene in ’n blikbord, want “swartmense hou van mielies.”

Ek sê niks van die baie sakke wit rys in haar kaste nie.

“Hoekom ’n blikbord en nie ’n gewone bord nie?” het ek al gevra.

“Want hy eet so baie,” het sy teëgewerp. Ek het geswyg. Teen mevroudominee kan niemand ’n argument voer nie: jy loop jou telkens vas teen dieselfde blinde, wit muur.

“Jy moet my help, jou pa is ’n apteker,” het Wanda gesmeek en die tissue in haar palm vasgeklem.

“Het jy die morning after pill probeer?”

“Nee. Maar die ander girls in die koshuis sê malariapille werk ook.”

“Het jy dit gedrink?”

“Ek het nie daarvan nie.” 

“Jy weet aborsie is nou wettig,” het ek gewaag. Sy het geskok na my gekyk en haar gesig vertrek; sy het ’n twintig-voor-vier mondjie, het dit deur my gedagtes gegaan.

“Maar dis dan moord!”

“En malariapille ... wat is die verskil?” 

Sy het weer begin snik.

“Wanda,” het ek nader geleun, “besef jy die gevolge – jy sit hier in Jasmyn-koshuis, pas tweede jaar, jou ouers bly op Waterval-Boven en jou ouma ...”

“My ouma!” Sy het lelik gelag. “Sy sal my onterf. Sy dreig ons gereeld af met haar testament – daar’s kastig altyd ’n 'nuwe' een op pad. O Here, ek sal die swartskaap in die familie word; my pa sal ophou betaal vir my studies ...”

“Baie vroue gaan deesdae vir aborsies.” Ek het opgekyk. Haar sproete was nou roesbruin en baie, want sy was bleek. 

“Ek het gehoor hulle druk iets in jou op en kap die fetus stukkend.”

“ELITE” One Step HCG Pregnancy Test
 het ek oor en oor die brosjure se opskrif gelees maar kon niks registreer nie. In my geestesoog, bo die staanhorlosie, het die ou dominee se oë wakend op die familieportette gerus, maar nou het hy direk na my gekyk. Sy oë het my vermaan: ek sal in my graf omdraai. Maar ook: spaar haar dit, die laaste bietjie tyd wat vir haar uitgespaar is.

Ek het my kop geskud, in my gedagtes met die predikant geredeneer: ek sal dit doen vir Wanda, want sy is my beste vriendin.

Sy oë het skielik hard geword en na die Familiebybel, langs die foto’s, gedraai. Lees, het hy my uit die koperraam beveel.

Ek het die Bybel oopgeslaan en na die inskripsies voor in gekyk. IN DIE LEWE VAN DIE VADER DIE MOEDER DIE KINDERS. Die staanhorlosie se getik het duideliker geword.

“Wat dink jy?” het Wanda dringend gevra. 

Ek het die brosjure in ’n kwart gevou, die papier se randte met my vingernael skerp gestryk. “Ek sal die malariapille kry.”

“Dankie.” Sy was verlig: “Dan is dit darem nie so ... direk nie.”

Die tuinman klap sy hande, hou hulle bak vooruit: mevroudominee oorhandig die blikbord. Dan gee sy die plastieklepel. Hy sê verleë dankie en verdwyn in die groot tuin, iewers na ’n skadukol.

Sy maak die yskaste oop en krap van die oorskietkos uit in papierborde, wat sy met Glad wrap verseël. “Hy kan hierdie maar saamvat huis toe,” hoor ek haar in die kombuis, “want hulle is baie wat moet eet.” 

Wanda was besig om ’n kampusduif broodkrummels te voer toe sy my vertel het: Die swart sendelinge moes altyd agterom loop, hulle mag nie by die voordeur geklop het nie. En hulle het hulle koffie in die kombuis, en uit blikbekers gedrink.

Een maal elke ses weke help mevroudominee kook aan ’n liefdesmaal vir die gemeente. Sy hang uit: rangskik blomme, bestudeer nuwe resepte en besoek CUM-boekwinkel.

Die opwinding put haar vinnig uit. Haar bifocals laat haar oë traan en soms lees sy met ’n vergrootglas.

As ons terugkom van die winkels, is sy uitasem.

Maar ek deel nie in die kerk se liefdesmaal nie – ek ys by die gedagte aan die kos wat gekook, gevries, ontdooi en weer opgewarm word.

Sy spreek die NG-Dames toe oor die gevare van die New Age-beweging. 

Ná die liefdesmaal vat hulle hande en bid. Dan bespreek hulle kwetterend die nuwe Finesse.

Die Pretoriase Moord-en-roof-eenheid krap kop oor die grusame dood van ’n 43-jarige man wat dié week met ’n ongewone skietwond in sy kop in ’n kisvrieskas gevind is.

Die sleutel tot die oplossing van dié moord lê waarskynlik in die hande van ’n geheimsinnige Amerikaanse burger wat twee jaar saam met die oorledene gebly het, en omstreeks die tyd toe die moord gepleeg is, verdwyn het
.

Ek ril, blaai die Beeld om na die volgende bladsy.

Mevroudominee werskaf in die kombuis. Sou sy wonder wat om voor te sit vir môre, synde dit Goeie Vrydag is?

Dit is reeds twee weke sedert ek die malariapille vir Wanda gegee het. Te laat vir Ovral; enige ordentlike studenteslet weet dat sy binne 72 uur ná gemeenskap ’n draai by die kampusdokter kan gaan maak. Soos kondome word Ovral gratis uitgedeel, in die spreekkamer, daagliks.

Maar Wanda het net ’n ligte koors ontwikkel; van die “swaar periode” was nog geen teken nie. Sy het klasse en toetse begin mis en lusteloos op haar bed bly lê, haar arms bekermend om haar kussing.

Ek het versigtig by my pa begin uitvis en die naam van die pil neergeskryf dat ek dit nie vergeet nie.

Dit was nie moeilik om die medikasie in die hande te kry nie: in my pa se apteek, in die stoorkamer, het ek gereeld gehelp met voorraadopname. 
Toe is ek na Wanda toe. Dit was gisteroggend.

“Ek het nie geweet waar my ma die volgende traktaatjie gaan wegsteek nie; in my kosblik, my skooltas, tussen my skoon wasgoed ...?” Sy het die kussing soos ’n mens vasgehou.

“Ek het nooit pak gekry nie. Maar altyd geweet die teksverse kom – oor straf en die ewige vuur.” 

Ek het geknik, gedink hoe ek die pil met ’n stamper in die vysel verpoeier het: skaars ’n halwe teelepel vol toe ek dit in die glasbotteltjie gooi, maar genoeg, genoeg om te termineer. Vreemd watter offers liefde van ’n mens kan eis. Want Wanda was die enigste suiwer vriendskap wat ek ooit gehad het. Daar was krag in my hand – ek het die stamper so styf vasgehou dat my vingers gepyn het; eers toe ek die botteltjie in my sak druk, het my hand gebewe: abortus provocatus. Ek het weer mevroudominee se hande – ligpers van die ouderdomsvlekke – op die kisvrieskas in die skemer garage onthou.

Ek het die gin en gonic begin skink; ’n bitter drank, en Wanda sou niks vermoed nie.

“As my oupa oor die oordeel gepraat het, het hy sy arms gelig en met die swart toga het hy gelyk soos ’n vlermuis wat wil opstyg. Hy het sy vinger na die gemeente gewys: die duiwel loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind! Dit het gevoel of hy net met my praat. Die kansel was sy troon en hy het dreigend die trappies op en af geklim. Ek het begin nagmerries kry en kon nie ophou bad nie. Dit was Jesus se bloed. Ek het bed nat gemaak tot in standerd drie. Toe begin ek menstrueer en my ma sê dis vuil en lelik en mens praat nie daaroor nie. Die volgende dag het daar ’n pakkie pads op my bed gelê.”
Ek het Wanda haar glas gegee. Dit was ’n sterk dop. Ek het my kans afgewag.

“My ma het nes my ouma geword. Maar later – ek was so op hoërskool – het sy begin drink en OD’s vat. Sy het haar whisky in die dak se luik weggesteek, die laaste plek waar die familie sou soek. En hét hulle nie gesoek nie! Deesdae is sy orraait. Sy gaan Sondae A.G.S-kerk toe. Sy val in die Gees.” 

Wanda het lank stilgebly. Dit is nou agt weke, het ek gedink. Sou sy steeds vurig bly hoop dat die malariapille gaan werk – het sy begin uitsien na daardie lam sensasie in haar onderlyf, die wete dit kom uit? Die afwagting en vrees as sy toilet toe gaan en haar broekie speur vir ’n eerste, huiwerige bloedkolletjie? Of sou dit uit die bloute wees, en baie bloed; kraampyne, dalk? 

Laat sy dan glo dit is die malariapille en nie “direk” nie. Dit sou makliker só wees.

Wanda het ’n draai gaan loop en ek het my kans waargeneem. Die fyngedrukte Misoprostol het deelgeword van haar gin en tonic. Sy sou nie die effense dynserigheid in die glas opmerk nie.

Die vrieskas is na die lykshuis geneem sodat die lyk daar verwyder kon word. Volgens kapt. Danie Coertzen van die Pretoriase moord-en-roofeenheid sal dit eers teen Maandag moontlik wees om ’n lykskouing te doen, omdat die lyk nog nie heeltemal ontvries het nie.


Ek vou die Beeld toe en sit dit op die koffietafel neer. My keel voel dik.

Ek dink, ek dink die dood skuil in mevroudominee se vrieskas.

“Ek wou ook wánted gevoel het,” het Wanda gesê en my met groot bruin oë aangekyk. Sy het haar glas vinnig leeg gedrink.

Ek vat die teekoppies kombuis toe en groet mevroudominee. In ’n AMC-pot sidder ’n stuk stowevleis in sy eie vet. Sy sal môre seker die erediens bywoon voor sy die tafel vir haarself dek en eet.

Toe mevroudominee Sondagmiddag die voordeur oopmaak, weet ek daar is fout.

Haar katoenrok is gekreukel. Haar borste hang in die middel van haar maag. Maar dit is die treurigheid in haar oë, agter die halfmane van haar bifokale bril.

Woordeloos volg ek haar na die sitkamer. Die radio speel: die oggenddiens. Sy was nie vanoggend kerk toe nie.

“My vrieskas het gebreek,” sê sy en lyk meteens baie moeg. Of dalk het sy ouer geword.

“Die een in die garage?”

“Ja.”

Ek weet nie wat om te sê nie. Toe ruik ek dit. Die slagding. 

Mevroudominee gaan sit. “Vanoggend het die hospitaal ook gebel. Wandatjie is baie siek. Vrydag het sy aanmekaar opgegooi. Sy het laas nag twee keer flou geword.”

“Wat is fout?” vra ek sag.

“Die ginekoloog is by haar.” Sy begin huil. Skielik hang die reuk die hele sitkamer vol. Ek dink hoe die slagding nou moet lyk: seker sag en warm van die hitte, sonder ysdonsies, maar druipend in bleek bloed en water.

“Ek wou jou gevra het,” en sy draai haar kop stadig na my, “dink jy my slagdingetjie is ...”

Uit die koperraam, bo die staanhorlosie, kyk die ou predikant na die stilte. Tik-tak-tik-tak.

“Nee,” antwoord ek, my oë afgewend na die diggettrekte gordyn, “nee, ek dink hy is nou net góéd ryp.”

 

  • Uit die LitNet-argief